top of page

Die regte rol op die regte tyd!

Het jy al ooit agtergekom dat jou beste raad op die verkeerde tyd jou in groot moeilikheid kan laat beland?

Veral ons manne het hierdie kwaal… wanneer my huweliksmaat se behoefte is dat ek haar frustrasie of emosie moet hoor en probeer verstaan, probeer ons dikwels planne maak om die probleem op te los! Dit lyk vir my ons het soms al die wysheid, maar nie die beste tydsberekening nie!

Dieselfde beginsel geld vir die rolle wat ons aanneem; of dit in die werksplek, in ons vriendskappe, huwelike of met ons kinders is.

Carey Nieuwhof skryf in die boek Parenting Beyond Your Capacity dat ouers verskillende rolle kan vervul gedurende verskillende tye in ons gesinslewe. Die vier rolle waarna hy verwys is die rol as:

Leermeester,

Vriend,

Vertroueling en

Afrigter/ coach.

Hy noem dan ook dat hierdie verskeie rolle (miskien kan jy nog ‘n paar byvoeg?) op verskillende tye na vore behoort te tree:

Ons tree as leermeester op wanneer ons waardes bevestig of neerlê. ‘n Goeie tyd om hierdie rol in te neem is wanneer ons saam tyd spandeer om die etenstafel.

Baie van ons spandeer baie tyd saam met ons kinders wanneer ons op pad is; na ‘n oefening, skool toe of op pad met vakansie. Gedurende hierdie tyd kan ons die rol as vriend speel, waar ons saam met ons kinders die lewe geniet en interpreteer.

Die rol van vertroueling skep geleenthede om intimiteit en vertroue te bou. ‘n Goeie tyd om hierdie rol te vervul is voor my kinders (veral jonger kinders) se slaaptyd.

Om as afrigter op te tree, help my kinders om doelgerig te wees. Hierdie rol kom goed tot sy reg in die oggend, wanneer ons almal gereed maak vir ons dag.

Jy kan dalk vir die rolle wat jy vervul ander name gee; sekere rolle pas dalk vir jou en jou gesin beter by ander tye, maar die kern is dit: ons moet ons rolle verstaan en hul op die regte tye aanwend.

Dit help nie om my kind se vriend te wil wees as die grense gestel behoort te word of wanneer dissipline toegepas moet word nie. Net so kan ek maar geselsies maak met my tiener tot vervelens toe: as ek nie ‘n tyd gaan identifiseer wanneer hul die ontvanklikste is vir intimiteit nie, gaan ek al hoe meer moedeloos raak!

Enige gholf- of krieketspeler sal jou hieraan herinner: Timing is everything!

Wees intensioneel met die maniere hoe jy in belangrike verhoudings in jou lewe inbou, maak seker dat jy die regte tye kies om in te bou en doen dit met baie liefde en genade!

Recent Posts
bottom of page