top of page

Beskerm jou kinders teen Skerms


Verbeel jou vir ‘n oomblik: wanneer jy môre wakker word, besef jy dat jy verslaap het. Jy probeer nog uitvis wat kon verkeerd gegaan het…en toe kom jy agter dat jou foon verdwyn het! Soos wat jy deur die huis stap, besef jy dat elke liewe skerm wat jy besit (jou TV, jou rekenaars, jou tablette, jou GPS, jou fone) soos mis voor die son verdwyn het!

As al ons skerms (en Wifi!) in ‘n oogwink moes verdwyn, sou dit vir sommige van ons ‘n katastrofiese ervaring wees! Ons sou nie kon werk nie, ons sou nie kon kommunikeer nie en ons sou ook nie kon ontspan nie.

Natuurlik het digitale tegnologie vir ons ‘n wêreld van moontlikhede geskep. Ek hoef nie vir elke geringe dingetjie in ‘n ry te gaan staan by die bank of selfs in ‘n supermark nie; ek kan ‘n oorsese vakansie beplan, bespreek en betaal op my rekenaar, ek kan met (relatiewe) gemak met behulp van my GPS na ‘n onbekende bestemming ry. Jy kan seker aan nog talle positiewe voorbeelde dink!

Soos met vele dinge in die lewe, is daar ‘n paar uitdagings wat saam met skerms kom. Oor die volgende paar weke gaan ons aandag skenk aan ‘n paar temas wat met skerms verband hou.

Vandag wil ons vir jou ‘n paar wenke gee oor hoe jy jou familie kan beskerm teen moontlike skadelike en toksiese invloede op digitale media.

Of jou kind daarna gaan soek en of die blootstelling haar/hom soek, ons kinders word op digitale media blootgestel aan dinge wat nie vir hul ouderdomstoepaslik is nie, of bloot vir enige mens skadelik is. Jou kind soek vir ‘n prentjie vir ‘n taak op Google Images en kom af op ‘n onvanpaste beeld. Daar is talle ander voorbeelde. Kom ons fokus op ‘n paar media:

Televisie: maak seker dat jy weet wat jou kind kyk. Moenie eenvoudig aanvaar dat ‘n kanaal wat fokus op kinders, goeie kykstof aan jou kind bied nie. Let op na die taalgebruik, die storielyn en die mate van geweld. Natuurlik wil ons nie ons kinders se verbeeldingswêreld inperk nie! Daarom moet elke ouer maar self besluit wat is opbouend al dan nie. Maak seker dat jou Ouer-beheer funksie op jou TV werk en stel die verstellings reg in.

Rekenaar en internet: Om vir jou kind onbeperkte toegang tot ‘n rekenaar, tablet of selfoon te bied in die privaatheid van haar of sy kamer, is ‘n resep vir verkeerde blootstelling. Navorsing toon dat kinders rondom 10-jarige ouderdom (of selfs vroeër) gewoonlik die eerste keer blootstelling aan pornografie gehad het.

‘n Goeie idee sou wees om elke skerm in jou huis te beveilig met ‘n toepassing of program wat aan jou as ouer die beheer gee. Daar is ‘n klompie programme wat aan jou die vryheid gee om spesifieke verstellings te maak. Jy kan verskeie dinge blok: gewelddadige materiaal, dobbel webtuistes, pornografiese materiaal, onvanpaste taalgebruik ens.

‘n Goeie produk om te probeer, is Net Nanny. Net Nanny het ook byvoorbeeld ‘n funksie wat jou die keuse gee om tyd-limiete te stel, met ander woorde: jy kan bepaal watter tyd van die dag kan die internet in jou huis gebruik word.

Sosiale media: dit is nie nodig vir jou kind om op ‘n vroeë ouderdom al aktief te wees op sosiale media nie. Inteendeel; hoe langer jou kind wag, hoe beter (dalk eers op hoërskool?). Daar is natuurlik (soos met baie dinge in die lewe) ook voordele wat sosiale media betref. Ons gaan egter ‘n paar wenke gee waarvoor ouers kan uitkyk:

  • Twitter en SnapChat: Hierdie twee sosiale media platforms moet ouers versigtig wees voor. Twitter sukkel nog om eksplisiete Twitter accounts te identifiseer. Dit gaan vir jou kind relatief maklik wees om op onvanpaste eksplisiete beelde of video’s hier af te kom.

  • SnapChat werk op die beginsel dat alles wat jy na ‘n ruk verdwyn. Jy kan die verstellings maak soos jy dit verkies (‘n paar sekondes, ‘n paar ure ens.). Iemand (‘n ander kind of ‘n vreemdeling) kan dus vir jou kind ‘n onvanpaste beeld aanstuur wat na ‘n ruk nie meer daar gaan wees nie.

Ten slotte: verduidelik aan jou familie dat jy hierdie maatreëls instel, nie noodwendig omdat jy hul nie vertrou nie, maar omdat die veiligheid van jou familie belangrik is. Hierdie maatreëls geld immers nie net vir die kinders nie; dit beskerm die volwassenes in die familie ook!

Probeer ook aan jou kinders verduidelik dat daar sekere waardes is wat vir jul as familie belangrik is. Daarom is sekere webtuistes of programme nie vir jul as familie aanvaarbaar

nie.

Webtuiste vir Net Nanny:

Recent Posts
bottom of page