top of page

'n Geloofsgewoonte in huise wat so skaars is soos hoendertande!


Ek kom gereeld in aanraking met gesinne wat inspirerende stories leef. In sulke gesinne kan jy sommer sien dat daar moeite gedoen word om alles wat hul doen, met ‘n spesifieke intensie te doen. Hierdie gesinne eet anders, speel anders, gee anders.

Daar is wel een dissipline of ritme wat besonder skaars is in gesinne; so skaars dat dit vergelyk kan word met ‘n rooikat in die wildtuin sien!

Hierdie ritme is waar gesinne met fokus saam bid. Let wel: fokus gaan nie hier oor konsentrasie of inspanning nie. Ons kan dit eerder vergelyk met ‘n staptoer. Dit kan ‘n opwindende ervaring wees om in die bosveld te stap en ek kan alles rondom my met elke sintuig geniet, maar iemand moet steeds seker maak dat ons in die regte rigting stap; anders stap ons in sirkels!

Ons het soms die beste intensies, maar dikwels kondisioneer ons ons kinders en familielede om in sirkels te bid. Ons verval so maklik in ‘n rympie of ‘n roetine wat die lewenskragtigheid uit ons gebede tap.

Wanneer jy saam met jou vriend(in), vrou of man of kinders wil bid, is daar ‘n paar hulpmiddels wat jou gaan help om seker te maak dat jy in die regte rigting beweeg:

  • Moenie net vir jul kos bid nie!

Daar is sekerlik ‘n mate van vastigheid en sekuriteit daarin as Pa of Ma dieselfde woorde elke dag aan die etenstafel bid (kantaantekening: om ‘n tafelgebed te doen, moet ons eers om die tafel sit!). As so ‘n gebed vir jul werk, gaan gerus daarmee voort. Die etenstafel bied wel vir ons soveel geleenthede om ons vreugdes en frustrasies met mekaar te deel. Nadat jul as gesin jul leefwêreld met mekaar gedeel het, neem die vrymoedigheid om van hierdie dinge in gebed met die Here te deel. As jou kinders al ouer is, mag dit dalk vir ‘n ruk volksvreemd wees; maar hou moed! So gou soos wat ‘n slegte gewoonte in ons lewens kan posvat, net so vinnig sal jou geliefdes gewoond raak aan hierdie nuwe ritme. Hul sal jou eendag op hul 21ste verjaardag bedank daarvoor!

  • Koester die kosbare gesprekke deur gebed

Daar is vir ‘n ma of pa min dinge wat hul so ‘vol’ laat voel soos wanneer hul kind teenoor hul oopmaak. As Sussa haar hart uitstort oor ‘n nuwe stel vlinders wat in haar maag rondvladder, of wanneer Boeta vir ‘n slag meer as drie woorde deel oor ‘n ervaring wat hy gehad het. Natuurlik is baie van ons se gedagtewêreld deurdrenk met gebede vir ons kinders; maar neem die vrymoedigheid om nie net in stilte vir jou kinders te bid nie, maar om dit saam met hul te doen. Daar is niks fout daarmee om saam met jou familie oor boyfriends, take, skynheilige vriendinne, troeteldiere, sport of porn te bid nie. Inteendeel; dit sal jou kinders bemagtig om hul eie gebedswêreld meer outentiek te maak.

  • ‘n Gesin met ‘n wye gebedsfokus

In my kontak met kinders en tieners, is hul mees algemene gebedsversoeke dikwels eksamen (en soms sport). Dit is reg en goed so; natuurlik kan ons al ons begeertes vir God in gebed gee. Hierdie gebedsversoeke verklap ongelukkig ook die oppervlakkigheid van ons gebede. As ouers het ons die wonderlike geleentheid om kinders te leer en te bemagtig om in te tree vir ‘n wye verskeidenheid sake en spesifieke persone. Ek droom van ‘n samelewing waar kinders graag sal wil bid vir die duisende mense wat sterf van hongersnood, die mense wat Jesus nie ken nie, die mense wat hartseer en eensaam is, leiers wat hulself verryk ten koste van ander.

Liewe Ma of Pa: jy het die verantwoordelikheid en voorreg om jou gesin te leer dat die gebed van ‘n gelowige ‘n kragtige uitwerking het (Jak. 5:16). Begin sommer vandag nog om hierdie belegging te maak.

Recent Posts
bottom of page