top of page

Vervolg - Die Huwelik

As ek nog nie in ‘n huwelik is nie, besin ek daaroor. Voor die huwelik moet ek seker maak dat ek kans sien om die liefde in stand te hou. Voor die huwelik moet ek die situasie met ‘n oop kop en toeganklike hart onder die loep neem. As ek besluit om voort te gaan moet dit sienderoë wees. Maak seker dat julle albei weet waar julle met mekaar staan.

Onthou dat liefde nie groei as gevolg van die ander persoon se wonderlike eienskappe nie, liefde groei ten spyte van die ander persoon se tekortkominge. Liefde groei nie omdat dit elke dag reën nie, liefde groei omdat ek bereid is om met ‘n gieter te loop en water gee wanneer dit droog raak en water broodnodig is.

En as ek besluit om voort te gaan en ek beland op ‘n dag in ‘n droogte seisoen?

Dan praat ek daaroor. Dan praat ek nie om seer te maak of te kritiseer nie, ek praat omdat ek ‘n besluit geneem het om lief te hé en omdat dit vir my moeilik raak om my besluit te handhaaf. Ek praat omdat ek WIL liefbly vir my huweliksmaat. Ek praat omdat ek ons lewe saam aan die kant wil maak. Ek praat omdat ek my huweliksmaat wil help om te groei. Ek praat om heel te praat, om gesond te praat, om ‘n oplossing te vind en ek hou nie op praat voordat ek dit bereik het nie.

Ek praat nie net nie, as die huwelik vir my moeilik raak om te hanteer, dan luister ek. Ek luister nie met fyngevoelige ore nie, ek luister nie omdat ek ammunisie bymekaar maak nie, ek luister nie omdat ek ‘n argument wil begin – of wil wen – nie. Ek luister omdat my maat genoeg omgee om te praat. Ek luister omdat ek wil saamwerk aan ons lewe saam. Ek luister omdat ek wil groei binne die huwelik.

“Ja, maar”, hoor ek dikwels, “ons het al gepraat en my ore is al aan’t suis van al die luister en ons kom nêrens nie.” Dan mense, gaan klop jy aan vir raad en leiding. Gaan praat met iemand wat julle kan help. Moenie los en vas praat oor jou huwelik nie, praat met iemand wat genoeg omgee vir albei van julle om regtig jul verbintenis op die hart te dra. Praat met iemand wat wysheid het, insig het en wat verstaan waaroor die huwelik gaan.

Moenie met ‘n persoon praat wat jou kant gaan vat en lekker saam gaan skinder oor die ander persoon nie en moenie met iemand praat wat te betrokke is by een of albei van julle nie. Praat met iemand wat objektief is, wat eerlik is en wat genoeg omgee om diep te luister en reguit te praat.

En daardie “nuwe liefde”. Mense het mos nooit “daarvoor gesoek” nie. Ek het nog nie een enkele geval van huweliksontrou in my praktyk hanteer waar die oortreder nie hartstogtelik oortuig was dat hy/sy “nie so is nie” en “nie daarvoor gevra het nie”.

Jy stap nie in die bakkery rond en dan beskuldig jy die geure en kleure van die gebak, of jou voorliefde vir lekker eet, wanneer jy begin smul nie. Eet by die huis en bly weg van die versoekings. ‘n Getroude persoon behoort nie die geselskap van ‘n persoon van die teenoorgestelde geslag op te soek nie, jy het geselskap tuis. As jy dieselfde borrelende, interessante rol tuis speel, kan dit dalk net gebeur dat jou medespeler skielik ‘n oplewing toon en vir jou ‘n aanloklike proposisie word.

Onthou dus altyd. Om vir iemand lief te word is genade, om vir iemand lief te bly is ‘n wilsbesluit wat jy elke dag van voor af moet neem. Dit is ‘n besluit wat heerlike vrugte oplewer en die koestering en bewaring van die liefde is ‘n uiters bevredigende aktiwiteit.

Probleme in die huwelik? Besluit hier en nou om jul liefde te laat groei deur dit voortaan te hanteer soos die kosbare geskenk wat dit van die begin af was.

Recent Posts
bottom of page