top of page

Effek van skerms - Wenke


Ons het die afgelope paar weke gefokus op skerms en die effek daarvan op ons en ons families. Vandag sluit ons af deur 5 wenke met jou te deel. Ons hoop dat dit vir jou sinvol is!

1. Of jy beheer jou skerms, of jou skerms beheer jou!

As jy nie seker maak dat die skerms in jou huis hul plek ken nie, gaan hulle jou en jou huisgesin begin beheer! Wanneer skerms ons begin beheer, ly die mense rondom ons daaronder. Stel grense wat vir almal geld en wat vir julle as familie werk. Hierdie grense se funksie is om seker te maak dat ons as familie al hoe nader aan mekaar begin leef, en nie al hoe verder van mekaar verwyder nie. ‘n Paar praktiese dinge om te oorweeg:

  • Oorweeg ‘n afsnypunt met die buitewêreld. Wanneer jou familie sien dat daar ‘n tyd is wanneer niemand behalwe jou huis jou aandag geniet nie, maak jy groot beleggings in verhoudings.

  • Kinders hoef nie met hul fone of tablette te gaan slaap nie. Inteendeel, daar is verskeie redes waarom dit nie ‘n goeie idee is nie. Die blootstelling aan skerp lig affekteer hul brein wat hul slaappatroon kan versteur; deur besig te wees op skerms maak dikwels dat hul nie genoeg slaap inkry nie. Verder is daar geen versekering dat jou kind nie onvanpaste blootstelling kry sonder toesig nie.

2. Alles wat jou kind op sy foon of tablet doen, is nie noodwendig onheilspellend nie!

Daar is waardevolle getuienisse van kinders wat vir mekaar omgee, mekaar moed inpraat en ‘n klomp dinge gedoen kry op skerms! Baie tieners hou mekaar fyn dop op sosiale media en kan vinnig aanvoel wanneer ‘n vriendin ondersteuning kort.

Maak jou familie daarvan bewus dat hul skerms ‘n instrument kan wees waardeur die Here kan werk!

3. Jou familie is nie gevrywaar van die skadelike gevolge van skerms nie.

Ons is soms naïef en dink dat slegte dinge nie met ons familie of ons kinders sal gebeur nie. My dogter sal nie vasgevang raak in ‘n strik nie; my seun sal nie by ‘n kind in sy klas blootgestel word aan pornografie en vasgevang raak daarin nie.

Dit is ongelukkig so dat baie ‘onskuldige’ kinders blootstelling kry aan toksiese dinge op skerms. Dit is dan veral hierdie kinders wat so skaam voel daaroor dat dit vir hul amper onmoontlik raak om vir iemand te sê dat hul ‘n probleem het. Indien die skadelike gevolge van skerms jou familie raak; kry hulp. Veral met kinders het ons nodig om met baie genade die pad saam met hul te stap na heelheid.

4. Soms moet ons ons kinders forseer om ‘n boom te klim!

Baie van ons het al agtergekom dat ‘n skerm dikwels ‘n goeie oppasser is! Dit help ons soms om ‘n nodige blaaskans te neem. Wanneer hierdie oppasser se hulp egter te gereeld ingeroep word, strem ons die ontwikkeling van ons (veral jonger) kinders.

Maak seker dat jou kinders rondhardloop, bal skop, boom klim, met interessante voorwerpe van verskillende groottes speel, bak en brou, teken en verf! Dit verg ‘n bietjie voorbereiding, maar die beloning op die lange duur is groot!

5. Pro-aktief is beter.

Met vele dinge in die lewe is ‘n pro-aktiewe benadering die beste. Met skerms ook! Moenie wag totdat die bom bars omdat Pa alewig op sy foon is nie. Moenie eers met sussie begin praat oor onvanpaste boodskappe op WhatsApp wanneer sy daaraan blootgestel word nie. Onthou: die gemiddelde ouderdom wanneer kinders blootgestel word aan eksplisiete seksuele beelde is 10-11 jaar! Gesels vroeg genoeg met jou kinders!

Mag jy en jou huis mekaar geniet en verslaaf raak daaraan om mekaar in die oë te kyk!

Recent Posts
bottom of page