top of page

Woorde wat breek of bou

Die kweek van kommunikasie in die huwelik

Kommunikasie het die potensiaal om die huwelik te maak of te breek. Die mens is die enigste Godgeskape wese wat die gawe van kommunikasie deur middel van woorde van God ontvang het. Daarom is dit so ironies dat man en vrou wat in die huwelik bymekaar gevoeg is, selde genoeg met mekaar praat. Ons praat dikwels nie met mekaar oor belangrike kwessies of behoeftes nie, omdat ons bang is dat ons met mekaar sal baklei. Dit is egter beter om konflik oor ’n kwessie te hê as wat dit onuitgespreek in jou hart bly lê, en ’n swaar gewig word wat ’n wig tussen jou en jou lewensmaat indryf...

Effektiewe kommunikasie

Daar is veral tien riglyne oor effektiewe kommunikasie wat ek graag aan huwelikspaartjies met huwelikstres deurgee. Hierdie riglyne kweek liefde, respek en menswaardigheid binne die kommunikasieproses in die huwelik.

* Geen gedagtelees!

Dit gebeur so maklik dat die een die ander een se gedagtes (probeer) lees. Dit is eintlik soos enige ander slegte gewoonte waarin ’n mens kan verval. Dit kom daarop neer dat die een vas glo die ander een iets dink of gaan doen wat glad nie die geval is nie. Byvoorbeeld, die vrou dink die man dink: “Ek gaan jou los,” terwyl die man glad nie daaraan dink nie – maar daar is dalk iets anders wat hom van sy vrou pla. Hy het egter nog net nie die moed of tyd gehad om dit teenoor haar te verwoord nie.

Dit is van groot belang om dit wat jy dink die ander een dink, liewer met hom of haar uit te klaar. Wag vir die regte tyd, plek en geleentheid om vir hom of haar te vra of dit is wat hy of sy dink.

* Geen vrae wat nie regtig vrae is nie

Dit is so maklik om jou woede of hartseer in die vorm van ’n sarkastiese vraag te verskuil eerder as om net eerlik met jou maat daaroor te praat. So maklik vra sy aan hom: “Vanaand hang jy seker weer by die gholfklub uit, nè?” of hy sê vir haar: “Dit sal help as jy meer tuis is, of wat sê ek nou?” In plaas van hierdie sarkastiese vrae wat die bedoeling het om die ander party by te kom of seer te maak, moet jy eerder jou behoefte positief teenoor jou maat te verwoord.

* Elke deelnemer mag net namens hom- of haarself praat

Waak daarteen om namens jou maat te praat. Hy of sy het sy of haar eie realiteit en is ’n volwassene wat die reg het om vir hom- of haarself te praat. Poog eerder om die kommunikasie op ‘n volwasse vlak te behou as om in die posisie van die ouer in te gaan en jou maat in die posisie van die kind te plaas.

* Elke deelnemer moet sê hoe hy voel in pleks daarvan om waardestellings of veroordelings te maak

Hier is die gebruik van “ek”-boodskappe belangrik. In plaas daarvan om ’n aantyging in die vorm van ’n waardestelling of veroordeling te maak, soos: “Jy laat die opvoeding van die kinders net aan my oor. Jy’s niks anders as ’n afwesige pa nie!” kan jy dit positief en opbouend verwoord met “Ek het regtig nodig dat jy my hand in die opvoeding van ons kinders moet versterk. Ek weet uit die verlede dat jy oor die vermoë beskik om waardevolle insette te gee.” Hierdie vorm van kommunikasie is baie minder bedreigend en baie meer konstuktief.

* Die gesprek moet in die hier en nou plaasvind

Dit gebeur so maklik dat jy die verlede ophaal en jou maat met voorvalle uit die verlede gooi, is dit nie so nie? Nee, wanneer julle oor ’n kwessie of probleem gesels, moet julle op die hede fokus. Sê wat nou pla. Hou daarby. Plaas die huidige probleem op die tafel, en probeer sover moontlik om net daarop te fokus.

* Stuur van telegramme (of liewer sms’e!) is verbode

Julle moet slegs volledige boodskappe vir mekaar stuur. ’n Volledige boodskap bestaan uit:

  • ’n Stelling

  • ’n Rede

  • Toepaslike gevoelens

Antjie Krog dig: “… my hier word al hierder en jou daar al daarder.”

Soos wat julle toegelaat het dat die eise van die tyd, uitdagings, verpligtings, ander prioriteite en rolspelers julle oor die tydperk van jare begin insluk het, het julle dalk minder en minder met mekaar begin praat. Wanneer julle praat, blaf julle net vir mekaar in telegramstyl. Op so ’n manier is julle besig om die brug van kommunikasie om by mekaar uit te kom, verder af te breek. Dit is tyd om die water, sement en boustene van meer breedvoerige sowel as respekvolle kommunikasie nader te sleep om die brug na mekaar se lewe en innerlike wêreld te bou. Maak ’n stelling met jou redes daarvoor en plaas dit binne die konteks van jou toepaslike gevoelens wanneer jy met jou maat oor belangrike aspekte kommunikeer. ’n Voorbeeld sou wees: “Ek het ’n probleem daarmee dat jy dinge wat pla met jou ma deel en nie met my nie. Dit maak my hartseer en terselfdertyd kwaad omdat ek graag die een in jou lewe wil wees wat dit die eerste wil hoor en jou daarin wil ondersteun.”

* Eindig met ’n voorlopige, definitiewe besluit

Die ou beginsel “No unfinished business” geld in hierdie geval.

Wanneer julle konflik het, kan dit so maklik gebeur dat julle kwaad gaan slaap. Om kwaad te gaan slaap gaan teen die Woord en wil van God in. Dit is belangrik om vrede te maak en weer met mekaar versoen te raak. Bou julle huis deur dag vir dag, steen vir steen op mekaar te sement. Anders word die kloof tussen julle geleidelik (dikwels ongemerk) groter totdat daar ’n afgrond tussen julle is wat dit onmoontlik maak om weer bymekaar uit te kom.

(Tydens ‘n latere geleentheid DV in Mei sal ek meer uitwei oor konflikhantering wat aansluit by hierdie riglyn.)

* Slegs een onderwerp op ’n keer

Die meeste van ons het al agtergekom dat dit nie opbouend is om al die onderwerpe wat pla tegelykertyd op die tafel te plaas nie. Fokus op een onderwerp op ’n keer. Wanneer jy weer konflik met jou maat het, maak dit hierdie keer slegs een onderwerp se kans om op die tafel uitmekaar gehaal te word sodat julle ’n volgende keer, of ’n bietjie later, ’n ander onderwerp onder die vergrootglas kan plaas.

* Hou die rondtes kort

Hierdie riglyn vir opbouende en effektiewe kommunikasie beteken nie om kortaf of onvolledig met mekaar te kommunikeer nie. Dit beteken eerder om jou maat ’n kans te gee om klaar te praat voordat jy praat. Dink aan ‘n tenniswedstryd: die een speler slaan een bal op ‘n slag en wag vir die bal om van sy opponent af terug te kom, voor hy ‘n volgende bal kan slaan...

* Humor

Dit is hartseer om in terapie te sien hoe min humor in die verhouding tussen man en vrou oorgebly het. Dalk het jy ook op ’n punt gekom waarin die humor tussen jy en jou lewensmaat totaal verloor het? Julle lag nie meer oor iets saam nie. Jy het nodig om weer die humor wat julle waarskynlik aan die begin van julle verhouding gehad het, te herontdek, om weer saam te lag oor dinge. So styg julle saam bokant julle probleme uit om dit meer op ’n afstand te sien en nie daarin vas te sit nie. Die sielkundige Elisabeth Bishop het gesê daar is drie goue reëls vir goeie kommunikasie in belangrike verhoudings, hetsy intiem of terapeuties:

  • Wees altyd jouself.

  • Sê die moeilike goed!

  • Indien enigsins moontlik, probeer snaaks wees.

Om met mekaar te praat, en openlik met mekaar oor julle probleme te wees, is ontsettend belangrik vir die instandhouding en oorlewing van julle huwelik. As julle huweliksprobleme egter so ver gevorder het dat dit nie meer moontlik vir julle is om met mekaar te kan praat nie, gaan praat met ’n ander persoon – ’n professionele persoon wat julle kan vertrou en julle inligting vertroulik sal hou. Gaan soek hulp. Stryk die probleme met mekaar uit. Moenie die probleme los en glo dit sal weggaan nie. Dit gaan nie soos mis voor die son verdwyn nie. Moenie wag totdat julle probleme ’n onoorkomelike berg word nie. Maak dit julle gewoonte om saam teen ’n probleem te baklei en dit uit te sorteer. Baklei die probleem – nie die ander persoon nie.

Later meer hieroor in die artikel oor konflikhantering.

Kom uit die storm uit - betree die kweekhuis van kommunikasie binne die huwelik met hierdie opbouende riglyne wat daarop neerkom om die pad terug te vind na liefde, respek en menswaardigheid binne jou huwelik.

Recent Posts
bottom of page