top of page

Hoe lyk jou Vermaak-sif?

Kan jy dink hoe sorgvry die lewe sou wees as ons vooraf kon besluit watter mense, platforms en media ‘n invloed kon uitoefen op ons lewens en die lewens van die mense naby ons? Ons het eenvoudig nie altyd die gerieflike opsie om te kies met wie of wat ons paaie kruis nie.

Om onsself en ons geliefdes in watte toe te draai is ook nie regtig die oplossing nie! Ek kan nie so vinnig dink aan ‘n plek waar Jesus ooit gesê het dat ons onsself moet preserveer en ten alle koste moet beskerm nie. Nee; sy woorde en sy lewe op aarde maak ons soms juis ‘n bietjie ongemaklik…Hy spandeer tyd saam met vreemde ‘elemente’, Hy sê dat Hy juis gekom het vir die siekes.

Daar is wel een plek waar ons onsself, en veral ons kinders, mooi moet oppas; die plekke waar ons vermaak soek. Of dit nou flieks, TV programme, ‘n speletjie op ‘n tablet of ‘n boek is; ons bronne van vermaak laat ‘n indruk op ons lewens en oefen (dikwels onbedoeld) ‘n invloed uit op ons denke en ons vorming.

Ons moet altyd onthou dat die persone wat materiaal vir ons vermaak vervaardig, dikwels nie dieselfde dink oor die lewe of hul verbintenis met die Here nie. Wat vir my onaanvaarbaar is, is dalk vir iemand anders alledaags. Selfs TV kanale wat vir kinders bedoel is, het my al soms aan my koffie laat stik!

Hier is ‘n paar oulike platforms wat jou kan help met jou besluitneming rondom wat vir jou en jou gesin goed is en wat dalk liefs vermy moet word.

Plugged in (www.pluggedin.com) is ‘n bediening van Focus on the Family wat oulike resensies gee oor musiek, TV programme, flieks, speletjies en boeke. As jy hierdie platform raadpleeg, gaan dit jou bemagtig om ‘n ingeligte besluit te neem.

‘n Ander platform wat min of meer dieselfde diens lewer, maar ook resensies van Toepassings (Apps) insluit, is Common Sense (www.commonsensemedia.org).

Natuurlik kan ons nie altyd seker maak dat ons en ons kinders net goeie en opbouende dinge sien op skerms nie. Wanneer ons byvoorbeeld saam ‘n fliek kyk en iets gebeur wat nie positief is nie, bied dit aan ons ‘n gulde geleentheid om na die tyd te reflekteer oor wat ons gesien het en hoe dit met ons eie manier van dink oor die lewe verskil.

Die ekstra stukkie moeite sal ‘n groot verskil maak!

Recent Posts
bottom of page