top of page

Sport en perspektief

Gevallestudie:

‘n Ouer konfronteer haar kind se afrigter by die laerskool interhuis atletiekbyeenkoms : “My kind was verlede jaar eerste met naelope, sy in nou nommer 4, jy het BAIE werk om te doen!” Drie weke en twee byeenkomste later kry die afrigter ‘n oproep: “my kind is nog steeds nommer 4, ek dink nie dis die moeite werd om haar te laat aanhou oefen nie. Ek gaan haar eerder onttrek van die atletiek hierdie jaar”.

Dit is een van die vraagstukke wat ek geduring mee gekonfronteer word op die sportveld. Die onmiddelike vraag wat by my opkom is; waaraan word die kind se prestasie gemeet? Die antwoord is eenvoudig – ‘n eerste plek of anders gestel om nommer 1 te wees is al waaroor dit gaan. Vir die ouer is nommer 4 net nie goed genoeg nie. Die ouer se houding is eenvoudig, die kind moet harder oefen, die afrigter moet meer tyd investeer of iets anders doen om te verseker dat die kind weer nommer 1 word.

Wat is die reaksie van die ouer toe daar nie aan haar verwagting voldoen word nie ….”Ek onttrek my kind want sy prestasie is nie goed genoeg nie.”

Ouers, skole, afrigters en baie keer ook die samelewing verloor dikwels perspektief as dit by sport en sport-prestasie kom. In ons gevallestudie moet ons die volgende raaksien:

  1. Die atleet is nog in die laerskool. Dis nog ‘n klein kindjie, wat fisies en emosioneel nog groei en ontwikkel;

  2. Kinders se prestasies regdeur hulle skoolloopbaan, word baie beïnvloed deur hulle stadium van ontwikkeling, dit is dus niks vreemd vir veral laerskool kinders se prestasies om wipplank te ry nie;

  3. Wat is die boodskap wat jy as ouer oordra aan jou kind t.o.v. die waarde van sy/haar prestasies en menswees, al het hy/sy hul beste probeer? – “As jy nie eerste is nie, is jy net nie goed genoeg vir my nie”

Liewe Ouer, volgende keer as jou kind se prestasie nie na jou wense is nie, onthou asseblief die volgende:

  1. Geen kind neem aan sport deel om tweede te kom nie, maar daar kan net een wenner wees;

  2. Jou kind is bloot nog ‘n kind, en hy/sy moet nog leer om teleurstellings te verwerk. Jy as ouer is die volwassene en vangnet wat jou kind moet ondersteun en lei;

  3. Hoe kommunikeer jy aan jou kind wat jy van hom/haar dink, in tye van telleurstelling?

  4. Wanneer is jou kind se prestasies en menswees vir jou aanvaarbaar; net as hy/sy wen?

  5. Wil ek my onvervulde drome en ideale deur my kind bereik, of kompenseer ek dalk vir my eie onverwerkte seer uit die verlede?

Kom ons streef daarna om net bietjie terug te staan as die sport prestasies nie na jou wense is nie, en kry perspektief oor die situasie. Verskuif die fokus na positiewe aspekte soos; wat het my kind goed gedoen (emosioneel en fisies binne die huidige situasie), hoe leer ek my kind om telleurstelling te verwerk, hoe kan ons foute regmaak in die toekoms ens., instede daarvan om die fokus te plaas op ‘n eerste plek en ‘n verganklike goue medalje.

Recent Posts
bottom of page