top of page

Dankbaar

Dit is nou dag twee sonder WiFi in ons huis, en die frustrasievlak loop vinnig al hoër. “Hoe kry ‘n mens iets gedoen sonder WiFi?” dink ek by myself terwyl ek vir ‘n slag geforseer word om op ander dinge buiten die skerms in my lewe te fokus. Hoe lyk jou #firstworldproblems?

Die meeste van ons kla weliswaar met die witbrood onder die arm; of die bottel goeie rooiwyn, of die sportnutsvoertuig, of ons belastinggeldjies wat ons teruggekry het.

As ek hoor van die struggle van ‘n boer wat deur die bankbestuurder die deur gewys is, of ‘n enkelma wat kop bo water probeer hou, of die vrou wat in my huis werk wat met R 100 ‘n week kan deursien, dan kan ek en jy net sug; soos in Romeine 8, wanneer die skepping sug onder die druk van hierdie stukkie aarde waarop ons leef.

Waarvoor is jy opreg dankbaar?

Dink ons genoeg oor die dinge wat ons laat veilig voel, wat ons harte volmaak?

‘n Artikel in Psychology Today verwys daarna dat dankbaarheid ons op verskeie vlakke gesonder maak. Meer dankbaarheid, minder pille!

‘n Belangrike geheim om ons dankbaarheidsvlakke te lig, is om gereeld daaroor te dink. Nie die tipe dink wat vlietend is nie; ons moet werklik besin oor die dinge wat ons dankbaar maak. “Wat is dit van hierdie ding wat my dankbaar maak? Hoe sou my lewe gelyk het daarsonder? Waarheen dryf hierdie dankbaarheid my?”

Hoe meer ons die dinge waaroor ons dankbaar is bedink, hoe meer kom ons tot die insig dat die dinge wat ons werklik gelukkig maak, min met goeters te doen het, en veel meer met verhoudings.

‘n Dankbare mens is ook ‘n lekker mens. Mense hou daarvan om te werk, te kuier en te leef saam met ‘n dankbare mens.

Leer die dissipline aan om gereeld te dink oor die dinge waarvoor jy dankbaar is. Skryf dit neer. Soos ‘n wynproewer die wyn vir ‘n ruk op sy tong laat rus voordat hy dit sluk (want ons spoeg nie uit nie!), laat die dinge wat jou anker in dankbaarheid, in jou gedagtes rondmaal.

Dankie. Dankbaar. Opreg dankbaar.

Recent Posts
bottom of page