top of page

KinderbeskermingsWEEK… of eerder ‘n LEEFSTYL?


Dit is Nasionale Kinderbeskermingsweek hierdie jaar van 27 Mei tot 2 Junie 2016. En soos vele ander weke vir bewusmaking kan ons seker vra: “Wat maak dit nou eintlik saak”?

Kinderbeskermingsweek fokus veral op kinders en hul spesiaalheid. En dit is iets wat ons as volgelinge van Jesus veral verstaan. Jesus se woorde dat kinders altyd welkom by Hom was en Hy sê dat niemand hulle moet verhinder nie (Matt. 19:13-14), bevestig veral vir ons die opdrag dat kinders (ook vir Jesus) veral kosbaar was.

In die gebroke wêreld waarin ons leef, word ouers veral gebombardeer met die onsekerheid van “hoe beskerm ek my kind teen alles daar buite?”. Jy mag dalk alles doen om seker te maak jy weet wie is jou kind(ers) se maats, wat hulle gaan doen as hulle by iemand gaan kuier, maar hoe rig jy jou kind op om vas te staan, veral wanneer die uitbuiting van kinders en hul naïwiteit so algemeen is.

Onlangse navorsing het bevestig dat 1 uit 3 Suid-Afrikaanse kinders seksueel mishandel word*. Dit is ‘n skrikwekkende statistiek, maar as Christene en omgee-ouers hoef dit ons nie in ‘n angstige en verbitterende posisie te plaas nie.

Hier is ‘n paar riglyne wat jy as ouer kan gebruik om jou kind toe te rus met die nodige taal en gemaklikheid om sekere dinge te kan sê, maak nie saak wat dit sou wees nie:

1. ‘n Ouer-Kind verhouding wat gebou is op vertroue en goeie kommunikasie, is kern-belangrik wanneer dit kom by die veiligheid van jou kind. Jy as ouer kan nie aanspraak maak daarop dat jou kind met vrymoedigheid met jou kan praat oor enige iets indien daar nie ‘n gesonde ouer-kind verhouding is nie.

2. Maak seker dat jou kind gemaklik voel om sy liggaamsdele (van kop tot tone en alles in die middel J) met gemak te benoem. Dit gee aan ‘n kind die nodige woordeskat om selfs oor dinge te praat wat andersins ongemaklik sou wees.

3. God het ons elkeen geskep met “alarms” in ons lyf wat vir ons sê wanneer iets ons ongemaklik laat voel (hart klop vinnig, maag draai, hande sweet ens.). Hierdie alarms wys ons daarop uit as iemand dalk ons spesiaalheid en uniekheid probeer wegneem. Wanneer jy onveilig voel, kan jy altyd oor dit praat, maak nie saak wat nie.

4, Help jou kind om ‘n netwerk van mense te identifiseer met wie hy kan praat indien daar ‘n ongemaklikheid oor iets is. ‘n Hand se vyf vingers kan elkeen gebruik word om ‘n persoon te identifiseer met wie ‘n kind sou gemaklik voel om te praat indien hy sou onveilig voel. Slegs die duim mag familielede insluit – die ander vier vingers moet buite die familie sisteem wees sodat dit ‘n wye netwerk van mense sou wees met wie die kind kan praat indien nodig.

5. In ons Afrikaner-kultuur waar soen-groet altyd “goeie maniere” is, skep dit somtyds vir

kinders nie ‘n keuse oor wie hulle so naby in hulle persoonlike spasie wil inlaat nie. Net soos wat kinders die “eienaars” is van hul liggame, net so is hulle ook “eienaars” van hul persoonlike spasie. Goeie maniere word in baie ander maniere getoon as net ‘n soen-groet. Lei jou kinders om altyd goeie maniere te hê en ook met gemak te kan besluit wie hulle in watter spasie wil toelaat.

*Bron: http://www.parent24.com/Family/Health/1-in-3-young-south-africans-sexually-abused-20160601

Recent Posts
bottom of page