top of page

Hoe kan ek makliker leer?


Jy sal vind dat die meeste “slim” kinders in jou klas die volgende doen:

Hulle is voorbereid. Hulle weet watter huiswerk om te doen en wanneer take ingehandig moet wees. Hulle het altyd die regte skryfbehoeftes en berei elke dag vir die volgende dag voor.

Hulle is georganiseerd. Hulle notas is netjies en hulle werk lyk sommer goed. Hulle skooltasse is netjies gepak en hulle lessenaars is georden.

Hulle is betyds. Hulle staan voor in die ry en gebruik pouses om sake af te handel – hulle sorg dat hulle klaar daarmee is voor die klok lui.

Hulle neem notas. Hulle luister in die klas en weet wat gesê is. Die klaskamer is ‘n leersituasie en hulle gebruik dit om solank inligting bymekaar te maak vir die eksamen.

Hulle weet hoe om te leer. Hulle weet watter leerstyl hulle verkies en gebruik dit daagliks in die klas en ook vir huiswerk.

Hulle vra vrae. As hulle wonder oor iets, sal hulle in die klas vir die onderwyser vra. Hulle doen ook moeite om later iets uit te klaar waaroor hulle nie 100% seker is nie. Hulle voltooi alle opdragte. Hulle doen elke dag huiswerk en gee alle opdragte betyds in.

Hoe motiveer ek myself om te leer?

Dit is normaal om van tyd tot tyd ongemotiveerd te voel. Hier is ‘n paar eenvoudige wenke:  Sorg dat jy genoeg slaap kry.  Eet reg en mooi gesond.  Stel vir jouself uitdagende doelwitte.Moenie onrealistiese doelwitte stel nie.  Praat altyd positief met jouself. Vertel jouself jy gaan dit regkry!  Maak vriende met mense wat jou oplig en nie aftrek nie!

As jy besef jy kort motivering, doen die volgende:

Bepaal wat jou so ongemotiveerd laat voel.Identifiseer die bron – dit kan intern (in jouself) wees of ekstern (omgewingsfaktore). Soek maniere om die bron aan te spreek. Hoe benader ek my studies?

Die volgende handel oor jou ingesteldheid teenoor jou skoolwerk. Daar is veral drie belangrike aspekte:

Doelwitte

Jy moet weet waarheen jy oppad is. Wat wil jy bereik? Watter punte wil jy graag hê. Moenie onrealisties wees nie, maar maak jou mikpunt altyd so effens hoër as wat jy dink jy kan bereik.

Beplanning

Jy het ‘n spesifieke plan nodig. Hoeveel tyd gaan jy per dag aan skoolwerk spandeer? Wanneer gaan jy wat leer? Wat leer jy eerste? Wat is jou strategie?

Monitor

Soos wat jy leer, moet jy jou vordering monitor. Maak ‘n lysie van wat jy verkeerd gedoen het (sodat jy daaruit kan leer). Kyk hoe goed is jy nog oppad na jou doelwitte. Besluit hoe jy gaan aanpas en wat jy moet verander. Leertegnieke:

Daar is ‘n groot verskeidenheid maniere om te leer. Hier is ‘n paar wat jou kan help: Assossiasie

Sleutelwoorde:

Identifiseer ‘n paar sleutelwoorde en memoriseer dit. Nuwe woorde (Mnemoniek):

Vat die eerste letter van die sleutelwoorde en bou ‘n sin daarmee. Arme Ek Is Oupa Uil – die eerste letters is al die klinkers.

Stukke:

Groepeer wat jy moet leer in kleiner dele.

Geheuepaadjie:

Maak ‘n bekende pad jou geheuepad. Jy koppel elke aspek van dit wat jy moet memoriseer aan ‘n bekende roete met bakens wat jou sleutelwoorde is.

Visualisering:

Gebruik jou verbeelding om iets te onthou. Jy kan selfs feite in jou gedagtes herhaal tot jy dit ken. Andersins maak jy ‘n breinprentjie van wat jy besig is om te leer. As jy die ontkieming van die boontjie moet leer, visualiseer jy ‘n boontjie wat ontkiem. Jy sien jouself as ‘n mier in die grond wat elke dag die boontjie bekyk.

Verbalisering:

Jy gebruik woorde om te leer. Jy kan die woorde hardop sê of dit neerskryf. Maak van notas. Jy kan ook ‘n “toespraak” uitwerk oor dit wat jy moet leer.

Simuleer:

Rolspel – jy leef jou in die karakter in wat jy bestudeer of jy maak ‘n drama-reeks of geselsprogram daaroor.

Optrede:

Met hierdie metode herhaal jy oor en oor die materiaal tot jy dit kan onthou. Jy koppel dit aan iets wat vir jou bekend is om dit makliker te onthou.

Herhaling:

Herhaal op verskillende maniere die inhoud. Gebruik flitskaarte of werk op die rekenaar Hoe om te studeer:

Hier is ‘n paar wenke om die leerproses aan te pak:

Identifiseer wat jy moet leer en kry alles bymekaar. Jy het handboeke, notas, skryfpapier, skryfbehoeftes en ‘n sakrekenaar nodig voor jy kan begin met jou huiswerk.

Verken:

Verken en bekyk jou leermateriaal. Jou eie leerstyl sal bepaal hoe jy met jou leermateriaal moet omgaan. Daar is sewe soorte intelligensies en elkeen het sy eie metode.

Organiseer:

Hierdie deel van die leerproses het drie afdelings: Analise, tegnieke, voorbereiding. Dit beteken jy moet die volgende doen: Gaan oor die inhoud om ‘n oorsig te kry.Maak ‘n keuse oor watter leermetode jy gaan gebruik.Berei jouself en die leermateriaal voor vir die leermetode.

Versterking:

Met hierdie stap begin jy om die leermateriaal in jou langtermyngeheue te bêre. Dit word gedoen deur jou voorkeur leerstyl, deur soveel as moontlik sintuie te betrek, herhaling op verskillende maniere en voortdurende hersiening.

Meting:

In hierdie stap bepaal jy hoe effektief jy geleer het. Dit hoef nie net aan die einde van die leerproses te wees nie, maar ook tussendeur.

Recent Posts
bottom of page