top of page

Hersaamgestelde gesinne

Ongeveer 5 uit 6 huwelike in Suid Afrika eindig in die skeihof. Meeste geskeides trou weer. Dit het natuurlik tot gevolg dat daar ‘n groot hoeveelheid hersaamgestelde gesinne is en dat dit aan die toeneem is. Dit is nie meer ‘n vreemde verskynsel om my kinders, jou kinders en ons kinders binne ‘n huwelik te hê nie. Dit bring noodwendig uitdagings mee.

Natuurlik is een van die moeilikste uitdagings om van twee aparte gesinne wat noodwendig met hul eie seer en teleurstellings sit, een nuwe gelukkige gesin te vorm. Dit gebeur nie oornag nie en is ‘n voortdurende groeiproses. Nie net moet die paartjie aanpas by ‘n nuwe huwelik nie, maar ook moet die kinders aanpas by ‘n nuwe ouer en sy of haar kinders. Almal moet hul voete en plek in die hiërargie van die nuwe gesin vind en dit veroorsaak dikwels spanning. Soms moet die invloed of impak van jou maat se vorige huweliksmaat ook hanteer word en moet die uitgangspunt wees dat jy jou maat se eks altyd sal respekteer as die ma of pa van sy of haar kinders.

Voor ‘n mens jou enigsins begewe in ‘n volgende huwelik is dit van kardinale belang dat ‘n mens sal seker maak dat jy self emosioneel gesond is. Dat jy die spoke van die verlede begrawe het en dat jy vrede gemaak het en jou seer en verlies verwerk het. Dan, en net dan kan ‘n mens met oorgawe liefde gee en ontvang en jouself toelaat om weerloos te wees.

Twee emosioneel, gesonde mense binne die huwelik kan dus makliker die uitdagings hanteer. Vanuit die staanspoor moet dit duidelik gemaak word dat hierdie ‘n nuwe gesinseenheid is. Die nuwe ouer vervang nie die kinders se biologiese ouer nie, maar lewer ook ‘n belangrike rol in die kind se ontwikkeling. Daar word dus nie onderskeid getref tussen my kinders en jou kinders nie, dit is ONS kinders. Indien dit nie die geval is nie kan ouers maklik voel hulle moet hul kinders beskerm teen die nuwe huweliksmaat, of dat daar kant gekies word. Dit is dikwels moeilik omdat veral die vrou / man dalk ‘n hele ruk lank enkelouer was en ‘n bepaalde rol ingeneem het wat nou noodwendig verander. Dit is soms moeilik vir kinders om dit te verstaan. Gesinsvergaderings waar uitdagings en ook goeie dinge bespreek word is ‘n sinvolle manier om dit te hanteer.

Let op na die volgende wat belangrik is:

  • Ons is EEN gesin.

  • Dit is ONS kinders.

  • Wees emosioneel gesond voor jy weer trou.

  • Maak die kinders deel van die troue. Dit is nie net ‘n nuwe huwelik nie, maar ook ‘n nuwe gesin. Dit is belangrik om die kinders almal te laat deel voel. Hulle is net so belangrik om die nuwe gesin gelukkig te laat funksioneer.

  • Jul as ouers hoef nie altyd saam te stem nie, maar jul moet saamstaan, anders gaan die kinders jul begin manipuleer.

  • Stel saam met die kinders huiswaardes op (maak hulle deel daarvan, so voel hulle ook meer in beheer), gebruik die ONS-beginsel:

In ONS huis:

  • Praat ons mooi met mekaar;

  • Respekteer ons mekaar, asook mekaar se eiendom/gevoelens en spasie;

  • Deel ons ons gevoelens met mekaar, ensovoorts.

Onvoorwaardelike liefde gaan ‘n ver pad. Kinders wat onseker voel of seer het vertrou soms moeilik en toets eers die opregtheid van iemand se liefde. Verstaan dit en hê begrip daarvoor.

Voorbereiding op terapeutiese vlak vir die paartjie en kinders, voor die troue nog plaasvind, is ‘n goeie begin in die geval van hersaamgestelde gesinne. So kan ‘n mens toekomstige probleme voorkom en ‘n goeie basis lê. Indien daar na die troue probleme is is dit ‘n goeie idee om vroeër as later professionele hulp in te roep. Dit is gewoonlik uiters suksesvol en ‘n groeiproses vir almal betrokke.

God se Woord sê: “Where there is unity, He will command His blessing!”

Recent Posts
bottom of page