top of page

Te veel!


‘n Ma wag by die laerskool om 13:30. Skool is al skaars vir ‘n maand aan die gang en sy wens al weer dis vakansie. Haar brein werk in die hoogste versnelling, want sy weet wat vir haar wag. Om 14:00 moet Sussie en Boetie aanmeld vir swem oefening by Van Riebeeck vir 2 ure. 16:00 is dit atletiek oefening vir Sussie en rugby vaardigheidslesse vir Boetie vir ‘n uur, 17:15 is dit dans klas. Dan moet sy nog kosmaak, huiswerk moet gedoen word, kinders moet gebad en in die bed gesit word, en teen 20:00 sodra alles begin rustig raak en sy vir die eerste keer kan ontspan, knipoog haar man vir haar.

Soos die middag beplanning in haar brein afspeel, oorval die moegheid en moedeloosheid haar. Hoe gaan ek by alles uitkom wonder sy? Om alles te kroon is vandag Maandag en die hele week lê nog voor met stoei oefening, 2 dae se gimnastiek, ‘n arbeidsterapie sessie en nog daardie verbrande SW taak, nie eers te praat van haar se eie admin wat ophoop nie!

My liewe ouer, klink dit bekend? Was julle ook al moeg en keelvol vir al die vereistes wat aan ons gestel word om ons kinders se aktiwiteite in ons skedules in te pas? As ons as ouers so voel kan julle net dink hoe voel die kinders! Die hartseer is, ons kinders besef nie eers dat hulle skedule so druk is nie. ‘n Kind sal alles doen wat hy kan omrede hulle bang is hulle mis iets. Hulle word moeg, moeilik en emosioneel en verstaan nie altyd hoekom nie. Wat is die uiteinde? Konflik en spanning in die huis. Tantrums word gegooi. Verhoudings lei daar onder, beide ouer-kind en man-vrou.

Ons ouers wil so graag ons kinders blootstel aan al die wonderlike aktiwiteite en geleenthede wat gebied word, dat ons somtyds die belangrikste aktiwiteite in hulle vormings jare mis, naamlik om kind te wees en gesels- en speel-tyd saam met Pa en Ma. Ons word vasgevang in die jaag na prestasie en geleenthede, en besef nie aldag wat bly in die slag nie, ons verhoudings binne die gesin wat die voorbereidende oefenveld is vir die kind tot volwassenheid. Wat nou gemaak?

Vir my is die eerste stap dat ouers begin verantwoordelikheid vat vir hulle kinders se skedule, mooi te dink en prioritiseer wat regtig nodig is en waarde toevoeg, en nie toelaat dat die skedule die gesin beheer nie. Ons as ouers is die volwassenes en in beheer van ons huishoudings. God het ons met ‘n rede Ouers gemaak, en nie die skool, klubs of afrigters nie. Dit is ons verantwoordelikheid om ons kinders te bestuur en te beskerm, die kind kan dit nie self doen nie, ons moet hulle leer en wys hoe. Dis ons ouers se taak om seker te maak dat hulle ‘n gesonde jongmens lewe het, met mooi herinneringe. Leer jou kind om in balans te leef, met genoeg tyd vir akademie, sport en om kind / jongmens te wees.

Ons kinders is vir ongeveer 18 jaar aan ons toevertrou. In die tyd moet ons hulle opvoed, verhoudings bou en voorberei vir die volwasse-lewe. Na matriek verlaat die meeste kinders hulle huise, en al wat Ma en Pa oor hou is herinneringe en die hunker daarna dat die kinders huis toe kom om te kom kuier.

Moenie dat oorvol skedules hierdie kosbare tyd steel nie. Werk aan die vooruitsig van hegte verhoudings wat regdeur die ouers en kinders se lewens kan groei en ontwikkel.

Recent Posts
bottom of page