top of page

Hoe maak ons seker dat skerms nie ons familie se lewens oorneem nie?


Almal van ons se lewens word gevul met heelwat “goeters”. Hierdie “goeters” wat ons lewens vul het ‘n spesifieke funksie en ‘n belangrike plek in ons lewens (dink maar net aan die wasmasjien, stofsuier, ketel….). Daar is ook is ‘n tyd wanneer elkeen daarvan nodig is en dus op die voorgrond van ons lewe is. Prediker 3 word gewy aan die belangrikheid daarvan dat die regte tyd vir elke ding gesien moet word en dat elke ding in daardie konteks beskou moet word.

As jy vir jouself ‘n spoggerige motor koop, trek jy nie sak-en-pak in die motor in nie. Jy klim in die tjorrie wanneer jy wil ry en los dit in die motorhuis wanneer jy dit nie nodig het nie. Die motor is belangrik, dit het ‘n baie goeie doel en dit het ‘n plek en tyd wanneer dit op die voorgrond is, maar dit oorheers nie jou lewe nie.

Die vrae wat ons oor skerms moet vra is dus: “Wat is die werklike doel daarvan? Wat is die plek of geleentheid daarvoor? Wat is die tyd wanneer dit ‘n aktiewe deel van my lewe moet wees?”

‘n Baie belangrike vraag, wat ons dikwels oor die hoof sien, is: “Wanneer moet dit NIE deel van my lewe wees nie?”. Hierdie laaste vraag is die vraag wat ons sal help om grense te stel. Sonder grense is dinge geneig om “oor te loop en oor te neem”.

Hierdie vrae kan prakties gemaak word deur dit te vereenvoudig na die volgende:

  • Hoekom het jy die skerm aangeskaf?

  • Waarvoor wil jy dit gebruik?

  • Wanneer wil jy dit gebruik?

  • Wanneer is dit nie nodig om dit te gebruik nie – en moet jy dit dus “bêre”?

Die eerste drie vrae se antwoorde kan gegroepeer word op grond van die verskillende redes waarom ons skerms aanskaf. Ons kyk as voorbeeld na drie van die redes wat dikwels aangevoer word:

As vermaak/ontspanning

Televisies, e-boeke en selfs die internet dien dikwels hierdie doel.

Goeie rede, maar ‘n rede wat homself oopmaak vir definitiewe grense. Indien ‘n skerm aangeskaf is vir jou vermaak of om jou te help om te ontspan moet jy dadelik besluit wanneer wil jy vermaak word en wanneer wil jy ontspan. Niemand hoef vir al sy wakker ure vermaak te word, of te ontspan nie. Vermaak is ook nie om voor ‘n skerm te sit en na dit te staar en te hoop iets is interessant nie. ‘n Mens moet dit beplan.

  • Wanneer gaan jy dit gebruik? – ‘n Mens lees nie in geselskap nie, dit is nie goeie maniere nie.

  • Wanneer gaan jy dit nie gebruik nie? – As die hele gesin saam kuier is daar mos genoeg vermaak en ontspanning, die TV is nie nodig nie.

  • Wat gaan jy benut? – Is dit regtig sinvol om na snert te kyk? Kies goeie inhoud en geniet dit ten volle eerder as om tyd te verwyl

Vir opvoeding/Inligting/Verryking

Toe koerante en ensiklopedieë hierdie rol vervul het, het ons nie die hele dag met ‘n koerant onder die arm rondgeloop nie. Ons het ook nie ‘n ensiklopedie in die handsak rondgedra en daarin geloer wanneer ons verveeld is nie.

  • Wat wil jy weet?

  • Wanneer wil jy dit weet?

  • Waar gaan jy dit uitvind?

Vir kommunikasie

Net diegene wat baie verveeld was, en mense wat op die skakelbord werk, het hul dae op die foon verwyl. Deesdae is ‘n selfoon belangriker as ‘n sakdoek J.

Geen mens sou in die jare toet die hele dag lank gesit en briewe skryf het vir vriende wat nie teenwoordig is nie. Allermins sou jy gesit en brief skryf het in die geselskap van ander mense. Hoekom sit ons deurgans moderne “briewe” en wissel in die vorm van foonboodskappe, e-posse en ander elektroniese kommunikasie? Is dit enigsins sinvol en nodig?

Hier is ‘n paar basiese reëls, wat eintlik niks meer as goeie maniere is nie.

  • ‘n Mens gesels nie die hele tyd met iemand wat nie teenwoordig is nie. Kommunikasie met mekaar is die primêre rede waarom ons moeite doen om bymekaar uit te kom. Wag totdat jy die persoon sien en gesels dan. Maak ‘n bietjie stof bymekaar om lekker te kan kuier.

  • Dink oor jou mening voordat jy dit oombliklik met talle gesiggies deel. Later voel jy dalk meer ingelig en is jou mening meer waardevol. Die heen-en-weer-stuur van gesiggies en prentjies neem die werklike waarde van kommunikasie weg.

  • Indien jy dringend met iemand moet gesels, wag vir ‘n geskikte tyd om die persoon te kontak. Respekteer ander se gesinstye, etenstye, studietye…. Wees jy die een wat die bewustheid van respek vir ander se tyd uitleef.

  • Voordat jy dink dat iets met absolute dringendheid gekommunikeer moet word, bespreek dit met die mense by jou en kry hul mening. Dit gaan heel waarskynlik nie so dringend wees nie.

  • Betaal jou werkgewer regtig vir AL jou tyd? Mag jy nie maar kommunikasie rondom jou werk los vir wanneer jy op kantoor is nie?

BASIESE REëL

‘n Belangrike reël in die lewe is die volgende:

  • Elke keer wanneer jy vir een mens “Ja” sê, sê jy by implikasie vir ‘n ander “Nee”.

  • Waarvoor / vir wie sê jy eintlik nee wanneer jy jou aandag op ‘n skerm toespits?

  • Jy stel die waarde van die geselskap van die mense in jou onmiddelike teenwoordigheid ondergeskik aan die geselskap van die persoon aan die ander kant van die elektroniese “kanaal”. Sou jy bereid wees om dit uitgesproke te doen deur vir die mense by jou te sê: “Ek verkies… bo jou geselskap”? Hoekom sê jy dit met soveel gemak per implikasie openlik deur jou optrede?

  • Hoekom kan jy vir die mense by jou ‘n onverbloemde aanduiding gee dat hulle nie belangrik is nie, maar jy kan dit nie vir die ander persoon doen nie? Wat maak die ander persoon belangriker?

As ‘n mens nie jou eie lewe bestuur nie en jou eie tydsbesteding beheer nie, gaan ‘n eksterne rolspeler dit vir jou doen – dit is ‘n realiteit. Dieselfde geld vir skerms. Wees jy die bestuurder, moenie dat die skerm jou lewe oorneem nie. Dink wat besig is om te gebeur en bestuur dit met wysheid.

Recent Posts
bottom of page