top of page

Rituele is goud werd!


“When tea becomes ritual” skryf Barbery in “The Elegance of the Hedgehog”

“it takes its place at the heart of our ability to see greatness in small things. Where is the beauty to be found? In great things that, like everything else, are doomed to die, or in small things that aspire to nothing, yet know how to set a jewel of infinity in a single moment?”

Jare gelede het die president van die SA Vereeniging van Psigiatrie, Dr Eugene Ahlers, gesê dat gesinne weer nodig het om veel meer van rituele te maak – eenvoudige saamdoen rituele, het hy gesê soos vir die gesin om na kerk elkeen met ‘n roomys om die swembad met hulle kaal voete in die water, te sit en gesels…

Kom ek gee vir jou ‘n oomblik kans om die volgende sin in jou kop te voltooi: “Toe ek ‘n kind was, het ons altyd …” (1 minuut)

Hierdie sin laat jou heel waarskynlik van jou vroegste gesinsrituele uit jou gesin van oorsprong onthou.

Toe ek ‘n kind was, het ons altyd op ‘n Sondag – dikwels sommer met die voorafbereide Sondagmiddagete in skottels – piekniek langs die rivier of erens in die plantasies onder hoë dennebome gaan hou…

Of

Na Sondagmiddagrus as gesin deur die hele dorp – en die nuwe uitbreiding – gaan ry elkeen met ‘n roomys in die hand…

Kom ek gee vir jou nou ‘n oomblik kans om die volgende sin in jou kop te voltooi: “Toe my kinders klein was…”

Hierdie sin beweeg jou gedagtes na jou huidige gesin.

Toe my kinders klein was, is slaaptyd geassosieer met die lees van kinderverhale wat die gedagtes ver oor die maan gevat het; die gesinslid wat verjaar word bederf met ‘n ritueel waar sy of haar plekmatjie omring word met blomme uit die tuin terwyl die geskenke uitgestal word met blomme wat sy of haar ouderdom uitspel; op ou Kersaand om die Kersboom met geskenke en die lees uit die Woord en kersliedere saamsing word Christus se geboorte op aarde in herinnering geroep…

My mees onlangse poging om die hele gesin op die klipkoppie te kry (dit gebeur ten minste een keer oor die wintermaande as die slange minder aktief is) was nie sonder weerstand en ‘n gespanne atmosfeer nie … Jy het dalk ook al gevind dat dit – soos wat die kinders tieners en jong volwassenes word – nie makliker word om rituele in gesinne in stand te hou nie … Ja, die aansteek van die kers is vervang met die lig in die platskerm TV, die selfoon of tablet; die uitstappie of piekniek erens in die natuur waaraan ons almal eens waarde geheg het, is vervang met elkeen se uiteenlopende rigtings wat hulle inslaan (of vlug); so baie aktiwiteite, verpligtinge of besigwees of dalk die gebrek aan energie of selfs die gebrek aan ‘n behoefte om nog deel te wees van die ritueel…

Die vraag is: wat gaan jou kinders se lekker onthou wees? Indien jy nie seker is nie, is my wenk aan jou in die woorde van Hettie Britz: Begin net met ‘n ding! Just do it – nie noodwendig iets wat elke week / maand / jaar herhaal word nie. Dit kan ‘n spesiale, eenmalige saamdingdoen ook wees, solank dit bydra tot prêt en eenheid in die gesin; dit moet verkieslik ‘n kreatiewe, vrolike component inhou. Dit is die doel van rituele: om saam te lag, te voel, en tuis te hoort. Voorbeelde is:

  • ‘n Gereelde Vrydagaand pizzaaand

  • Saam as gesin gaan stap of fietsry naby sonsondergang;

  • ‘n Piekniek om ‘n herdenking van ‘n eerste keer in iets te vier;

  • Om Desember vakansie elke jaar by dieselfde plek vakansie te gaan hou en so ‘n gesinstradisie met sy eie rituele op te bou

  • Sterrekyk in die groot hemelruim op ‘n kombers op die grasperk – soek prentjies of vorme in die sterre;

  • Brand ‘n kers om die doop of dood van ‘n familielid te herdenk;

  • Ontwikkel ‘n resep met ‘n spesiale bestanddeel in – eie aan julle gesin;

  • Skep ‘n projek om as gesin uit te reik na iemand in nood – die projek kan oor jare groei en so deel van julle nalatenskap wees, byvoorbeeld om saam ‘n koek te bak vir iemand vir wie dit baie kan beteken;

  • Dink julle eie woorde uit wat julle in die gesin gebruik, voorbeelde uit ons gesin is soos om die eerste letters van woorde om te ruil: vappy hamily is happy family; sangry vir die gemengde gevoelens van sad en angry; huilkramp vir hartseer.

  • Gee vir elkeen in die gesin ‘n beurt om ‘n driegang maaltyd vir die gesin voor te berei

Wanneer is rituele geneig om te slaag? Gesinstradisies of rituele slaag wanneer kinders nie geboelie of gedwing voel om deel te neem nie en darem ook elkeen hulle eie gehaltetyd met Pa en Ma geniet. Gesinstradisies moet individuele tyd met elke kind insluit – iets waarin jy jou kind en sy of haar se unieke profile sal ken. John Wesley, herlewingsprediker, was 1 van 19 kinders en sy ma 1 van 25 kinders – sy het dit haar missie gemaak om met elkeen van haar kinders alleentyd deur te bring sodat elke kind belangrik kan voel. Die gemiddelde Amerikaanse pa spandeer 30 sekonders per dag met sy kinders (dit sluit die tyd om te raas en opdragte te gee in). Belangrike elemente in saamdoenrituele sien soos volg daarna uit:

  • Onverdeelde aandag

  • Volg jou kind se leiding

  • Word vir ‘n oomblik ‘n veilige speelmaat vir jou kind

  • Kombineer die saamwees van die ritueel met positiewe suggestie, byvoorbeeld “ek wil nou baie eerder saam met jou wees as om te werk”; Jy maak my dag!; Dit is so spesiaal saam met jou

  • Moenie jaag tydens die ritueel nie – sit eerder ‘n paar ure opsy of los dit.

Vorme wat rituele kan aanneem is onder andere: Gesinsaande – dit is een van die mees belangrikste en waardevolste rituele ; dit maak plek vir ander rituele en help die gesin om “gehaltetyd” in ‘n andersins “verstopte” skeduele in te pas.

Leesaande.

Geestelike rituele: In die kerk dink ons aan die sakramente van die doop en die nagmaal as kragtige rituele wat die hele gesin op geestelike vlak betrek. Die insluiting van die hulpelose baba in God se groot verbond word met die sprinkel van waterdruppels op sy of haar voorkop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees versimboliseer. Kerkklok. Die uitdeel en opsteek van die kers. Met die nagmaal word die tekens van die brood en die wyn uitgedeel wat die liggaam en die bloed van Christus versimboliseer. Niks verhinder ons om van tyd tot tyd in die noue kring van die gesin die brood en die wyn (of die druiwesap) vir mekaar aan te stuur met die woorde uit die vroee kerk: Vir jou …

Om in jou individuele stiltetye sowel as in jul gesamentlike stiltetye binne die gesin ruimte vir stilte te maak; die Bybel op ‘n spesiale plek of ruimte te plaas; die kers met die lees van die Woord aan te steek of ‘n gewyde lied of orkeswerk te speel kan deel raak van geestelike rituele in jul gesin wat julle godsdiensbelewing kan verryk.

Om saam te vat en af te sluit:

Ek dink regtig dat die psigiater Dr Eugene Ahlers reg was: ons gesinne benodig meer rituele! Dit bind harte aan mekaar sodat gesinne (of skole) voel dat hulle bymekaar hoort.

Rituele moenie gedwonge wees nie maar mag wissel van ernstig tot feestelik

Rituele met die hele gesin en met een kind moet die behoeftes en geaardhede van elke gesinslid in ag neem

Rituele kan gratis en eenvoudig wees – trouens hoe eenvoudiger en goedkoper hoe beter is die kans dat julle dit sal volhou

Rituele bou eenvoudige herinnerings, rituele maak ‘n huis ‘n tuiste en ‘n gesin ‘n hawe.

Verskillende langtermyndoelwitte of vestiging van waardes kan verskillende rituele betrek.

In “Eat, Pray, Love” het Elizabeth Gilbert die konsep van rituele raak gevat met die volgende woorde waarmee ek afsluit:

“This is what rituals are for. We do spiritual ceremonies as human beings in order to create a safe resting place for our most complicated feelings of joy or trauma, so that we don’t have to haul those feelings around us forever, weighing us down. We all need such places of ritual safekeeping. And I do believe that if your culture or tradition doesn’t have the specific ritual you are craving, then you are absolutely permitted to make up a ceremony of your own devising, fixing your own broken-down emotional systems with all the do-it-yourself resourcefulness of a generous plumber/poet.”

Rituele? Hoop net. Glo net. Doen dit net!

Recent Posts
bottom of page