top of page

Tieners en dissipline

Voordat ons gesels oor tieners en dissipline, dink ek dit is nodig dat ons besin oor dissipline as konsep – en oor die doel daarvan.

Die woord dissipline kom van die Latynse woorde “disco” wat beteken om te leer en “disciplina” wat beteken dat kennis aan ‘n leerder oorgedra word. Om te dissiplineer is dus ‘n leerproses of ‘n oordragproses. Dit is dus duidelik dat dissipline nie bloot gaan oor die afdwing van waardes en norme nie – en veral nie oor straf nie – dit moet gaan oor die aanbied (van die kant van die volwassene) en aanvaarding (van die kant van die tiener) van sekere aanvaarde waardes en norme.

Niemand van ons is onbekend met die storm-en-drang van tienerjare nie. Dit moet gesien en begryp word teen die agtergrond van die kind se proses van ontwikkeling. Tieners betree hierdie ontwikkelingsfase as kinders en moet daaruit tree as jong volwassenes. Hierdie “metamorfose” gaan gepaard met baie onsekerheid en vrae. Ons as grootmense moet hulle bystaan en hulle lei tot die antwoorde van hul vrae. Ons moet veral sekere waardes en norme voorleef en nie net voor praat nie as ons wil hê dat hulle die ontwikkelingsproses suksesvol afhandel.

Die aankweek van goeie dissipline – en veral self-dissipline is een van die produkte van die tienerjare. ‘n Mens is alleen volwasse as hy bereid is om homself aan verantwoordelike dissipline te onderwerp en as hy self ‘n goed ontwikkelde sin van verantwoordelikheid en self-dissipline het.

Aangesien dit jou voorreg is om jou kind te ondersteun in sy ontwikkeling, is dit on-onderhandelbaar dat jy hom van die nodige dissiplinêre hulpmiddels moet voorsien wat hom sal lei tot self-dissipline.

Ons moet in ag neem dat die verwagting is dat ‘n tiener binne die spektrum van konvensionele morele ontwikkeling sal funksioneer. Dit is effens meer ontwikkel as die pre-konvensionele vlak – waar die grootmense totale beheer oor die dissipline moet neem, maar nog nie op die hoogste vlak, waar die individu alleen verantwoordelik is vir sy dissipline beheer nie. Die verwagting is dat hy sal beweeg van die aanvanklike gehoorsaamheid aan reëls met die doel om aanvaar te word en nie verwerp te word nie na die fase waarin hy homself met die reëls identifiseer en begrip het daarvoor dat dit ten doel het om die samelewing as geheel te onderhou. Die tiener moet dus aan die einde van sy tienerjare dissipline hê omdat hy werklik ingekoop het in die stelsel en vertroue het in die stelsel – en glad nie meer bloot om straf te vermy of beloning te verkry nie.

Om dissipline te vestig behels dus samevattend, die oordrag van ‘n lewenswyse, waardes en norme wat die grondslag moet vorm vir die individu (tiener) se selfdissipline, onafhanklikheid en volwassenheid.

Reëls, straf en dissipline is drie verskillende terme wat mekaar nie onderling kan vervang nie, maar wat tog ‘n sterk verbintenis het met mekaar.

Enige samelewing funksioneer binne sekere reëls, trouens enige stelsel (groot of klein) moet binne sekere reëls funksioneer. Of dit ‘n gesin, vriendekring, familiekring of organisasie is – daar behoort sekere reëls te wees wat nagekom moet word.

Die ontwikkeling van dissipline gaan aan die hand van een so ‘n reël geïllustreer word.

In ons opvolg artikel wat later in die week verskyn, help ons jou met 'n praktiese voorbeeld...

Recent Posts
bottom of page