Hoe leer my kind dat 'myne' nie die belangrikste woord in ons woordeskat is nie?
Ons het ‘n paar weke gesels oor Post-Traumatiese stres. In die artikel het ons genoem dat ons almal met slegte dinge gekonfronteer word; daarom is dit so belangrik dat ons sulke gebeurtenisse behoorlik verwerk.
Wanneer dit by ons familie kom, wens ons dikwels ons kan ons kinders beskerm van alles wat hul sou kon benadeel of seermaak. Daarom rig ons ook ons lewens so in dat dit soveel moontlik beskerming bied aan almal in ons huis: ons beveilig onsself met ‘n alarmsisteem en slotte, ons maak seker dat ons kinders nie alleen buite rondspeel nie, ons maak seker dat ons televisies, rekenaars, fone en tablette so gestel is dat kinders nie op pornografiese beelde kan afkom nie. Die veiligheid van ons familie is vir ons belangrik.
Natuurlik is dit goed en reg so dat ons mekaar beskerm. Dit is immers ‘n Godgegewe instink waarmee ouers geskep is!
Die moontlike slaggat waarvoor ons moet uitkyk, is dat ons families so beskerm word, dat kinders nie geleer word om as God se gestuurdes in die wêreld te leef nie. Onwetend maak ons soms kinders groot wat leer dat “myne” die belangrikste woord in hul woordeskat is; dat ander mense se uitdagings nie iets met ons te doen het nie.
Ouers of voogde kan met fyn aanvoeling hul kinders dissipel om met sensitiewe oë te begin kyk. Knoop ‘n gesprek aan met jou kinders wanneer jul met situasies te doen kry waar hul iets kan leer oor wat dit beteken om ‘n hand na iemand uit te reik. Byvoorbeeld: gesels met jou kinders oor die karwag waarvoor jy geld gee; neem jou kinders saam wanneer jy self ‘n hand na ‘n bejaarde, vriendin of organisasie uitsteek.
In hierdie kort video verduidelik Paul Tripp (Verge Network) hoe families hul kinders kan toerus.
Moet nie moed opgee nie! Elke klein gesprek, aksie of waarneming is ‘n waardevolle belegging in die geestelike vorming van jou kind.