top of page

POST-TRAUMATIESE STRES


Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

(1 Korintiërs 13:12)

It is hard to fight an enemy who has outposts in your head.

Sally Kempton

In hierdie bydrae wil Kweekhuis graag ‘n bewustheid by ons lesers kweek van wat post- traumatiese stres behels omrede ons bykans elke dag van mense verneem wat a.g.v. aanvalle, diefstal, geweld of verlies aan post traumatiese stres ly. Teen die einde van die bydrae word daar ook ‘n intervensie gegee wat in die behandeling van post traumatiese stres aangewend kan word. Die bydrae word afgesluit met enkele praktiese wenke in die hantering van post traumatiese stres.

Wat behels posttraumatiese stres?

Posttraumatiese stresversteuring word gewoonlik afgekort met die letters “PTS” en word in die meeste boeke omskryf as ’n angsversteuring wat langer as ’n maand duur en wat spruit uit die blootstelling aan ’n traumatiese gebeurtenis. Die gevolg is die herhaalde herbelewing van die gebeurtenis, vermyding van stimuli wat met die gebeurtenis geassosieer word, afgestompte reaksies en simptome van verhoogde opwekking, soos slaapprobleme, geïrriteerdheid, konsentrasieprobleme en ’n oordrewe skrikreaksie.

Die bedreiging van lewe of integriteit

Die persoon wat aan ’n traumatiese gebeurtenis blootgestel is waarin beide die volgende teenwoordig was, ervaar dikwels PTS:

  • Die persoon het ’n gebeurtenis of gebeurtenisse, wat ’n werklike of ’n dreigende dood of ernstige besering, of bedreiging aan die liggaamlike oorlewing van die self of ander ingesluit het, ervaar, gesien of is daarmee gekonfronteer. Dit is dus ’n buitengewone gebeurtenis waaraan die persoon blootgestel is.

  • Die persoon se reaksie het intense vrees, hulpeloosheid of afsku (verskrikking) ingesluit.

In die geval van posttraumatiese stres gaan dit nie altyd oor jou lewe wat bedreig word of dat jy fisiek skade gaan opdoen nie, maar wel soms ook daaroor dat jy iets beleef wat jou emosioneel baie swaar laat kry. Verskillende mense beleef buitengewone gebeurtenisse met ’n buitengewone impak op verskillende vlakke. Soveel mense, soveel persepsies. Wat vir die een persoon as ’n traumatiese gebeurtenis voorkom, word nie noodwendig deur die volgende persoon ook as ’n traumatiese gebeurtenis beleef nie.

Om die trauma oor en oor te beleef

Die traumatiese gebeurtenis word aanhoudend op een of meer van die volgende maniere herleef:

  • Herhaaldelike en baie erge herinnerings van die gebeurtenis – en dit sluit visuele beelde, gedagtes of persepsies daarvan in. In die geval van jong kinders kan herhalende spel voorkom waarin temas of aspekte van die trauma tot uiting kom.

  • Herhalende, vreeslike drome van die gebeurtenis. In die geval van kinders kan hulle vreesaanjaende drome kry sonder dat hulle die inhoud daarvan kan herken.

  • Die persoon beleef weer die gevoelens asof die traumatiese insident nou plaasvind het en tree dienooreenkomstig op – insluitende die gevoel dat die gebeurtenis herbeleef word, illusies, hallusinasies en geassosieerde terugflits-episodes kan plaasvind (insluitende daardie episodes wat ervaar word wanneer ’n persoon wakker word uit sy/haar slaap of wanneer hy/sy onder die invloed is). In die geval van jong kinders kan trauma-spesifieke hervasstelling voorkom (“reenactment”, met ander woorde: hulle speel die trauma wat plaasgevind het weer uit).

  • Intense sielkundige nood of ongemak word beleef as die persoon aan interne of eksterne stimuli blootgestel word wat simbolies is van, of die persoon herinner aan ’n aspek van die traumatiese insident.

  • Psigiese of sielkundige gevoeligheid of oorsensitiwiteit wanneer die persoon aan interne of eksterne stimuli blootgestel word wat simbolies is van, of die persoon herinner aan ’n aspek van die traumatiese insident.

Die vermyding van trauma

Die persoon vermy aanmekaar stimuli wat met die trauma geassosieer word en algemene reaksies word uitgedoof. Dit kan deur drie of meer van die volgende gekenmerk word:

  • Pogings om gedagtes, gevoelens of gesprekke wat met die trauma geassosieer word, te vermy.

  • Pogings om aktiwiteite, plekke of mense wat herinnerings van die trauma oproep, te vermy.

  • Onvermoë om ’n belangrike aspek van die trauma te onthou.

  • Merkbare verminderde belangstelling of deelname aan aktiwiteite wat vir die persoon voorheen betekenisvol was.

  • ’n Gevoel van afstand of vervreemding van ander persone.

  • ’n Beperkte spektrum van emosie word ervaar, byvoorbeeld die persoon is nie in staat om liefdevolle gevoelens te ervaar of te huil nie.

  • ’n Swak toekomsperspektief, byvoorbeeld die persoon verwag nie om ’n loopbaan, huwelik, kinders of normale lewenspan te hê nie.

Prikkelbaarheid of verhoogde opwekking

Nog ’n groep van simptome wat voorkom by die persoon wat aan posttraumatiese stresversteuring ly, is voortdurende simptome van verhoogde opwekking gekenmerk deur twee of meer van die volgende:

  • Die persoon ondervind probleme om aan die slaap te raak of om aan die slaap te bly.

  • Geïrriteerdheid of woedeuitbarstings.

  • Probleme om te konsentreer.

  • Oorversigtigheid (dit wil sê om die hele tyd op die uitkyk te wees).

  • ’n Baie verwarde reaksie of respons op sekere stimuli.

Die simptome wat met posttraumatiese versteuring gepaard gaan, duur gewoonlik een maand. Die akute fase duur minder as drie maande terwyl die kroniese fase drie maande of meer kan duur.

PTS veroorsaak beduidende nood of wanfunksionering in sosiale, beroeps- en ander belangrike areas van funksionering. Dikwels ondervind indiwidue wat aan trauma blootgestel is, ’n vertraagde reaksie. As die simptome eers ná ses maande intree nadat die stressor ingewerk het, is die kans goed dat die indiwidu aan ’n vertraagde reaksie ly.

‘n Intervensie wat kan help: die verlede is verlede

In my praktyk is dit dikwels nodig om my pasiënte as ’t ware terug te neem na die betrokke insident(e) wat trauma in hulle lewe veroorsaak het en dit saam met hulle deur te werk. ’n Ander metode wat ek gereeld gebruik om pasiënte te help om die verlede – en dikwels die trauma van die verlede – te hanteer, is om hulle te help om te ontspan en dan die volgende woorde vir hulle bewuste sowel as onbewuste denke deur te gee – woorde wat hopelik ook vir jou kan help. Lees stadig en aandagtig. Gee die woorde kans om in te sink. Dink daaroor. Lees dit weer ’n slag. Jy sou selfs vir jouself ’n kopie op cd, selfoon of ipad kon maak met die volgende woorde daarop in jou eie stem en dan gereeld op ’n afgesonderde plek kan gaan sit en ontspanne daarna luister:

“(Plaas jou eie naam in hierdie spasie) … ek wil vir jou sê … Ek wil vir jou diepste gedagtes sê: Nou is die verlede … Die toekoms moet nog plaasvind, die toekoms moet nog vervul word. Jy kan net in die hede lewe, in die teenwoordige tyd, nou. Jy het dalk al die gesegde gehoor: ‘Die wêreld is te veel met ons’, maar in baie gevalle is die verlede te veel met ons. Omdat die verlede ’n insident ingesluit het, ’n traumatiese insident waarmee ons onsself negatief of verkeerdelik gekondisioneer het.

“Die verlede mors dikwels die hede op en laat die toekoms donker lyk. Daarom is dit nodig om van daardie negatiewe kondisionering van die verlede ontslae te raak. Want dit is in die verlede en kan nie weer herleef word nie. Dank die hemel daarvoor! Sou dit nie vreeslik gewees het om so ’n lewe vol ruïnes te hê nie? En om dit elke keer weer oor te beleef. Om oor en oor te probeer om dit reg te stel. Om dit elke keer net ’n bietjie beter te maak. Dit sal enige een rasend maak! Die verlede is verlede, dit is volledig verlede, dit is verlede vir elkeen anders en behoort ook vir jou verlede te wees. Nou jy kan dit verlede maak deur dit in die verlede te plaas. Plaas die verlede in die verlede. Plaas dit waar dit veronderstel is om te wees. Dit is in die verlede – verlede tyd – en dit gaan jy nou en hier doen. Jy gaan nou die verlede in die verlede plaas en jy gaan daardie insidente uit die verlede terugstuur na die verlede waar dit hoort. Jy is klaar daarmee om in die verlede te lewe. Jy lewe nou. Jy lewe op hierdie oomblik – onthou, hier waar jy nou is, is die hier en nou … Dit is nie die verlede nie en dit is ook nie die toekoms nie. Die verlede is ’n gekanselleerde tjek. Die toekoms is ’n belowende noot. Die hede is kontant. Bestee dit wyslik. Binne ’n paar oomblikke sal jy in ’n nuwe oomblik lewe. En jy gaan aanhou om te lewe van oomblik tot oomblik. En jy gaan die lewe geniet en die meeste daarvan maak. ’n Goeie dag vir jou, want dit is die enigste dag wat jy het om te lewe. Jy kan nie in die verlede lewe nie. Jy is klaar met die verlede. Die verlede is verby.

“En wie weet wat die toekoms vir jou kan inhou? Hoe kan jy beplan vir die toekoms? Natuurlik kan jy. Kan jy met verwagting vorentoe kyk na die dinge wat jy geniet om te doen? Natuurlik kan jy! Maar jy kan dit nie doen voordat die toekoms hede word nie, want jy kan alleenlik lewe in die hede. Om in die verlede te lewe is morbied. Om in die toekoms te lewe is ’n droom. Maar jy kan die beste maak van elke oomblik, van elke minuut. Jy kan die beste maak van elke uur, van elke liewe dag wat jy in die lewe ontvang. Jy kan die hede op ’n mespunt plaas … en jy kan dit uitleef en jy kan die verlede terugstuur na die verlede. Op elke manier waaraan jy kan dink, want die hede is joune. God het dit vir jou gegee – hierdie uur, minuut en sekond om te lewe, te lag, dit te geniet en gelukkig te wees. Jy gaan dit maak tel vir jou. En jy gaan dit maak tel vir ander om jou, naby jou … en jy skud die verlede nou volledig af …

“Dit is nie meer vir jou ’n las nie. Jy is nou klaar daarmee en laat dit gaan. Jy het die verlede – die las van die verlede en die negatiewe kondisionering van die verlede – neergesit. Jy beplan vooruit met groot verwagting en vooruitsigte vir dinge om te gebeur in die toekoms, maar jou lewe is in die hier en nou – in die hede. Jou lewe is presies nou, in die hier en die nou en jy lewe dit nou. Niks kan dit verander nie. Niks kan dit versteur nie en al daardie slegte herinnerings van onaangenaamhede in die verlede is finaal, volledig en onherroeplik verlede.”

Hulp en praktiese wenke

  • Met die wilsvryheid waarmee God jou geskep het, kan jy kies hoe om op trauma te reageer. Neem beheer van jou reaksie. Dit sal daartoe bydra dat jy uit die slagofferposisie tree.

  • Die verantwoordelikheid van die keuse wat jy gemaak het, byvoorbeeld om met ’n positiewe houding of om met verbitterdheid te reageer; of die aksiestappe wat jy uitgevoer het of dalk juis nie uitgevoer het nie, byvoorbeeld om vir hulp te gaan of nie, lê voor jou eie deur.

  • Begin om die regte vrae te vra. ’n Mens kry bittermin antwoorde op die hoekom-vraag. In plaas daar van om te vra “hoekom?” of “waarom?” moet ’n mens eerder vra “waartoe?” – “Waartoe lei God my in hierdie moeilike situasie? Tot watter punt in my lewe wil Hy my deur hierdie situasie bring?”

  • Hou die groter prentjie in gedagte: jy leef nog steeds in ‘n gebroke wêreld waarin trauma wel gebeur. Die hoop op totale bevryding geld vir eendag wanneer Jesus vir ’n tweede keer na die aarde sal terugkeer, maar ook vir nou!

  • Wees versigtig om vir iemand wat trauma of verlies beleef het, te vertroos met die woorde: “Toemaar, sien dit net as God se wil.” Alhoewel trauma nie van die Here af kom nie, kan die Here die ergste en die slegste vorm van trauma wat jy kan beleef, ’n geleentheid maak. Hy is by magte om dit om te draai – om dit tot jou voordeel as sy kind te laat uitdraai. Die Here kan dus die negatiewe in die lewe in ’n plus omskep!

  • Keer jou aangesig na God toe terwyl jy lyding ervaar – moenie jou rug draai op die Een wat wag om daar vir jou te wees nie. Jy kan jou krag, hulp en leiding by God gaan soek. Hy gaan vir jou hierdeur help dra.

  • Sien trauma as ’n geleentheid om geestelik en emosioneel te groei, om dinge in jou lewereg te maak of weer in plek te kry wat nie in plek was nie.

Recent Posts
bottom of page