Doodgewoon is doodgeestelik
Kinders het darem maar die vermoë om onwetend die spyker op die kop te slaan! Iemand vertel vir my onlangs van ‘n ma wat soms vir haar jong kinders vertel dat sy na ‘n vergadering moet gaan. Toe die pa van die kinders eendag vra wat hul dink ‘n vergadering is, antwoord die seun: “Dis wanneer grootmense bymekaarkom en niks doen nie(!).”
Net so kan kinders soms dinge oor God, mense en liefde sê wat ons op ons neuse laat kyk.
Ons kan ons kinders se geestelike naïwiteit gebruik om hul band met die Here al hoe sterker te maak. Vir kinders is dit nie so moeilik om te glo dat doodgewone dinge doodgeestelik kan wees nie. Hul verbeeldings is groot genoeg om sommer maklik dit raak te sien. Vir ons wat ouer is, moet ons soms eers deur al ons rasionele filters werk!
Navorsing toon dat Ma (hoofsaaklik) en Pa die grootste rol speel in die geestelike vorming van hul kinders. Die grootste belegging in die geestelike vorming van jou kind is jou doodgewone lewe. Die manier hoe mamma en pappa met mekaar praat, hoe ons saam met vriende kuier, ons finansiële prioriteite, die tyd wat ons in die natuur spandeer… die voorbeelde is legio!
As ouers het ons soms net nodig om die verbande tussen doodgewoon en doodgeestelik vir ons kinders te lê. Om die verbande met ‘n gebed vas te maak, sal vir jou kind goud werd wees! Byvoorbeeld: “Ons kamp hierdie naweek so lekker in die bos. Onthou julle dat God die Een is wat hierdie pragtige natuur geskep het? Kom ons sê sommer nou gou dankie vir die Here daarvoor!”
Vasgestelde tye van gebed is baie goed (soos ‘n gebed voordat ons gaan slaap), maar in-die-oomblik gebede is gebede wat jou kind onthou en ‘n groot belegging maak in hul ervaring van wie die Here is.
Moenie bekommer nie: dit is nie vir jou kind ‘n groot sprong om die verband wat jy vir haar/hom lê, te glo nie; hul kreatiewe verbeelding is heeltemal groot genoeg daarvoor!