top of page

Word stil om jou tenk te vul

Waar stiltes is

Waar stiltes is en heilige wind

Waar stiltes is sal Hy jou vind

Met balsem en olie en ewige wyn

Waar angste van dolheid in die eenkant kom kwyn

Waar stiltes is en woorde van hoop

Is dit moontlik om weer jou siel terug te koop

(Koos van der Merwe)

Die Lectio Divina beginsel

Die Lectio Divina is ‘n beginsel van stiltetyd / Bybelstudie wat kom uit die vroeë Christenkerk wat deesdae al hoe meer veld wen. Die afgelope 9 jaar woon ek jaarliks ‘n Christen retreat by waar ek die waarde van hierdie manier van stilword leer waardeer het en daarom wil ek dit graag met jou deel as ‘n element wat jou stiltetye kan verryk.

Die lectio Divina word beskryf as ‘n manier om van God se teenwoordigheid in die oomblik bewus te word deur die Skrif / die Woord te bid. Dit strek anderkant net verstaan.

Word nou eers stil

Eers het jy nodig om stil te word in die teenwoordigheid van God. Daar is verskillende maniere wat jy kan kies om dit te doen. Die manier wat goed werk kan voorgestel word met drie sirkels – dink aan ‘n groot buitenste sirkel met ‘n tweede, kleiner sirkel binne-in gevolg deur die derde, kleinste sirkel in die sentrum of binnekant.

Die groot buitenste sirkel is om net stil te word om jou omgewing te hoor en in te neem deur jou oë te sluit, op jou asemhaling te konsentreer, stil te word en bewus te word van die geluide in jou omgewing bv die voëlgeluide, dalk ‘n hond wat blaf of iets wat kraak in die dak.

Dan het jy nodig om in die tweede sirkel na binne jouself te fokus. Word nou meer bewus van jou asemhaling, word bewus van hoe jy kan ontspan in elke liggaamsdeel: jou voete, bene, onderlyf, bolyf, nek, gesigspiere, skouers, arms en hande; dalk word jy bewus van ‘n vorm van ongemak in die posisie wat jy sit – stel dit reg deur te skuif of anders te sit of die ontspanning daarheen te laat vloei; word nou bewus van jou emosie – hoe jy voel; as dit positief is soos ‘n gevoel van vrede, blydskap of harmonie ervaar dit en bly by dit; as dit negatief is soos iets wat jou bekommer of pla of irriteer – laat dit gaan en gee dit vir God om namens jou te dra.

Dan is jy gereed om na die binneste sirkel te gaan naamlik God self, die teenwoordigheid van God. Jy sou dit kon doen deur net jou Naam vir Hom, byvoorbeeld God, Here, Jesus, of Vader met elke in – en uitaseming in jou gedagtes of saggies oor jou lippe te sê. Vra God om jou deur hierdie gedeelte in die Woord te praat.

Fokus nou op die teksgedeelte met die Lectio Divina beginsel

Dan gaan jy na jou teksgedeelte. Jy is dalk besig met ‘n dagstukkie boek, ‘n Bybelstudie, jy lees dalk ‘n spesifieke boek in die Bybel (ek het onlangs deur die hele 1 en 2 Korinthiërs gewerk) of jy het in ‘n preek of praatjie ‘n gedeelte uit die Skrif gehoor waarna jy weer wil kyk. Dit kan ‘n vers of ‘n hele perikoop of ‘n hele psalm wees – jy word eintlik gelei hoeveel om te lees. Jy moenie verplig voel om die hele gedeelte te lees nie. Kom ons neem hier as ‘n voorbeeld die bekende Ps 121.

Lees dit vir die eerste keer net om ‘n oorsig te kry.

Lees dit vir ‘n tweede keer sodat jy net een woord of frase daaruit kan kies wat met jou hart praat.

Indien jy die tyd of behoefte het, kan jy dit selfs vir ‘n derde keer lees sodat jy kan seker maak.

Jy behoort nou die woord of frase wat jou die meeste aangeraak het, te hê, byvoorbeeld jou lewe sal Hy beskerm (v7).

Vra jouself nou af wat hierdie woord nou, op hierdie stadium van jou lewe, vir jou beteken.

Vra jouself af wat jy daarop antwoord.

Gaan nou in gebed daarmee na God toe.

Terug by die sirkel(s) van stil word

Jy sou eers weer stil kon word in die buitenste sirkel;

Dan in die kleiner sirkel van jou binnewêreld;

En dan by God. Neem die woord na God toe. Gaan sit net by Hom. Hoor wat Hy vir jou daardeur wil sê. Bid die woord by God. Jy hoef nie net te verstaan nie, jy kan die woord of frase ook ervaar by God wat jou daardeur wil aanraak, versterk, vertroos of perspektief gee. Of word bloot eenvoudig net stil voor God se aangesig.

‘n Interresante feit oor stil word

Dr Willem Nicol in sy boek Oop vir die oomblik verwys na Newberg wat mense gevra het om ‘n eenvoudige soort meditasie (met die klem op stilte en hul asemhaling) te doen. Dit het 12 minute per dag oor ‘n tydperk van 8 weke van hulle af gevra. Hy het gevind dat hy meer aktiwiteit van neurone in die prefrontale korteks sowel as in die anterior cingulate kon waarneem. Die anterior cingulate het ook dikker geword. Die gevolg was meer wakkerheid in die prefrontale korteks, meer herkenning van emosies en meer beheer oor die emosionele sentra (limbiese sisteem). Meditasie en ontspanning verhoog die hoeveelheid dopamien in jou liggaam, wat jou goed laat voel. Op die fMR-breinbeeldings van monnike wat baie mediteer, het die wetenskaplikes ook verhoogde aktiwiteit in hulle linker- prefrontale korteks gesien, wat die setel van positiewe emosies is.

Soek stilte op om jou tenk te vul

Stilte het nie net die krag om jou meer bewus van die oomblik, jou binnewêreld en God self te maak nie, maar om jou tenk te vul vir die volgende tree, uur, dag of kilometer. Waar stiltes is – in die woorde van Koos van der Merwe – is dit inderdaad moontlik om weer jou siel terug te koop...

Recent Posts
bottom of page