top of page

Hoe kan ouers die waarde van sport ontgin?


Die waarde van sport

Gevallestudie

Gedurende ‘n interhuis atletiekbyeenkoms sien ek een van my dogtertjie se maats huil verskriklik. Ek tel haar op my skoot en vra haar wat skort. Snikkend vertel die kind my dat sy nie ‘n plek onder die eerste 6 gekry het met die 60m of die 80m nie, en gevolglik is sy nie meer deel van die skool-atletiekspan nie. Ek vra haar toe of sy haar beste gegee het. “Ja Oom”, kom die antwoord, “Ek kon nie vinniger hardloop nie”. My volgende vraag aan haar was as volg: “Kan jy meer gee as jou beste?” Sy kyk my verbaas aan deur haar traan-ogies en sê “Nee Oom, mens kan mos nie beter doen as jou beste nie!” Ek verduidelik toe vir haar dat sy net moet aanhou hardloop en elke keer haar beste gee. Iewers sal daar vir haar weer ‘n kans kom. Haar trane het opgedroog en sy het gaan speel met haar maats. Twee jaar later word sy gekies vir die skool-atletiekspan, maar nie as ‘n naeloper nie…

As ek terugdink aan die gebeurtenis, staan daar ‘n paar dinge vir my uit. Eerstens dat kinders altyd op die sportveld hulle beste gee, en niks terughou nie, en ongelukkig kry hulle nie altyd die beloning wat hulle inspanning regverdig nie (is dit nie maar so in ons volwasse lewe ook nie).

Tweedens leer sport deelname jou van ‘n jong ouderdom af om telleurtelling te hanteer. Nie alles verloop altyd volgens jou plan nie, en baie keer moet jy hartseer toekyk hoe jou drome aan skerwe lê. Dan moet jy die besluit maak, gaan ek weer probeer of moed opgee (is dit nie ook maar van toepassing op ons daaglikse lewe as volwassenes nie?)

Dan kom die derde waarheid in sport na vore nl. Bly volhard en hou aan probeer, want iewers kry jy jou kans. Jou doelwit verander dalk oor tyd en pas aan by jou vermoë, maar sonder volharding is dit nie moontlik nie (my groot droom op die sportveld is eers bewaarheid toe ek 39 jaar oud was, 33 jaar na my eerste atletiek byeenkoms).

Ouers, ondersteun jou kind, help hom/haar om die beste te wees wat hy/sy kan wees op die sportveld. Sport is ‘n uitstekende hulpmiddel om hulle voor te berei vir die volwasse wêreld. Glorie of hartseer op die sportveld is van korte duur, maar die vormingswaarde van sport kan hulle vir die res van hulle lewens van nut wees. Die groot waarde van sport lê daarin dat dit help om jou kind te vorm, sekere waardes en karakter-eienskappe te kweek om die uitdagings van die lewe te kan trotseer, nie in goue medaljes en sport toekennings nie.

Recent Posts
bottom of page