top of page

KANTLYNAANTEKENINGE OOR SPORTVOEDING EN JOU KIND


Julle het al die gesegde by sportlui gehoor dat goeie afrigting nie ‘n donkie in ‘n resiesperd kan verander nie. Dieselfde geld vir goeie eetgewoontes, maar dit sal help dat jou perdjie wel sy beste kan gee.

  • Eerste dinge eerste. Onthou die verskillende, breë voedselgroepe – proteiene, stysel en vet. Hulle het elkeen sy eie werk en kan nie deur ander vervang word nie. Gekies uit ongeprosesserde bronne, voorsien hulle ook vesel, vitamiene en minerale. Vitamiene en minerale is belangrik by sport omdat hulle help om energie te benut en die oksidasie skade te bekamp.

  • Onthou dat die individu wat sport doen, eerstens gesond moet wees en na wense ontwikkel en groei. Kinders wat intensief sport doen, se behoefte aan die meeste voedingstowwe word ook hoër en word dikwels die oorsaak van onoordeelkundige supplementasie. As daar aan die kind se verhoogde energiebehoefte voldoen word, deur ‘n gebalanseerde dieet, sal daar ook aan die verhoogde mikronutriente (vitamien en minerale) voldoen word. Ter illustrasie kan ons sê dat ‘n hoë energie, 16 000kJ dieet, dubbel soveel voedingstowwe bevat as ‘n standard 8000kJ dieet, mits dit gebalanseerd saamgestel word.

  • Proteiene se werk is om weefsel en ander komponente te bou en herstel. Die liggaam het wel ‘n beperkte vermoë om proteiene te benut en die res word duur energie. ‘n Hoë proteieninname in die afwesigheid van voldoende stysel sal beteken dat die proteiene vir energie gebruik word en nie vir bou en herstel nie. Die afbraak van proteiene plaas ‘n swaar las op die liggaam a.g.v die afvalstowwe.

  • Stysel, in verskillende vorme, voorsien die energie vir die meeste sportsoorte. Stysel word afgebreek na glukose wat direk energie aan die spiere en organe gee. Sportitems met baie hoe intensiteit(naellope) of plofkrag (hoogspring) gebruik stysel in ‘n stoorvorm nl. glikogeen. Dit beteken dat die liggaam reserwe of ekstra glukose benodig om oornag om te skakel na glikogeen. Meeste sportsoorte bevat komponente van spoed en plofkrag en wys hoe belangrik voldoende stysel inname is, veral om ekstra te berg as glikogeen. As jou glikogeenstore uitgeput is, verloor jy spoed en krag!

  • Bogenoemde wys dat die dag voor ‘n sportbyeenkoms veral baie belangrik is om voldoende stysel in te neem (saam met rus) sodat ’n goeie reserwe gebou kan word as glikogeen. Dit beteken ook dat jou daaglikse inname gelyk moet breek met jou behoefte anders word die hoe styselinname voor die byeenkoms net gebruik om leë store op te vul i.p.v ekstra te stoor.

  • Terloops; voldoende stysel, die regte tipe op die regte tyd, is die enkele voedingstof met die grootste effek op prestasie.

  • Weeg voedselinname op teenoor energie uitset. Kinders word dikwels belaai met supplementele voedings, konkoksies en ongesonde versnaperinge op die dag van die byeenkoms. Die energieuitset (hoeveel kilojoules benodig) vir ‘n 400m item of 4 x 100m swem is baie minder as die 90minute oefensessies ter voorbereiding. Dit illustreer die belang van ‘n daaglikse toereikende dieet teenoor te wag tot die dag van die byeenkoms.

  • Sport is veronderstel om genotvol en deel van ‘n gebalanseerde lewenstyl te wees. Wees versigtig vir onoordeelkundige supplementasie of prestasie bevorderende (ergogeniese ) middels. Individuele supplementasie bv yster in die afwesigheid van ‘n bewese gebrek, is baie gevaarlik en moet slegs op mediese aanbeveling geneem word. ‘n Basiese multi-vitamien/mineral aanvulling kan geneem word en gewone sportdrankies soos Game of Energade tydens of na oefening. Waar optimale voeding nie bereik word nie, kan ‘n gebalanseerde aanvulling soos Ensure of Nutren , ekstra, gebruik word. Vermy stimulante (kafeien, ginseng, guarana) en nog gevaarliker is hormone of hormoonvoorlopers.

Recent Posts
bottom of page