top of page

Leer ken jou kind se liefdestaal

Om emosioneel gesonde kinders groot te maak, word al hoe moeiliker en verskeie hindernisse stel elke dag uitdagings aan ’n kind se welsyn. By die grootmaak van kinders bepaal die ouer-kind-verhouding die aard van baie aspekte van ’n gelukkige huisgesin en ’n liefdevolle band is die grondslag vir groei tot volwassenheid.

Drs. Gary Chapman en Ross Campbell verduidelik in hul boek The 5 love languages of children dat ouers moet verstaan dat elke kind ’n spesiale manier het om liefde en emosionele verbondenheid waar te neem. “Jy kan jou kind baie lief hê,” verduidelik hulle, “maar tensy dit voel, sal sy dit nie voel nie.”

Hoe kan ouers hierdie oënskynlike uitdagende doel bereik? Volgens die boek is daar vyf maniere waarop kinders (eintlik alle mense) emosionele liefde praat en verstaan: fisiese aanraking, woorde van bevestiging, gehaltetyd, geskenke en dienshandelinge (dinge wat jy vir hulle doen). Watter een van hierdie tale is jou kind se moedertaal?

Fisiese aanraking

Gewoonlik is fisiese aanraking die maklikste liefdestaaltaal om onvoorwaardelik te praat. Drukkies en soentjies is die algemeenste manier om hierdie liefdestaal te praat, maar dit sluit ook genot in fisiese spelery in (soos om die kind in die lug in te gooi).

Volgens Chapman dui studies aan dat baie ouers net aan hul kinders raak as dit nodig is en dat hulle onbewus is van die kragtige uitwerking van gereelde aanraking. Babatjies en suigelinge is spesiaal daarop ingestel om goed op fisiese aanraking te reageer.

As jou kind se belangrikste taal aanraking is, sal enige vorm van aanraking emosie op ’n diep vlak kommunikeer; let dus op hoe dikwels jy omhelsing, handevashou, ens inisieer en ook op die wyse waarop jy die kind dissiplineer.

Woorde van bevestiging

Wanneer liefde gekommunikeer word, werk woorde baie kragtig vir jou kind as woorde van bevestiging sy of haar prmêre liefdestaal is. Woorde van toegeneentheid en troetelname, woorde van lof en aanmoediging en woorde wat positiewe leiding en versekering gee, is wonderlike boustene vir die kind se gevoel van eiewaarde.

Daarteenoor kan snydende woorde wat in ’n oomblik van frustrasie geuiter word die kind se eiewaarde aftakel en hom aan sy eie vermoëns laat twyfel.

Wanneer die kind bemoedig en gekomplimenteer word, is dit steeds belangrik om opreg te wees en nie sommer net roetine lukrake pryswoorde te uiter nie. Komplimente moet eg en geregverdig wees. Daarteenoor beteken toegeneentheid konstante waardering vir die wese van die kind en sy kenmerkende en persoonlike eienskappe. Ouers moet voortdurend toegeneentheid by hul interaksiepatrone met die kind inweef.

Gehaltetyd

Gehaltetyd word omskryf as gefokuste, onverdeelde aandag. Dit is ’n ouer se geskenk van teenwoordigheid en dra ’n boodskap oor wat sê “jy is belangrik genoeg om al die ander goed vir eers opsy te skuif”.

Die belangrikste faktor in gehaltetyd is dat die ouers en kind saam iets doen. Dit is nie nodig vir die ouer om êrens spesiaal heen te gaan of geld aan ’n uitstappie te bestee nie.

As gehaltetyd jou kind se liefdestaal is, sal ’n eenvoudige storietydritueel ’n vaste teken wees van positiewe interaksie in sy of haar daaglikse skedule. Tieners kan baat vind by gesinsaande waar almal aan bordspeletjies deelneem of by ’n alleenafspraak een maal ’n week om saam met die ouer te gaan koffie drink.

Geskenke

Die meeste kinders reageer positief op geskenke maar vir sommige is om geskenke te ontvang hul primêre liefdestaal. Vir hulle kan die gee en ontvang van geskenke ’n kragtige uitdrukking van liefde wees en die mees betekenisvolle geskenke word simbole van toegeneentheid en waardering.

Hierdie kinders maak dikwels in hul kamer ’n spesiale plek vir geskenke en hulle deel dit net met opregte vriende. Dit beteken nie dat kinders met nie-noodsaaklike speelgoed oorval moet word nie. Geskenke in oormaat verloor hul betekenis en besondersheid.

Dit is ook die moeite werd om daarop te let dat nie alle geskenke uit ’n winkel kom nie – kinders wat sensitief is vir die taal van geskenke sal geskenke waardeer wat hul kreatiwiteit stimuleer of ’n spesiale gedeelde verwysing tussen kind en ouer uitbeeld.

Dienshandelinge

As ouers dien ons ons kinders – maar ons primêre motivering is nie om hulle te behaag nie. Ons hoofdoel is om te doen wat die beste is. Dienshandelinge kan modelle word vir jou kind se sin vir prestasie, verantwoordelikheid en prososiale gedrag.

Dienshandelinge moet pas by ouderdom en ontwikkeling. Ouers toon sorgsaamheid deur, byvoorbeeld, ’n driejarige se bed op te maak, maar dieselfde stel standaarde geld nie vir tieners nie (wat heeltemal daartoe in staat is om hul eie kamers skoon te maak).

Dienshandelinge het ’n tussenstap. Soos ouers hulle kinders dien, leer hulle hul ook om hulself te dien en aan andere terug te gee.

Soos jy jou kind se primêre liefdestaal herken en begin praat, sal die uitkomste ’n meer soliede gesinsverhouding wees waaruit elke lid van die gesin sal voordeel trek.

Bron: CHAPMAN, G. & CAMPBELL, R. (2012) The 5 Love Languages of Children. Chicago: Northfield Publishing

Recent Posts
bottom of page