top of page

Dissipline wat werk

Daardie karnallie sonder ore wat 27 keer aangesê moet word om sy klere op te tel kan tog 'n gehoorsame sonstraal van 'n kind word. Al wat hy nodig het is 'n skoot 'ferm liefde'…

Deur WENDY SLOANE en KIM VAN REIZIG

Dit bly nou maar een van die raaisels van ouerskap. Êrens langs die pad word jou bondeltjie vreugde 'n opperste diktator; verander gister se skattebolletjies in môre se tiranne. Hulle beheer hul ouers se lewe, gooi vloermoere in supermarkte, is steeks vir huistakies en dring aan op al jou aandag plus ontwerpersjeans en die nuutste tekkies. En hulle kry dit.

Om 'n mini-prins of -prinses onder jou dak te hê is vir elke ouer verskriklik stresvol. Maar wie se skuld is die bedorwebrokverskynsel? Britse navorsers wys die vinger reguit na die huidige geslag liberale "ouers-sonder-grense". Hulle pas nie genoeg "ferm liefde" (tough love) toe nie en die uiteinde daarvan is klein brekers wat nie toegerus is om die grootmenslewe suksesvol aan te pak nie.

Die Londense navorsingsorganisasie Demos het in 'n impakstudie van ouerskapstyle die lewe van 9,000 gesinne oor 'n tydperk van agt jaar gevolg. Hul gevolgtrekking: Die ferm-liefde-manier – 'n kombinasie van warmte en dissipline – speel 'n veel groter rol as ouers se inkomste of sosiale agtergrond in 'n kind se sukses en vermoë om empatie, vasberadenheid en selfbeheersing te leer.

Baie moderne ouers het 'n tradisionele ouerskapstyl verruil vir 'n laat-maar-loopmanier van kinders grootmaak. "Ouers kry voortdurend teenstrydige inligting oor wat goed en wat sleg is vir kinders," sê Naomi van Wyk, 'n Stellenbosse kliniese sielkundige wat spesialiseer in ouerbegeleiding. "Dit kan hulle ontoereikend en skuldig laat voel – en dan kan hulle nie meer beheer neem nie."

Ouers bring ook minder tyd tuis deur en kan dus nie hul kinders se gedrag behoorlik reguleer nie, verduidelik Naomi.

Daarby reageer sommige slap ouers moontlik op hul eie ouers – 'n geslag wat outoritêr en streng was en stil muisies vir kinders gehad het, sê die Kaapse beradingsielkundige Michelle Foulds.

"Die kinders van sulke ouers is gesien, maar nie gehoor nie en moes grootmense respekteer," sê Michelle. "Hierdie kinders is self nou ouers en glo die teenoorgestelde is die regte manier. Hulle het die leisels verslap, laat hul kinders toe om hul woede uit te druk en eise te stel en maak die kinders die middelpunt van die gesinslewe."

Aan die ander kant sal kinders altyd kinders wees en 'n bietjie swak gedrag wys hulle ontwikkel in onafhanklike mense wat hul eie kop kan volg. Maar as jy eerder die toilette sal skrop as om tyd saam met jou onmoontlike bloedjies deur te bring is dit tyd vir 'n ferm-liefde-plan wat jou jare van onnodige frustrasie kan spaar.

Die benadering is eenvoudig: Volgens kenners is konsekwentheid, fermheid, regverdigheid en dissipline wat 'n kind leer dat sy dade gevolge het, die sleutel tot die grootmaak van gebalanseerde, gemanierde kinders wat na jou luister. Die plan vereis nie lyfstraf nie en moedig ouers aan om te fokus op liefde en dissipline.

Natuurlik gaan daar soms rusies wees, maar jy kan jou gesin beskerm teen die bedorwebrok-sindroom en gedurige huisoorloë. Hier is 'n plan vir hoe jy balans kan kry en 'n ferm ouer kan wees in 'n gelukkige en harmonieuse opset.

1. Stel vas of daar 'n onderliggende rede vir swak gedrag is

'n "Stout" kind is dikwels net moeg of honger. Miskien is hy by die skool geterg of is hy jaloers op 'n nuwe baba.

"Daar is gewoonlik 'n rede," sê Suzie Hayman, 'n gesinsberader van die Britse ouerskapsorganisasie Parentline Plus. "Dit kan wees dat Pappa eers agtuur saans huis toe kom en die kind hom nooit sien nie, of dat Ma so besig is dat sy nooit meer saam karretjies wil speel nie. Dikwels straf ons kinders terwyl hulle regverdige klagtes het."

Haar voorstel? "Sê vir hulle: 'Ek kan dalk nie die situasie verander nie, maar ek kan luister.' "

2. Pak een hinderlike ding op 'n slag

Dit sal nie help om die sesjarige Ben in een asem aan te sê om sy klere te bêre, sy huiswerk te doen en sy tweejarige sussie uit te los nie. Begin met die belangrikste (sy sussie se sieleheil) en wanneer dit opgelos is, beweeg jy na die volgende opdrag.

3. Uitsonderings is taboe

Dit maak nie saak hoe moeg, moedeloos of gefrustreerd jy is nie, as jy sekere gedragspatrone wil verander, moet jy nooit Gods water oor Gods akker laat loop nie. As Amanda so 'n bohaai opskop oor tande borsel dat jy haar maar met 'n mond vol sjokolade bed toe laat gaan, gaan sy weet tande borsel is onderhandelbaar.

"Maar wees buigsaam," sê Megan de Beyer, 'n ouerskapskenner van Kaapstad. "Maak hul takies pret en verslap jul struktuur 'n bietjie oor naweke en vakansies."

4. Beoefen positiewe ouerskap

Dis baie meer doeltreffend om goeie gedrag te prys as om swak gedrag te kritiseer. "Goedkeuring moenie sommer so in die algemeen uitgespreek word nie, maar vir 'n spesifieke daad – dankie dat jy jou klere in die laai gesit het, dankie dat jy jou speelgoed met jou boetie gedeel het," sê dr. Howard Sloane, opvoedkundige sielkundige en skrywer van The Good Kid Book. "Dit moet so gou moontlik gebeur nadat die gedrag plaasgevind het."

5. Maak reels

"Praat met jou kinders oor wat reg en verkeerd is wanneer die geleentheid hom voordoen," sê Megan. Dit kan byvoorbeeld wees om mense nie in die rede te val nie, om huiswerk altyd op 'n sekere tyd van die dag te doen of speelgoed en eetgoed met maatjies te deel.

6. Wees spesifiek

As daar iets is waarvan jy nie hou nie, dra dit aan jou kinders oor in eenvoudige taal wat die spesifieke probleem uitwys. As Boeta besig is om al die kos uit die yskas te pak, help dit niks nie om te sê: "Jy's baie stout. Hou dadelik op!" Sê: "Moet asseblief nie die kos uit die yskas haal nie. Tel die wortels, melk en botter een vir een op en pak dit terug in die yskas."

Wees net so spesifiek oor take wat verrig moet word. "Gaan maak jou kamer aan die kant" beteken min. "Pak asseblief jou speelgoed in die boks en sit jou sandale terug in die kas" sal beter werk.

7. Wees 'n rolmodel

"Dis belangrik dat jy jou gedra soos jy wil hê jou kinders moet hulle gedra," sê Suzie. "Dit beteken jy skree nie; jy luister en jy verduidelik. Moenie kwaad raak as hulle iets doen waarvan jy nie hou nie. Vra hulle om te verduidelik wat aan die gang is."

8. Wees konsekwent

"Kinders gaan moeilik verstaan wat jy van hulle verwag as jy aanmekaar van plan verander," sê Naomi. "Besluit wat jy van jou kind verwag en hou daarby. En wys met jou eie lewe die regte gedrag. As jy nie respek toon teenoor ander mense nie, kan jou kinders dit nie leer nie."

9. Moenie omkoop of dreig nie

Laat jou kinders die natuurlike gevolge van hul dade leer – soos dat vuil klere op die kamervloer tot gevolg het dat Nina nie 'n nuwe partytjierok gaan kry nie. "Baie kenners verduidelik nie die verskil tussen dreigemente en gepaste gevolge nie," sê Howard. "As jy vooraf sê 'As jy jou kamer skoonmaak, kan jy TV kyk' verstaan jou kind hy sal by 'n volgende geleentheid omgekoop kan word om sy kamer skoon te maak. Dit werk beter as jy wag dat hy sy kamer opruim en dan sê hy mag TV kyk."

10. Koel eers af

"Moet nooit dissiplineer terwyl jy kwaad is nie," is Megan se raad. "Dit kan jou verhouding met jou kind skaad en hy sal skuldig en bang voel pleks van respekvol."

11. Werk visueel

Kaarte met plakkers wat jou kind se suksesse (soos voorbeelde van goeie gedrag) aandui, help jou om spesifiek te wees en goedkeuring te wys. Dis die uitsondering op die omkoopreël en dis 'n maklike en duidelike manier waarop kinders dadelik goedkeuring kan kry. Onthou net, die stelsel werk nie vir alle kinders nie.

Maak 'n speletjie van goeie gedrag – ruil plaksterretjies vir prettake, soos dat Mamma vir die duisendste keer sy geliefkoosde storie sal lees, Pappa vanaand met 'n lawwe hoed op die kop sal eet, of Jannie 'n lawwe hoed winkel toe mag dra. Gebruik jou en jou kinders se verbeelding en geniet dit!

12. Maak tyd

Wat ouers dikwels stoutigheid noem is dalk net die kind se manier om sy behoeftes uit te druk. Hy probeer dalk sê: "Ek het ook menings en gevoelens en ek is moeg om altyd jou tydrooster te volg." Bring dus so 'n halfuur per dag saam met jou kind deur waar jy net vir hom lees of saam 'n speletjie speel.

"Wanneer 'n kind se behoefte aan tyd saam met jou bevredig word, sal hy nie op 'n lelike manier jou aandag probeer trek nie," sê Suzie. Met ander woorde, as jy tyd maak, sal sy gedrag verbeter.

13. Stel huisreëls vas

"Skryf die huisreëls neer, waardes soos eerlikheid, vergewensgesindheid, gesinstyd en takies waarop jy en jou lewensmaat besluit het en bespreek dit met die kinders," sê Megan. "Jy kan dit so van vyfjarige ouderdom met hulle bespreek en laat hulle 'n afskrif van die reëls in hul kamer hou."

14. Laat kinders in die huis help

'n Onlangse Amerikaanse studie wys ouers aarsel om hul kinders te vra om in die huis te help. Maar navorsers sê huistakies wat nie onderhandelbaar is nie, leer kinders verantwoordelikheid en laat hulle deel voel van die gesinseenheid. Moet hulle nie dié ervaring ontneem nie.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. – Herfs 2010

Recent Posts
bottom of page