Hoe lyk jou gesin se storie?
Don Miller skryf in een van sy boeke van ‘n desperate pa wat met hom kom gesels oor sy tienerdogter. Sy dogter het begin uitgaan met ‘n jongman wat heelwat ouer as sy is en die pa kry glad nie ‘n goeie gevoel oor hom nie. Elke keer wanneer hy of sy vrou met haar wil gesels oor hom, loop dit uit op ‘n groot bakleiery. Hulle is raadop. Sy dryf al hoe verder weg van haar familie en al hoe stywer in die arms van ‘n twyfelagtige man.
Don se reaksie was nie wat die pa verwag het nie… “Miskien moet jul nie op haar vriend fokus nie. Jy sien, saam met hom is sy deel van ‘n storie waar sy tuis voel; ‘n opwindende storie. Fokus eerder op julle familie se storie. Kry vir julle familie ‘n droom of ‘n storie wat so aansteeklik is dat sy nie anders kan as om meer tuis te voel in haar gesin se storie en weer daarvoor te kies nie.”
Die pa is daar weg met baie meer vrae as antwoorde! Hy het gaan selfondersoek instel, gaan dink oor hul familie se storie, bietjie navorsing gedoen en met ‘n idee vorendag gekom. Daar was ‘n groepie kinders in Mexiko wat ‘n kinderhuis nodig gehad het, maar daar was nie die hulpbronne of mannekrag om dit te laat realiseer nie.
So het hierdie familie die droom aangegryp om fondse in te samel vir hierdie groepie kinders. Hulle het gaan kuier in Mexiko, die nood met hul eie oë gesien, en die res is geskiedenis! Terloops; sy dogter het heelhartig ingekoop in hul nuwe gesinstorie. Sy het later self besef dat sy en haar vriend se storie nie opweeg teen die alternatief wat haar gesin vir haar gebied het nie.
Hoe lyk die storie waaraan jou gesin skryf? Is dit ‘n storie wat van almal vra om elke dag te groei en beter te word? Maak dit van die mense en omgewing rondom jou ‘n beter plek? Het jou gesin se storie ‘n fokus wat wyer is as net jul eie belange en behoeftes?
Daar is nie so ‘n ding soos ‘n perfekte gesinstorie nie! Hou moed; ons almal is gewone mense met tekortkominge en uitdagings. Ons het wel die geleentheid om ons gesin uit te nooi om aan ‘n storie te skryf wat hoop bring, wat ons buite ons gemaksones laat en wat die Here verheerlik.