top of page

Hoe gemaak met ‘Black Friday’?

Black Friday het in onlangse jare vir ons Suid-Afrikaners ‘n bekende fenomeen geword. Dié dag se oorsprong word gevind in Amerika rondom die sestigerjare. Die dag ná ‘Thanksgiving’ het begin bekend staan as ‘Black Friday’; dié dag waar handelaars produkte teen groot winskope aanbied. Natuurlik geniet hierdie dag, selfs in ons eie land, groot aanhang. Wie is dan nou nie te vinde vir ‘n winskoop nie?

‘n Meer omstrede verduideliking vir die woord ‘Black Friday’, is dat eienaars van slawe destyds hul swakste slawe op ‘n spesifieke dag teen baie lae pryse verkoop het. Hierdie dag het ook volgens oorlewering ‘Black Friday’ geheet. Die hartseer realiteit is dat sommige mense op hierdie dag hul siel sal verkoop vir ‘n winskoop. Vir een dag in die jaar, kyk ons nie ons mede-kopers in die oë nie; ons hou ons oog gefokus op die winskoop; want, jy sien, daar is net soveel produkte en ‘n magdom mense wat daarop wil aanspraak maak. Ons is almal vatbaar vir die slawerny van die verbruikersgod.

Hoe dan nou gemaak met ‘Black Friday’? ‘n Paar gedagtes en oefeninge wat ons kan oorweeg:

  • Wat onthul ‘Black Friday’ in jou eie hart? Wees sensitief vir jou eie gedagtes in oploop tot, en gedurende ‘Black Friday’. Het jy skielik ‘n groot begeerte om ‘n klomp dinge te koop? Is dit wat jy wil koop, iets wat jy werklik nodig het, of iets wat jy gereeld sal kan gebruik? Kan jy dit wat jy wil koop, bekostig (selfs, al is dit ‘n winskoop)? Indien jy iets vir jou kind(ers) koop, vra jouself: wat is my diepste motief vir dit wat ek nou koop?

  • Wees nuuskierig en gebruik die dag om te leer. Wees Vrydag nuuskierig vir dit wat jy rondom jou raaksien. Hoe hanteer mense mekaar op hierdie dag? Let op watter kopers groet die kassier en gesels met haar/hom. Hoeveel mense kyk eerder op hul foon in die ry, as vir die mense rondom hulle?

  • Hierdie dag bied ook die geleentheid om jou kind(ers) iets te leer oor spandering, mense, hul sienings en hul uitdagings. Indien jy wel beplan om iets te koop, gesels met jou kind(ers) oor hoe jy besluit het om dié spesifieke produk te koop.

Dalk kan jy ‘n handelaar besoek wat goedkoop aanbiedings op kruideniersware bied. Wys vir jou kinders hoeveel mense koop goedkoop suiker, meel en ander basiese produkte. Gesels oor die moontlike uitdagings wat hierdie persone op ‘n daaglikse basis in die gesig staar, byvoorbeeld: ‘Hoe dink jy/julle gaan dié tannie al daardie swaar produkte tot by die taxi of bus kry’?

  • Kyk iemand in die oë Vrydag en wees ‘n seën! Let op die manier hoe jy na die mense rondom jou kyk. Probeer om te kyk of jy of jou kind(ers) iemand kan help, vir iemand ‘n pakkie kan dra of selfs iemand se kruideniersware vir hul kan koop. Vra vir ‘n slag ‘n paar interessante vrae vir die persoon agter die kassier. Jy kan selfs Vrydag die winkels aandurf om vir iemand anders as jou eie gesin ‘n spesiale, eenvoudige geskenkie te koop.

Ons is nie gemaak om ons eie selfsugtige belange en begeertes eerste te stel nie; ook nie op ‘Black Friday’ nie. Sterkte met jou anderste poging tot ‘shopping’!

Recent Posts
bottom of page