top of page

Kyk uit vir hierdie dodelike virus…!


Daar is ‘n onsigbare virus in die lug… hierdie virus versprei soos ‘n veldbrand en infiltreer genadeloos, sonder voor- of afkeur.

Die virus se naam is die verwerping-virus. Elkeen van ons het al deurgeloop onder sy tentakels. Vir party van ons is dit ‘n redelike vinnige pad tot herstel; maar daar is baie van ons wat vir jare, selfs ‘n leeftyd, sukkel om van hierdie pes ontslae te raak.

Daar is nog iets wat jy moet weet omtrent hierdie virus… die verwerping-virus is hoogs aansteeklik.

Ons maak dikwels kinders groot wat gekondisioneer word om hul bes te probeer om verwerping vry te spring. Ons beste poging om verwerping te probeer vermy is om te presteer of te beïndruk. “As ek maar net kan voldoen aan die verwagtings wat my ouers, die skool, my vriende… (vul in) stel, sal ek aanvaarbaar wees,” dink kinders (en volwassenes) soms. Maar ongelukkig is dit ‘n bose kringloop, wat nie einde kry nie. My beste pogings, wat kan lei tot uitbranding, laat my nogsteeds nie aanvaarbaar voel nie.

As ouer speel ons ‘n kritiese rol as afrigter of ‘coach’. As ‘coach’ is my doelwit nie hoofsaaklik resultate nie. Daar is baie afrigters wat resultate kry, maar min erg het aan die ontwikkeling van die mense wat hul afrig. Resultate sonder innerlike groei is futiel. Daarom is een van ons as ouers se grootste voorregte, om ons kinders te begelei om innerlik te groei, om weerbaar te word en om mense te word wat nie naarstiglik soek na die aanvaarding van mense nie. Die resultate is maar net die kersie op die koek.

Of ons met ons eie kinders, ander mense se kinders, ons kollegas of huweliksmaats skouers skuur, is daar drie dinge wat ons moet onthou:

  • Jou woorde bou of breek. Soms sê ons iets sonder enige doelbewuste bybedoelings, maar ons woorde kan vasklou soos ‘n neet aan ‘n wolkombers. Daarom: weeg jou woorde. As jou woorde nie opbou nie, en as jou kritiek nie in liefde toegedraai word nie, gaan dit waarskynlik die verwerping-virus oordra. Wanneer jy besef dat jou woorde seergemaak het, gaan maak reg. Ons almal maak oordeelsfoute. ‘n Opregte ‘jammer’ doen wondere om herstel te bring.

  • Maak die virus dood, voordat hy aanteek! Baie van ons loop soms al vir soveel jare met verwerping. Miskien het ons al so gewoond geraak daaraan, dat ons dit nie eens meer besef nie. As ek ‘n draer van die verwerping-virus is, is dit onvermydelik dat dit gaan aansteek. My probleem gaan iemand anders se probleem word, want verwerpte mense verwerp mense. As dit vir jou nodig is, gaan gesels met ‘n goeie vriend of dalk met ‘n berader.

  • Stel jou kinders bekend aan die aanvaarding van God. Om te weet dat my Pa of Ma, my man of vrou my liefhet en aanvaar met al my foute en tekortkominge, laat mense veilig voel. Wat ons nóg veiliger laat voel, is die wete dat God my gekies het, dat God my in liefde aanvaar. Deel met jou kinders teksgedeeltes wat hierdie waarheid bevestig, soos Efesiërs 1:4, Jesaja 43:1-4 en Sefanja 3:17.

Mag ons vir ons geliefdes die geskenk van liefde en aanvaarding gee, en mag ons geen vastrapplek vir die verwerping-virus gee nie!

Recent Posts
bottom of page