top of page

VERDIEN ONDERWYSERS VANDAG NOG ONS RESPEK?

Soos elke jaar, spring ouers en kinders in die nuwe jaar weg met ‘n dawerende gejuig en ‘n tempo wat nie volhoubaar is vir die marathon wat vir die res van die jaar voorlê nie! Darem begin ons goed!

Aan die begin van ‘n nuwe skooljaar is dit ook vir kinders ‘n nuwe seisoen waar ‘n nuwe klas met ‘n nuwe juffrou of meneer wag. ‘n Nuwe klas kan ‘n vars bries wees, of dikwels ‘n aanpassing waaraan ‘n kind eers gewoond moet raak.

Ek onthou ‘n klompie jare gelede was ek betrokke by ‘n laerskool. My werk was om vir ‘n groep Graad 7 leerlinge tydens hul Bybel-periode een keer per week ‘n boodskap te bring. By hierdie skool het elke oggend begin met ‘n aantrede in die vierkant. Terwyl daar vir die hoof gewag word, het die kinders ‘n roetine gehad waar hul saam geklap het, en dan die woorde: ‘RE-SPEK’ geskree het. Dit was nogal indrukwekked. Totdat die groep verdaag het _ dan was die woorde ‘RE-SPEK’ lank vergete!

Hoe help ek my kind om respek te kweek vir ‘n gesagsfiguur soos ‘n onderwyser?

‘n Eenvoudige wegspringplek is om nooit neerhalend van jou kind se onderwyser voor, of saam met hulle te praat nie. Dit beteken nie dat die onderwyser altyd reg is en dat jou kind nie mag sê hoe sy/hy voel nie. Maar om met elke sentiment wat jou kind rondom ‘n onderwyser mag hê, saam te stem, is bloot disrespekvol. Jy hoor dan net een kant van die storie! En die kant van die storie wat jy hoor, is die kant van ‘n kind wat nog besig is om te ontwikkel in haar/sy emosionele intelligensie.

Maak ‘n belegging in jou kind se respek-rekening. Leer hul dat ‘n onderwyser ‘n uitdagende beroep het, dat dit bitter moeilik is om ‘n klas vol kinders gelukkig en rustig te hou. Help hul om nou en dan in ‘n meneer of juffrou se skoene te probeer staan. En wanneer daar ‘n ongelukkigheid oor iets is, begelei jou kind om hul probleem met hul onderwyser op ‘n respekvolle manier te bespreek. Sodoende maak jy ‘n belegging in jou kind se mondering wat vir haar/hom die res van hul lewe waardevol sal wees.

Respek en deernis vir ‘n gesagsfiguur is ‘n kosbare en skaarse eienskap. Wees vir jou kind en vir gesagsfigure in jou gemeenskap tot seën deur jou kinders aan te moedig om met respek en deernis op te tree!

Recent Posts
bottom of page