top of page

Bring die tafel terug!


Toe ek en Danél ‘n paar jaar terug verhuis het, was ons opgewonde om ‘n etenstafel te koop. Ons vorige etenstafel moes in ‘n redelike klein spasie inpas. Maar ons nuwe tafel kon ‘n paar ekstra lywe vat! Toe ons tafel afgelewer is, het ons saam begin uitsien na die gesprekke wat ons saam met ‘n klomp mense om hierdie tafel sou hê.

Daar is sekerlik al ‘n klompie mense wat begin dink aan watter kos hul op Oukersaand of Kersdag gaan voorberei. Tog; die soetste herinneringe wat ons koester oor spesiale geleenthede, gaan nie oor die verskillende geregte wat ons geëet het nie, maar die gevoel wat ons gehad het omdat ons dit saam met mense kon deel.

In die gejaagde wêreld waarin ons leef, is een van die sinvolste dinge wat ons as familie en vriende kan doen, om saam te eet.

Leonard Sweet skryf in sy boek: From Tablet to Table:

“Bring back the table! If we were to make the table the most sacred object of furniture in every home, in every church, in every community, our faith would quickly regain its power, and our world would quickly become a better place. The table is the place where identity is born – the place where the story of our lives is re-told, re-minded and relived.”

Moenie van jou tafel vergeet nie! Veral in huise waar kinders ekstra klasse, sport en kultuur oefeninge moet bywoon, kan ons so maklik etenstyd reduseer tot iets wat so gou as moontlik afgehandel moet word. Selfs al kan jou familie dit net ‘n paar keer per week regkry om sinvol saam te eet, is dit uit en uit die moeite werd.

Die tafel is die plek waar ons mekaar in die oë kan kyk, waar ons mekaar se stories kan hoor, waar ons saam kan lag en waar ons ‘n inspraak in mekaar se lewe kan hê.

‘n Vriend vertel nou die dag dat hul etenstye gevul word met ‘n ‘lekkerste en slegste’ tyd. Elkeen kry ‘n kans om te deel wat die lekkerste en die slegste van hul dag was. So ‘n oefening bied aan families die perfekte geleentheid om saam te reflekteer oor hul dag.

Terwyl ons kos met etenstyd geniet; hou in gedagte dat ons geroep is om mekaar se stories om die tafel te geniet!

Recent Posts
bottom of page