top of page

Storie-tyd !

Stories is so oud soos die berge. En tog, word storie as ‘n medium nooit oud nie. Stories gryp ons verbeelding aan. Of dit nou op YouTube, in ‘n boek, op die TV of op ‘n verfdoek is, ‘n storie trek ons in.

In die boek Groeipyne deur Johan van Lill, gesels Johan met Jaco Jacobs oor die waarde van boek-lees vir kinders; spesifiek wanneer Pa’s vir hul kinders lees. Daar is navorsing gedoen oor Pa’s wat vir hul kinders lees, en die resultate wys dat Pa’s uitstekende storievertellers en lees-rolmodelle is. Johan van Lill sê ook: eintlik gaan storie- en lees-tyd saam met kinders meer oor die koester-tyd tussen Pa en kinders, as wat dit gaan oor die fisiese daad van saam-lees.

Storie-tyd skep ook die ideale geleentheid vir Pa’s om hul kinders te leer wat lewenswysheid is. Deur kinders uit te nooi om ‘n alternatiewe einde vir ‘n storie te verbeel, help ons kinders om die waarde van keuses te besef en hul eie verbeeldingswêreld ten volle te ontgin. Ons kan ook kinders aanmoedig om hulself in ‘n karakter se skoene te plaas, byvoorbeeld: “Wat sou jy gedoen het as jy, soos Pieter (die karakter) vasgevang was in ‘n grot?”

Die Bybel bevat ‘n skatkis vol verhale! Wat die Bybel nog meer fassinerend maak, is die feit dat God vervleg is in elke verhaal. Daar is geen twyfel daaroor nie: die beste spasie waar geestelike vorming plaasvind, is wanneer Pa en Ma die Bybel se verhale en hul eie geloofstories met hul kinders deel en voorleef. Ons is vandag so bederf met ‘n rykdom hulpmiddels tot ons beskikking. Ons kan nie sê dat ons nie die middele het om die wêreld van die Bybel vir ons kinders lewend te maak nie!

‘n Paar praktiese lees-wenke:

  • Roetine werk! Kry vir jou familie ‘n roetine wat vir julle werk. Roetine skep veiligheid. Onthou: roetine = gereeld!

  • Maak storie-tyd lekker! Johan van Lill stel voor dat ons toelaat dat kinders hul gunsteling stories kies. Pa of Ma: as dit nie vir jou natuurlik kom nie, leer om verskillende stemme te gebruik wanneer jy lees.

  • Betrek jou kinders by die storie! Laat hul nou en dan raai wat volgende gaan gebeur. Skep geleenthede waar jou kind vrae kan vra oor die storie.

  • Leer jou kind om fyn te luister. Help jou kind om soms hul vrae te los tot die einde van die storie, om hul luistervaardighede op te skerp.

  • Verander en groei saam met jou kind. ‘n Tiener sal beslis nie meer lus wees om saam met jou ‘n kinderboek met prentjies te lees nie! Elke kind se spesifieke ontwikkelingsfase bied wonderlike geleenthede. As die fondasie vroeër gelê is, kan ‘storietyd’ saam met jou tiener ‘n wonderlike geleentheid skep vir gesprek en vrae tussen ouer en kind.

Benut die krag van stories en geniet dit saam met jou kind!

Recent Posts
bottom of page