top of page

It takes a village to raise a child

Daar is ‘n bekende Afrika-gesegde wat lui: ‘It takes a village to raise a child.’

In die wêreld waarin ons leef, kan ons amper die gesegde verander na iets soos: ‘It takes a whole bunch of professionals to raise a child!’

Ons is bederf. Jare gelede was ‘n arbeidsterapeut en ‘n opvoedkundige sielkundige ‘n nuutjie gewees. Maar vandag is hierdie persone bekendes in ons gemeenskap, en baie van ons kinders baat by hulle. So ook by ander persone wat ‘n professionele diens aanbied: wiskunde ekstraklasse, krieket-, swem-, tennislesse.

Professionele mense speel ‘n belangrike rol en ons is baie dankbaar vir hulle. Maar ‘n professionele persoon kan nie almal se vriend wees nie. Ek kan nie noodwendig ‘n professionele mens bel wanneer ek raadop is omdat my kind se koors nie wil sak nie!

Ons almal het ‘n ‘village’ nodig; ‘n groep mense wat ons hartsvriende is; ‘n gemeenskap wat ons grootste ondersteuners is.

Een van ons uitdagings is dat ons nie altyd gemaklik is daarmee om mense ongemaklik-naby aan ons toe te laat nie. Want as ons dit doen, sal mense sien dat ons gesinne allesbehalwe perfek is. Ons leef met die illusie dat daar ‘n prentjie is vir hoe ‘n gesin veronderstel is om te lyk, en wanneer ons afwyk van daardie prentjie, moet ons dit maar eerder stilhou.

Wanneer my tiener-seun depressief is, of my man sukkel met ‘n afhanklikheid, as my besigheid nie die mas opkom nie of wanneer my kleuter my teen die mure uitdryf…dan trek ons na binne.

Bob Goff skryf: “Next to grace, I bet God thinks having us need each other was one of His best ideas.”

Die bevryding is groot wanneer ‘n mens besef dat ek as ma of pa nie die enigste een is wat ‘n vormende invloed in my gesin se lewe hoef te hê nie. Hoe meer ek die rol van die mense rondom my begin raaksien en waardeer, hoe makliker gaan dit vir my raak om hul nader aan my gesin te laat beweeg.

Wie is jou ‘village’? Ken jou ‘village’ jou? Hoe versterk ons ons verbintenisse met die mense in ons ‘village’?

Ons het mekaar beslis nodig.

Dalk kan jy vandag daardie oproep maak, of boodskap stuur, aan ‘n ‘villager’. En dan sê jy hierdie brawe, bevrydende woorde: ‘Ek het jou nodig’.

As jy of jou gesin nie tans werklik iemand nodig het nie, maak nogsteeds die oproep! Dalk het iemand anders jou oproep vandag nodig!

Recent Posts
bottom of page