top of page

KONFLIK IN DIE FAMILIE

Binne die huwelik, gesin of familie kan konflik breek of bou in die kweek van kardinale verhoudings.

Afbrekende konflikhantering kan soos die storm wees wat letsels aan die plantjie laat. Die mens het die vermoë om skade met sy tong aan te rig wanneer hy beheer verloor: afbrekende of kwetsende woorde, stry, skel of skreeu. Hy kan selfs oorgaan tot fisiese geweld wat letsels aan die ander persoon laat. Hierdie reaksie beskadig nie net die siel van die ander persoon nie, maar ook sy eie siel. Daarteenoor kan konstruktiewe konflik soos die voeding of water vir die plantjie wees wat hom of haar in die kweekhuis van die familie laat gedy. Om beheer en geduld te behou, is dikwels die moeiliker maar Geesvervulde opsie. Ons lees in Die Klein Prinsie dat die prinsie verantwoordelikheid vir sy roos moes aanvaar. Elke Christen behoort verantwoordelikheid vir sy of haar kosbare verhoudings binne die gesin of familie te neem – een manier om verantwoordelikheid vir jou roos te neem is om te kies vir konstruktiewe konflikhantering.

Hier volg drie belangrike konflikhantering beginsels waarmee ek as sielkundige graag in terapie (binne interpersoonlike verhoudings oor die algemeen maar ook binne die huwelik of gesin werk):

1. Ons is albei reg

Wanneer daar konflik tussen twee mense is, is elkeen se houding gewoonlik: Ek is reg en jy is verkeerd. As dit nie so was nie, sou daar mos nie konflik gewees het nie. Om konflik suksesvol op te los, is dit noodsaaklik dat elke party moet erken dat die ander persoon of party ook reg is. As jy nie bereid is om te erken dat die ander persoon ook reg is nie, begin jy net vir jou eie belang veg. Dit lei daartoe dat die ander persoon dieselfde doen. Wanneer elkeen net vir sy eie belang veg, is ons terug by ‘n wen/verloor benadering. Christene is nie veronderstel om net na hulle eie belange om te sien nie. Die Here weet dat dit altyd tot konflik sou lei...

In Fillipense 2:4-5 lees ons: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.”

Dit bring ons by die tweede beginsel:

2. Ons teen die probleem

Die tweede belangrike beginsel waarop die wen/wen benadering berus, is om die probleem aan te pak en nie mekaar aan te val nie. Dit gebeur so maklik dat die probleem op die agtergrond geskuif word en dat twee persone of partye al hulle krag en energie gebruik om mekaar aan te val. Dit gebeur gewoonlik wanneer een party die ander party beskuldig. Dan is die ander party onmiddellik op die verdediging en die hele argument raak ‘n ek-teen-jou ding.

In die ek-teen-jou benadering sien die partye mekaar as opponente, dit wil sê hulle staan aan teenoorgestelde kante. Die ons-teen-die-probleem benadering beteken dat die twee partye aan dieselfde kant is en saam die probleem aanval – nie mekaar nie. Die Christelike ideaal is tog om in gees een(sgesind) te wees.

3. Fokus op die toekoms

Om konflik suksesvol op te los moet die partye fokus op dit wat hulle graag sou wou sien in die toekoms moet gebeur. Hulle moet dus ophou om mekaar oor die verlede te kritiseer. ‘n Mens kan niks aan die verlede doen nie. Die seer en onregverdigheid kan nie ongedaan gemaak word nie. Wat gesê is, is gesê. Wat gebeur het, het gebeur. Ons kan nie die verlede verander nie, maar ons kan daaruit leer. Ons moet leer hoe om nie dieselfde foute te maak nie.

Samevatting

Om konflik reg te hanteer is daar dus drie belangrike beginsels wat in die familie aanvaar moet word:

- Ons is albei reg;

- Ons teen die probleem;

- Fokus op die toekoms.

‘n Moontlike konflikhanteringstegniek

‘n Praktiese manier om hierdie drie belangrike beginsels in konflikhantering toe te pas, is om die volgende konstruktiewe konflikhanteringstegniek uit te probeer, in te oefen en jou eie in die kweekhuis te maak. Kom ons noem dit die ek sê – jy sê tegniek. Nie almal is bereid om die pad met hierdie voorgestelde konflikhanteringstegniek te stap nie, maar dié wat dit wel uitprobeer, pluk die vrugte daarvan – hulle kom by kompromië of ooreenkomste uit waarby hulle andersins nooit sou uitkom nie...

Kom ons neem ‘n eenvoudige voorbeeld. Gestel julle het ‘n verskil van mening of potensiële konfliksituasie binne die motor waarin julle saam op pad is. Wanneer die ander persoon ‘n stelling teenoor jou maak, byvoorbeeld “Ek dink regtig dit is nou te koud in die motor” is die idee dat jy sy stelling eers sal terug reflekteer (herhaal) deur te sê: Jy sê jy dink dat dit regtig nou te koud in die motor is”. Eers dan mag jy sê wat jy dink, byvoorbeeld: En ek sê ek kry regtig warm en dit is waarom ek die lugverkoeling aangesit het.”

Die idee is dat dieselfde riglyn vir die ander persoon geld, naamlik dat hy op sy beurt nou eers jou woorde moet terug reflekteer (herhaal) voordat hy weer iets mag sê, byvoorbeeld Jy sê jy kry regtig warm en dit is waarom jy die lugverkoeling aangesit het En ek sê maar kyk na die temperatuur buite – dit is 22 grade!”

Die gesprek gaan voort met beurtelingse refleksie waarna jy eers kan sê wat jy wil sê, byvoorbeeld: Jy sê die temperatuur buite is 22 grade En ek sê maar binne in die motor bly dit ongemaklik drukkend wanneer die lugverkoeling af is...”

Met hierdie tegniek is dit noodsaaklik om slegs een sin of gedagte ‘n slag uit te spreek – hou dus die gesprek in kort rondtes waarin julle mekaar elke keer weer ‘n beurt gee. Op hierdie manier word jy gedwing om so goed te luister na die ander een se (verskillende) opinie dat jy dit woordeliks kan herhaal. Daarna kry jy die geleentheid om eers te dink wat jy wil sê. Die proses bly rustig en rasioneel dog dinamies in die sin dat daar progressie is. Dit verhoed ‘n storm wat geneig is om seer te maak of te breek.

Slot

Kom ons maak dit binne ‘n geweldadige samelewing ons roeping om binne die familie – wanneer dit by konflik kom – eerder te bou as om te breek. Daar kan ‘n positiewe skuif in konflik in die familie plaasvind, indien jy van jou kant af begin om ‘n wag voor jou mond, ‘n poort voor jou lippe te plaas... Slegs woorde wat positief is en wat opbou, mag deur hierdie poort beweeg. Selfs in tye van groot druk of spanning. Dan is jy besig om saam met God in Sy koninkryk aan jou Godgegewe huwelik, gesin of familie te bou.

Dit behoort ‘n wonderlike kweekhuis effek te hê...​

 

Recent Posts
bottom of page