top of page

Beskerm jou kind teen boelies en afknouers!


Alle kinders word in die een of ander stadium in hul lewe deur ander kinders geterg en getart. Dit is doodnormaal. Maar wat is 'n boelie?

Alle kinders neem soms aan ’n kammaboksgeveg of onderonsie op die speelterrein deel. Regte boelies toon egter ’n ander soort gedrag.

Hoewel ’n geboelie ook deur ’n geterg en ’n gebaklei gekenmerk word, kom dit meer gereeld voor as alledaagse onderonsies onder kinders en dit is ook ernstiger. Dis heeltemal normaal dat kinders mekaar terg.

Maar soms word dit méér as net terg en kleintjies word duidelik daardeur geïntimideer en raak bang. As dít aanhou, is dit ’n geboelie. Boelies gaan gewoonlik stelselmatig te werk. Dit het ’n roetine en kan weke, maande en selfs jare lank aanhou.

Volgens kundiges kan ’n boelie al in die kleuterskooljare begin en tot in die hoërskooljare aanhou. Maar meestal is die regte boelies in hul laerskooljare die aktiefste.

Dit gaan oor intimidasie en mag. Om ander kinders bang te maak is eintlik die belangrikste aspek van boelies. En dít gee ’n boelie mag oor jou kind.

Dit is hierdie vrees wat maak dat ’n kind wat geboelie word, sy waardevolle besittings afstaan en selfs “in diens” van ’n boelie tree. Die eienskappe van ’n boelie:

Alle boelies het sekere gemeenskaplike eienskappe. ‘n Boelie beskik gewoonlik oor ‘n lae selfbeeld. Hulle probeer om belangrik of sterk oor te kom deur ‘swakker’ persone aan hulle te “onderwerp”.

Hulle mag dalk akademies onderpresteer of het selfs swak sosiale vaardighede en daarom hanteer hulle hul eie probleme met afknouery.

Boelies is gewoonlik self die slagoffers van iemand anders se aggressie. Hulle voel magteloos in hul eie wêreld. Daarom probeer hulle mag ervaar deur op ’n weerlose kind te fokus en hom te boelie. Dus het die kinders wat geboelie word en dié wat boelie eintlik baie gemeen.

Gryp in.

Hoe kan jy voorkomdat dat jou kind geboelie word?

 Boelies is dikwels die outjies wat baie liefde nodig het omdat hulle voel hulle moet hulle aan die wêreld “bewys”. Gee liefde deur tyd met jou kind deur te bring en in sy wêreld belang te stel.

 Stel ’n goeie voorbeeld – respekteer jouself en ander.

 Gee kinders onvoorwaardelike aanvaarding van hul menswees.

 Praat op ’n liefdevolle manier met hulle oor hul gedrag. Wys aan hulle uit dat hulle ander mense seermaak en hulself ongewild maak.

 Leer jou kind empatie vir ander. Maak hulle daarvan bewus dat mense geregtig is op hul unieke bestaan, hul kultuur, geloof en manier van dinge doen – maak hulle bewus van ander kulture.

Ons voorbeeld spreek baie harder as ons woorde. As ouers aggressief teenoor ander mense, familie of gesinslede is, of rassisties is, leer kinders dat ander individue of groepe ondergeskik is en nie gerespekteer hoef te word nie. Dit gee dikwels aanleiding tot ’n geboelie, óf op subtiele emosionele vlak, óf in uiterste gevalle op fisieke vlak.

 As die gedrag voortduur, kry professionele hulp.

Jy kan nie elke oomblik van die dag by jou kinders wees om hulle teen boelies te beskerm nie.

Maar een van die grootste pantsers teen boelies is ’n kind met ’n goeie selfbeeld en selfvertroue.

Sielkundiges meen die beste wegspringplek is om seker te maak jou kind het nie die persoonlikheid van ’n slagoffer nie.

Kinders wat maklik geboelie word, het gewoonlik ’n lae selfbeeld en hulle voel onseker oor hulself.

Die ironie is dat die boelie en die slagoffer dikwels ewe onseker is en ’n ewe swak selfbeeld het. Waar die een egter aggressief begin optree, trek die ander een terug en raak meer dikwels depressief.

Dieselfde riglyne wat dus vir die boelie geld, geld ook vir die slagoffer. ’n Goeie selfbeeld kom deur self-aanvaarding en daarvoor is oueraanvaarding eerstens nodig. Die kind moet weet dat jy hom onvoorwaardelik as unieke mens aanvaar, al keur jy nie noodwendig alle gedrag goed nie.

“Oormatige kritiek maak kinders onseker. Navorsing het bevind dat in gesonde verhoudinge daar ’n verhouding van 1:5 is – vyf positiewe goed word gesê vir elke een punt van kritiek!”

Wat goeie sosiale vaardige betref, is ’n goeie voorbeeld die beste manier waarop jy kinders kan beïnvloed.

As jy self ’n bang en onseker mens is wat deur jou werkgewer/eggenoot/familie geïntimideer en geboelie word, leer jou kind uit jou voorbeeld om ’n slagoffer te wees. Om kinders ’n stabiele huis te gee is een van die beste maniere om hul emosionele stabiliteit te verseker. Verder om ’n stabiele, konsekwente ouer te wees gee vir kinders baie sekuriteit, wat hulle in staat stel om dinge beter te hanteer.

Kundiges meen ook jy moet jou kind van kleins af leer hoe om hom te laat geld wanneer hy geboelie word. Leer jou kind om met woorde, op ‘n toepaslike manier, vir hom-/haarself op te staan. Om jou kind aan te moedig om fisiek terug te baklei is nie die antwoord nie. Jou kind is reeds bang. Sodra hy begin terugbaklei, gaan die boelie alles in sy vermoë doen om te wen. Jy as ouer kan rollespel tuis doen om jou kleinding se selfbeeld ’n hupstoot te gee. Jy kan maak asof jy die boelie is en jou kind kan oefen wat om te sê. Leer jou kind ook om weg te loop. Selfs weg te hardloop as dit regtig moet. Dis heeltemal normaal om bang te voel.

En leer jou kind om ’n volwassene te vertrou. Boelies floreer op die wete dat hul slagoffers te bang en skaam is om volwassenes te betrek. Dit is jou as ouer se verantwoordelikheid om op die uitkyk te wees vir gedrag by jou kind wat daarop kan dui dat hy geboelie word. Die tekens sluit gewoonlik skielike angs vir skool in.

Praat daaroor en werk saam met hom aan ’n plan. Jy kan jou kind van kleins af ’n voorsprong gee op alle vlakke as jy vir hom genoeg selfvertroue leer. Sê gereeld vir hom hoe lief jy hom het – kinders kan dit nie genoeg hoor nie. Laat hom veilig voel, tuis en in homself, en leer jou kind sosiale vaardighede.

Recent Posts
bottom of page