top of page

Tieners en dissipline deel 2


Vestiging van dissipline

Die ontwikkeling van dissipline gaan aan die hand van ‘n eenvoudige reël geïllustreer word.

‘n Mens mag nie oor die straat stap as dit nie op ‘n veilige plek is en jy nie

seker is dat dit veilig is nie.

Volwasse interpretasie van die reël – jou eie veiligheid, die veiligheid van ander en die ordelike regulering van verkeer word deur hierdie reël in die hand gewerk. Die reël behoort dus nagekom te word in belang van almal wat betrokke is.

I) In die pre-konvensionele fase van dissiplinêre ontwikkeling (kleintyd tot vroeg in tienerjare), moet die proses soos volg geskied:

  • Die kind word bewus gemaak van die reël

  • Die kind se hand word geneem en hy word veilig oor die straat begelei

  • Die dissiplinêre proses geskied dus deur kommunikasie en illustrasie.

  • Om die dissipline goed te vestig is die voorleef van die respek vir die reël baie belangrik.

  • As die kind sien dat volwassenes onveilig oor die pad beweeg, kan hy hulle nie meer vertrou in hul mening oor die reël nie en word die reël en die dissipline rondom dit nie geïnternaliseer nie.

  • Die reël kry ‘n addendum “dit geld net soms / dit geld net as ander jou sien / dit geld net as jy so voel ….”.

  • Die ouer as gesagsfiguur kry ook ‘n addendum “hulle glo nie in hul eie reëls nie, dus is dit nie so belangrik nie en toepassing daarvan is nie so nodig nie”.

  1. Wanneer ‘n ouer glo dat die reël vasgelê is (deur waarneming), word daar van die kind verwag om die reël sonder leiding toe te pas en sal die kind gestraf word indien hy die reël oortree. Die kind word in gekontroleerde omstandighede “getoets”. Wanneer ek sien dat my kind blindelings oor die pad hardloop, sal ek hom straf (met verligting omdat hy veilig is, maar nogtans straf).

  • Die straf is geregverdig omdat ek hom geleer het hoe om veilig oor die pad te stap.

  • Die straf is nodig omdat dit noodsaaklik is dat die reël toegepas word, in die eerste plek vir sy eie veiligheid en in die tweede plek ter wille van die veiligheid van mede padgebruikers.

  • Die verwagting is dat die straf hom sal ontmoedig om die reël weer te oortree.

  1. Tesame met die straf in die vorige punt is dit egter nodig dat die ouer ernstig moet besin oor die omstandighede:

  • Het ek die reël goed gemotiveer?

  • Het ek die reël goed gekommunikeer?

  • Leef ek as ouer volgens hierdie reël?

  1. Wanneer die kind uit eie beweging die pad veilig kruis omdat hy die reël toegepas het, is die self-dissipline wat nodig is gevestig. Die dissiplinêre proses is dus afgehandel en die dissipline rondom hierdie reël is geïnternaliseer.

Nou ja, ek is darem nie so naïef dat ek dink om velig oor ‘n besige pad te kom is een van die grootste uitdagings waarmee ‘n tiener en sy ouers gekonfronteer word nie, inteendeel! Ek het bloot hierdie voorbeeld gebruik om die basiese komponente van goeie dissiplinering uit te lig.

Maak seker dat jy positief op die volgende vrae kan antwoord:

  • Is ek self oortuig – diep en ernstig oortuig – van die waardes en norme wat ek so graag by my tiener wil vestig?

  • Leef ek werklik – elke dag en in alle omstandighede – volgens hierdie waardes en norme?

  • Het ek die waardes en norme duidelik gekommunikeer aan my kind?

  • Is ek so oortuig en bewus van wat ek sê dat ek dit met oortuiging kan verdedig?

  • Ondersteun ek my kind in die uitleef van hierdie waardes en norme?

  • Is ek bereid om my kind te help met regstelling as iets verkeerd gegaan het en van voor af te probeer?

Hierdie paar vrae is nie opsionele ekstras nie, dit is ook nie teoretiese woorde nie, dit is die werklikheid – dit is hierdie vrae wat die grondslag lê vir ‘n goeie waardestelsel. Dit is ‘n goeie waardestelsel wat die grondslag lê vir goeie dissipline. Dit is omgee en betrokkenheid wat die grondslag lê vir goeie ontwikkeling.

  • As jy jou kind wil aanmoedig om positiewe naasteliefde uit te leef, moenie die gemeenskap se lede afkraak nie.

  • As alkohol ‘n slegte deel van jou lewe is, moenie ‘n gesprek oor alkohol met jou kind hê nie – hê eerder ‘n gesprek oor alkohol met iemand wat vir jou ‘n mentor kan wees, wat jou kan help met jou dissipline daaroor.

Dus; wees oortuig van wat jy vir jou kind wil hê – so oortuig dat jy bereid is om op te offer sodat dit in jou kind se lewe sal waar wees – dan eers kan jy begin met dissiplinering van jou tiener.

Recent Posts
bottom of page