Druk om te presteer ... vervolg
Vraag 2: Wat is die opbrengs/voordeel van die druk en vir wie?
Hier moet weereens met wysheid gekyk word na die situasie. Vrae wat beantwoord moet word, is die volgende:
Watter voordeel trek die sondebok uit die druk wat hier gegenereer word?
Watter voordeel trek die “slagoffer” uit die druk wat hier gegenereer word?
Watter voordeel trek ‘n (onaktiewe?) ander party uit die druk wat hier gegenereer word?
Is daar werklik voordeel wat die direkte gevolg is van die druk wat toegepas word, of is dit blote gewoonte druk?
Word daar werklik druk beleef, of is dit blote aannames oor druk?
Die voordeel wat getrek word (verkieslik deur die slagoffer) moet goed opgeweeg teen die prys wat betaal word (waarskynlik in lewenskwaliteit wat ingeboet word). Om hierdie vergelyking te tref, moet die prys bepaal word.
Vraag 3: Wat is die prys wat betaal word?
Nou word daar bloot gekyk na die opofferings wat die slagoffer maak om die druk wat geplaas word in stand te hou en na die effek wat die druk op die slagoffer het.
Wat is die invloed van die druk wat uitgeoefen word op sy lewe/lewenskwaliteit.
Prys in terme van emosionele belewing
Prys in terme van tydsfaktor
Prys in terme van inspanning
Prys in terme van invloed op ander aspekte van sy lewe
Vraag 4: Regverdig die opbrengs die inset?
Kyk na die prys wat betaal word en kyk na die voordeel wat verkry word.
Is dit realisties?
Is dit nodig om hierdie druk voort te sit?
Hoe kan die situasie verander word?
Wie kan die situasie verander?
Gaan jy die situasie verander?
Die laaste vraag is die kruks van die hele proses vir die bestuur van druk. Druk wat ervaar word, gaan nie verbeter as die situasie nie daadwerklik verander (word) nie. Die situasie gaan nie verander as iemand dit nie verander nie.
Druk gaan dus nie verminder of verander as die persoon wat dit ervaar nie ‘n pro-aktiewe poging aanwend om dit te verander nie. Iemand wat te veel druk ervaar neem nie verstandig beheer van sy/haar eie lewe nie, of anders tree die persone wat moet leiding gee (ouers…) nie met wysheid op nie.
Ouers behoort hierdie vrae saam met hul kind te beantwoord en moet introspeksie hou om suiwer en eerlike antwoorde te vind. Die antwoorde moet dan bespreek word en ‘n balansstaat moet opgestel word.
Ouers is primêr verantwoordelik vir hul kind totdat hy die ouderdom bereik waar hyself verantwoordelik is. Ouers het geen reg om “ander mense” te blameer vir hul kind se druklading nie, hulle wel die reg om in te tree en die lading te verlig.
Wat keer dat ‘n ouer opstaan vir sy kind deur te sê wat mag en wat mag nie, sonder om die skool of iemand anders te blameer. Is die ouer en die kind nie veronderstel om ‘n verstandige gesprek te hê en die buitemuurse lading en akademiese verwagtings te versoen nie?
Is passiwiteit om in te tree nie dalk die grootste druk fasiliteerder nie?
Onthou, die lewe gaan nie daaroor dat jy die beste van ‘n groep moet wees, dat jy moet raakgesien word in ‘n massa en dat jy toekennings moet versamel nie.
Om suksesvol te wees moet jy die gemaklikste jy wees, presies soos wat God jou geskape het, jy moet met vreugde raakgesien word deur jouself en deur Hom en jy moet vrede versamel. Om suksesvol en gelukkig te wees moet jy tyd en energie oorhê om in jou eie menswees te belê.
Hierdie sukses kom wanneer jy weet wat jy wil doen, wat die prys is wat jy gaan betaal en wat die vreugde is wat jy gaan ontvang – met gesonde, doelmatige druk wat jy self bestuur.
Hoe raak ‘n mens van (ander) se prestasiedruk ontslae?
‘n Mens wat ongesonde druk wil verander na gesonde druk moet ander mense se wense en begeertes sekondêr stel aan jou eie drome, vermoëns, wense en begeertes. (Let wel sekondêr stel, nie heeltemal weggooi nie).
REG: Jy mag jou eie doelwitte formuleer
VERANTWOORDELIKHEID: Jy moet jou eie doelwitte formuleer
REG: Jy mag jou eie plan van aksie bepaal
VERANTWOORDELIKHEID: Jy moet jou eie plan van aksie bepaal
REG: Jy mag jou eie tyd-ruimte bestuur
VERANTWOORDELIKHEID: Jy moet jou eie tyd-ruimte bestuur
REG: Jy mag NEE sê vir ander se verwagtings
VERANTWOORDELIKHEID: Dink voordat jy JA of NEE sê
JA: Jy mag jou kind aanmoedig om suksesvol te wees.
NEE: Jy mag nie suksesvol wees DEUR jou kind nie.
JA: Jy mag nou kind aanmoedig om veelsydig te wees.
NEE: Jy mag nie van jou kind verwag om op ALLE terreine suksesvol te wees nie
JA: Jy mag jou kind motiveer
NEE: Jy mag nie jou kind se eiewaarde koppel aan bereiking nie
Neem dus beheer, lewe doelgerig en bewustelik en bestuur jou eie lewe en die van jou kind. Beskerm jou kind teen die verkeerde druk en gee leiding oor die hantering van eise. Tree in wanneer nodig en gee ondersteuning wanneer nodig en VERAL moenie dat jou kind vir die verkeerde redes dinge doen waarvoor die prys hoog is nie.