top of page

Hoe kweek ek 'n vertrouensverhouding met my tiener?


“Om ‘n groentetuin te begin, klink heel eenvoudig” het ek gereken. “Dit behoort nie te veel tyd en aandag te verg nie. Hoe moeilik kan dit dan nou wees?” Ek het vinnig agtergekom dat ek nie die vaagste benul gehad het nie!

Ons verhouding met ons kinders kan met ‘n groentetuin vergelyk word. Ek kan my groentetuin paai met mooi woorde; ek kan vir die plantjies stories lees, maar as die plante nie genoeg water, suurstof en lig kry nie, is al my ander pogings futiel.

Wanneer ons kinders tieners word, raak ons venster van invloed dikwels al hoe kleiner. Dit kan nogal ouers moedeloos maak. Daarom is dit juis so belangrik dat ons die belangrike ‘tuinwerk’ van die begin af reg doen, sodat daar reeds ‘n goeie fondasie gelê is wanneer my kind haar/sy tienerstadium bereik.

‘n Belangrike element wat ons intensioneel in ons verhouding met ons kinders kan inbou (en wat veral tieners nodig het), is vertroue.

Net soos wat ek die hoeveelheid tyd en aandag wat ‘n groentetuin vereis totaal onderskat het, maak ons soms dieselfde fout met ons kinders. Daar is geen maklike oplossing nie: vertroue tussen ouer en kind word slegs gebou deur gereelde, sinvolle, ononderbroke connection. Ek kan dalk my kind vir ‘n wyle gelukkig hou met ‘n nuwe gadget, maar daar is geen plaasvervanger vir ouers wat kies om hul tyd ter wille van hul kinders uit te koop nie.

‘n Primêre behoefte by kinders is om een-tot-een tyd saam met Ma en Pa te spandeer. Sommige tieners sal tye wanneer ek vir Pa en/of Ma direk in die oë kan kyk baie waardeer. Met ander tieners gaan jy dalk meer kreatief moet wees, want as Ma my diep in die oë kyk gaan dit my uitfreak! In hierdie geval is ons op die uitkyk vir tye waar ek en my kind sy aan sy is, en waar ons albei gemaklik is (langs die viswaters, in die kar wanneer ons langpad ry, wanneer ons saam in die yskas snuffel vir iets om aan te peusel).

‘n Waardevolle stukkie raad wat ek op die blog Kinstantly raakgelees het, is dat ons moet leer om ons tieners se gesigte te ‘lees’. Jy kan gewoonlik aan jou kind se gesig sien watter lig is aan: ‘n rooi lig, ‘n groen lig of geen lig.

Wanneer daar ‘n rooi lig op my kind se gesig is, gaan sinvolle gesprek en verbinding nie gebeur nie. Byvoorbeeld: as ek sopas aan my tienerseun verduidelik het dat hierdie naweek nie ‘n goeie tyd is om saam met sy vriende te gaan visvang nie, gaan ek dalk nie veel uitgerig kry as ek sommer in dieselfde asem een-tot-een tyd saam met hom wil spandeer nie.

Geen lig: my kind se aandag is op ‘n ander plek en ek gaan my tyd en energie mors. Byvoorbeeld: sussie moet eintlik nou aan ‘n opdrag werk, of sy is besig om ‘n intense gesprek met ‘n vriendin op WhatsApp te voer. (Terloops: dit is belangrik om tye te identifiseer waar niemand in die huis op enige skerm behoort te wees nie (ook nie ma en pa nie!); anders gaan ons amper nooit ‘n groen lig op ons familie se gesigte sien nie!)

Enige ouer weet wanneer hul kind ‘n oop gesig het; wanneer daar nie afleidings is nie en wanneer ek sommer kan sien dat hul ontvanklik sal wees vir ‘n goeie gesprek. Hierdie gesig is die groen-lig-gesig. Nou is die ideale tyd om met my kind te connect. Met ‘n groen-lig-gesig kan ons wondere verrig! Die manier wat ons ons tyd inrig, kan die hoeveelheid groen-lig-gesig geleenthede drasties verminder of vermeerder!

Maak daarom seker dat jy die basics reg doen. Dit lyk dalk nie altyd so nie, maar enige tiener het ‘n inherente behoefte om ‘n goeie verhouding met hul ouer(s) te hê. Ons moet hul net die beste kans gee om dit reg te kry; met baie genade, onvoorwaardelike liefde en kreatiwiteit.

Recent Posts
bottom of page