top of page

Help! My kind wil oorsee!

Ons lewe in ‘n interessante tyd! Die grense van ons wêreld raak al hoe meer porieus. Wêreldwyd maak mense skuiwe van een land na ‘n ander. Emigrasie is vandag nie net ‘n Suid-Afrikaanse fenomeen nie. Baie mense hou hulle harte vas oor kinders en vriende wat dit oorweeg om die geleentheid aan te gryp om ‘n ander land ‘huis’ te noem.

Wat doen ons wanneer ‘n geliefde ‘n skuif wil maak? Protesteer ons? Het ons die reg om iets te sê of moet ons eerder antwoord met: “Solank jy gelukkig is, is ek gelukkig.”?

Of dit vir jouself ‘n opsie is om eendag jou heil elders te gaan soek en of jou kinders dit moontlik sal oorweeg, is daar ‘n paar goeie beginsels wat ons kan vaslê in ons eie lewens en in die lewe van ons kinders. Of ons kies om te bly of te skuif, die beginsels verander nie. Sonder hierdie beginsels kan iemand wat hier bly óf skuif, met ‘n ingesteldheid leef wat nie sinvol is nie.

  • Jou keuse, jou gevolg, jou verantwoordelikheid: Ons kan dikwels onsself mislei met die gedagtes wat ons koester rondom ons leefwêreld; soveel so dat ons eksterne faktore die skuld gee vir ons interne motivering. Die realiteit is dat daar vir die meeste van ons opsies is om te oorweeg. Ons kies dalk ‘n skuif na ‘n ander land omdat dit vir ons meer opsies bied, maar dit beteken dikwels nie dat daar ‘n armoede aan opsies is waar ons onsself tans bevind nie. Nugterheid in ‘n groot lewensbesluit is belangrik. Ons kan nie toelaat dat wankelrige emosies ‘n groot lewensbesluit rig nie. As gelowiges moet ons ook onthou: Die Here het vir ons ‘n gesonde verstand en onderskeidingsvermoë gegee. Ek sou versigtig wees om sommer te sê: “Die Here het gesê…” Nee, die Here gee dikwels vir my die vermoë om te kies.

  • Vrees is nooit ‘n goeie besluitnemer nie. As ek my kind in ‘n huis grootmaak waar ons gereeld praat oor hoe ons in ‘n hoek vasgedruk word en hoe ons opsies al hoe minder raak, moet dit my nie verbaas wanneer my kinders besluite uit vrees begin maak nie. Moet nooit ‘n lewensbesluit maak omdat jy bang is nie. Nadat jy ‘n skuif gemaak het, gaan die vrees jou net weer inhaal. Hanteer eerder jou vrees, gee vir jou vrees ‘n naam en neem eienaarskap van jou vrees. Leer jou kinders om hul vrese te besweer met die waarheid.

  • Kulturele intelligensie is noodsaaklik! Sonder die vermoë om begrip vir ander te hê en sensitief te wees vir hoe ander mense dink en wat vir hul belangrik is, gaan ons sukkel in hierdie wêreld. As ek in hierdie land nie met kulturele intelligensie leef nie, gaan ek in ‘n ander land ook daarmee sukkel.

  • Gemak is nie gelyk aan groei nie. ‘n Besluit wat lei na gemak, mag dalk net van my ‘n ongelukkiger mens maak in die lange duur. Ons wat die weg van Jesus wil volg, het ‘n ander ingesteldheid oor wat die heel belangrikste is in die lewe. Ons gaan soek soms die donker sodat die lig daar ook helderder kan skyn. Ons is nie op aarde geplaas vir ‘n gemaklike lewe nie, maar ‘n betekenisvolle lewe. Wat gee vir jou betekenis? Help jou kinders om dit ook van ‘n jong ouderdom te snap!

  • Die Here is oral! Of jy nou hier of daar bly, jy sal die Here vind wanneer jy na Hom soek. Elke konteks bied vir ons die geleentheid om saam met die Here op pad te wees. Die nood is groot in die derdewêreld, maar in ander kontekste is daar dikwels armoede op ander vlakke, waar ons ook ‘n verskil kan maak. Die feit dat die Here alomteenwoordig is, stel ons eintlik gerus. Hier waar ek nou is, is God. Kan ek Hom hier beleef? Kan ek hier saam met Hom ‘n pad stap? Daar waar my vriende of geliefdes ver weg leef, is Hy ook.

  • Gemeenskap is goud werd! Ons is nie gemaak om in afsondering te leef nie. Bereken vooraf die koste daarvan om geliefdes agter te laat; dit kom beslis teen ‘n prys. Maar waar jy ook al jouself bevind, wees intensioneel met die verhoudings wat jy bou. Maak seker dat jy ‘n sterk ondersteuningsnetwerk vestig, en soek ander mense op saam met wie jy ook geestelik kan groei.

Groot lewensbesluite is selde maklike besluite! Waar jy ook al leef, mag jy betekenisvol leef. Die Bybel waarborg nie dat ons dit op hierdie aarde maklik sal hê nie. Dit moet ook nie ons motivering wees nie. Sterkte met jou en jou geliefdes se keuses oor hoe om te leef!

Recent Posts
bottom of page