top of page

IS JY AAN JOU SELFOON VERSLAAF?


Jou selfoon het reeds jou kamera, jou kalender en jou wekker vervang, moenie dat dit jou gesin ook vervang nie!

Britse navorsing wat onlangs gedoen is wys: Een uit elke drie volwassenes en 60% tieners het erken hulle is erg verslaaf aan hul fone. Meer as die helfte van volwassenes (51%) en 65% van tieners het erken hulle gebruik hul selfoon terwyl hulle sosialiseer met ander, met byna ‘n kwart van die volwassenes (23%) en ‘n derde van die tieners (34%) wat hul selfone tydens etes gebruik. Nie eens badkamers is selfoonbestand nie, want 22% volwassenes en 47% tieners antwoord hulle fone selfs daar. Soos James Thickett, Ofcom se direkteur van navorsing tereg opgemerk het: “Slimfone verander sosiale etiket, en tegnologie dryf ons waardes.”

Selfone het ʼn alledaagse noodsaaklikheid geword, maar dit het ook daartoe gelei dat al hoe meer mense verslaaf is aan dié stukkie tegnologie. Hoeveel keer ʼn dag kyk jy na jou selfoon. ʼn Onlangse meningspeiling het bevind die gemiddelde Amerikaner kyk elke ses-en-ʼn-half minute na hul selfoon of sowat 150 keer per dag. Ander navorsers meen mense kyk tot 300 keer per dag op hul fone.

Dr. David Greenfield, Amerikaanse sielkundige en skrywer van die boek Virtual Addiction: Help for Netheads, Cyberfreaks, and Those Who Love Them sê slimfone is potensieel verslawend. Soos met ander verslawings, skryf hy, het die gebruiker meer en meer daarvan nodig, anders tree onttrekkingsimptome in. Hy verduidelik dat rekenaaraktiwiteite (en dus ook slimfone) verslawend is omdat hulle “psychoactive” is – dit beteken hulle kan ons bui verander en genoeglike gevoelens skep. E-pos, veral, gee ons iets wat Greenfield en ander kenners “variable ratio reinforcement” noem. “Ons weet nooit wanneer ons ‘n bevredigende e-pos gaan kry nie, so ons kyk aanmekaar of daar nie ‘n nuwe, lekkerder een gekom het nie.”

Greenfield vergelyk dit met dobbelmasjiene en sê ons soek daardie één ding – ‘n kombinasie simbole op ‘n dobbelmasjien, of ‘n e-pos of FB-boodskap – wat ons groot plesier verskaf.

Is jy verslaaf?

Hier is ʼn paar tekens dat jy moontlik verslaaf is aan jou selfoon:

  • Raak jy paniekerig as jy nie weet waar jou foon is nie?

  • Gebruik jy jou foon terwyl jy in ʼn geselskap is of kyk op jou foon terwyl iemand met jou praat?

  • Maak jy verskonings op as mense vra hoekom jy op jou foon is?

  • Loer jy elke nou en dan na jou foon om net te kyk of jy nie dalk iets gemis het nie?

  • Pluk jy jou foon uit elke keer wat jy die geleentheid het, soos wanneer jy moet wag vir ʼn afspraak of wanneer jy alleen is of voel?

  • Jy raak aan die slaap terwyl jou selfoon nog in jou hand is.

Gevolge van selfoonverslawing.

Selfoonverslawing het onder meer tot gevolg dat jy geld en tyd mors. Dit kan ook die volgende tot gevolg hê:

  • Angstigheid

  • Onrustige slaap

  • Depressie

Beperk die gebruik van jou selfoon só

Volgens navorsing kan selfoonverslawing nie net ʼn invloed hê op jou verhoudings nie, maar ook op jou geestesgesondheid. Bestuur jou selfoongebruik:

  • Dink voor jy weer na jou selfoon gryp: Hoekom kyk ek nou? Is ek verveeld? Eensaam? Dink dan aan iets anders wat jou beter kan laat voel.

  • Besluit om jou foon vir sekere tydperke nie by jou te hê of dop te hou nie. Besluit byvoorbeeld vooraf dat jy nie tydens vanaand se gesellige kuier jou selfoon gaan uithaal nie.

  • Skakel kennisgewings vir sekere tydperke af.

  • ʼn Drastiese stap is om al die sosiale media-toepassings van jou selfoon te verwyder of ʼn ellelange wagwoord te kies wat irriterend sal wees om elke kort-kort in te tik.

Hoe keer ek selfoonverslawing by my kind?

  • Neem jou kind se behoeftes, ontwikkelingsvlak en persoonlikheid in ag voordat jy vir hom ‘n selfoon gee. Jy ken jou kind en weet watter kind dalk heeltemal oorboord sal gaan met ‘n selfoon. Onthou, die finale besluit oor wat jou kind kry, berus by jou as ouer.

  • Beperk jou kind se tyd op die foon en sit ‘n beperking op sy selfoonkontrak. As jy ‘n kind onbeperkte tyd op die foon en onbeperkte lugtyd gee, soek jy moeilikheid. Maak reëls, soos selfoonvrye gesinstyd of kuiertyd en verbied selfone aan etenstafel. Kry hulle dan betrokke by ‘n gesprek deur vrae te vra en hul aandag af te trek van hul fone. Kort voor lank mis niemand meer hul selfone nie. Deur selfone in gesinstyd en aan etenstafel te verbied, skep jy vir jou kind sekuriteit, want jy help hom om te leer van balans tussen sy sosiale behoeftes, sy gesin en vriende en die nodigheid van selfdissipline. Dis nodig dat ouers tydens kuiers met maats met tye moet ingryp as hulle sien die kinders kuier nie met mekaar nie, maar sit heeltyd op hul selfone. Sê aan hulle dat dit nou kuiertyd is, want hulle is bymekaar, en dat hulle later, wanneer almal by die huis is, weer vir mekaar kan boodskappe stuur.

  • Leer jou kind dat ‘n selfoon niemand se baas mag wees nie. Begin deur ook jou foon soms af te skakel. Leer hulle onderskei tussen belangrike oproepe en SMS’e. Vra ook om verskoning as jy in gesinstyd wel ‘n dringende oproep moet maak of beantwoord.

  • Oordink die ware rede hoekom jy vir jou kind ‘n duur selfoon gegee het. Om jou gewete te sus, of omdat hy of sy dit werklik nodig het? Of was dit om hom of haar uit jou hare en besig te hou, of te laat inpas by maats? Dis nie nodig dat kinders alles moet kry wat hulle begeer nie. Dis noodsaaklik dat ouers sterk leiding neem in die vestiging van kinders se waardes.

Recent Posts
bottom of page