top of page

Help jou kind om met integriteit te leef

Ek het nog nooit ‘n ouer teëgekom wat ‘n gemiddelde toekoms, of selfs ‘n verdoemende toekoms, vir hul kinders toewens nie. Kan jy jouself indink dat ‘n ouer sal dink: “Ek hoop dat my seun ‘n ruggraatlose mens sal word, wat net oor sy eie behoeftes bekommerd is. Mag hy ‘n verbeeldinglose werk kry en mag sy huwelik een groot kopseer wees.” Nee, man! Niemand dink so nie.

Natuurlik is ons elkeen se wens dat ons kinders die lewe ten volle sal ontgin, dat hul ‘n verskil in die wêreld sal maak en dat hul gelukkig sal wees. Ten diepste is dit ons almal se wens dat ons kinders mense met integriteit sal word.

Tog weet ons dat integriteit vandag ‘n baie skaars kommoditeit is. Nie almal wat hul kinders die beste toewens, kry dit reg om kinders met integriteit groot te maak nie. Natuurlik is dit ook so dat hoe ouer kinders word, hoe meer moet hul self besluite neem oor wie hul wil wees en hoe hul wil optree. ‘n Kind se gedrag en integriteit is nie altyd noodwendig gelyk aan die moeite (of tekort daaraan) wat ouers gedoen het nie. Vir die meeste gevalle geld die beginsel wel: die fondasie vir integriteit in ‘n kind se lewe word deur ouers gelê.

Wat moet ouers onthou in hierdie proses?

Integriteit word die beste geleer wanneer dit beliggaam word

Ons kan preek en mooi praat en dreig, maar wanneer ons eie lewe sê: “Doen soos ek sê, nie soos ek doen nie!” gaan ons nie vêr kom nie! As my kind leer dat sy ‘n taak kan voordoen as haar eie terwyl Ma se naam eerder daarop moet pryk, skep ons probleme vir die toekoms.

Pa wat vir Ma voorsê om, wanneer vriende wil kom kuier, ‘n leuentjie te vertel omdat hy nie nou lus is vir hul geselskap nie, kan mos nie verbaas wees as sy kinders dieselfde doen nie!

Jou grootste getuienis is jou eie lewe. Wat jou rol as ouer betref, sou ons kon sê: die beste handleiding wat jou kind kan bestudeer, is jou eie lewe.

Rus jou kind toe om self sy probleme met ander te oorkom

Deur dit te doen, help ons ons kinders om in die toekoms dieselfde te doen, wanneer Ma of Pa nie naby is nie. Ouers het die gawe om in sekere situasies as coach op te tree. Sekere ongemaklike gesprekke of konfliksituasies kan van onskatbare waarde wees vir my kind. Maar dan moet die kind die hoofrol speel, en Pa of Ma speel ‘n ondersteunersrol.

Dit is ook reg so dat ‘n ouer eerder soms in uitsonderlike gevalle hul rol as beskermer moet opneem deur te kies om in ‘n situasie tussenbeide te tree. Vra dat die Here vir jou die onderskeidingsvermoë sal gee oor wanneer om slegs jou kind te ondersteun en wanneer om eerder te beskerm. Maar wees versigtig daarvoor om jou kind in watte toe draai en ‘n eiegeregtige kind groot te maak!

Wanneer ‘n ouer dit sinvol hanteer, kan jy in sekere gevalle jou kind help om op te staan vir wat reg en goed is; ‘n noodsaaklike bousteen vir integriteit.

Leer jou kind om sy foute te erken en om dit reg te stel

Niemand is perfek nie. Dit is ook nie ‘n gesonde verwagting wanneer ons dink dat die mense rondom ons nie mag foute maak nie.

Ons kinders maak ook foute. ‘n Kreatiewe ouer sien die geleentheid in ‘n fout raak! Dit is nie verniet dat ons sê “ek het my les geleer” nie!

Wanneer leer ek my beste les? Wanneer Ma of Pa my help om raak te sien dat ek ‘n fout gemaak het, wat die gevolg van my fout was, en wat ek kan doen om die skade te herstel.

Integriteit is nie gelyk aan perfeksie nie. ‘n Kind met ‘n omgee-hart, wat kan opstaan vir wat reg is en regmaak wanneer sy ‘n fout gemaak het, is ‘n kind wat op pad is na ‘n volwassene met integriteit.

Recent Posts
bottom of page