Die huwelik
Ons sien deesdae al hoe meer hoe sommige van ons samelewing se tradisionele boustene verkrummel. So ook word heelwat van die boustene van ons menswees verander. Dit waarin ons glo word uitgedaag, ons denke word (soms teen ons beterwete) vernuwe en ons optrede word bevraagteken en dikwels afgemaak as eng en oudmodies.
Een van die dinge waarin ons sekuriteit en menswees gesetel was – en behoort te wees – is die huwelik. Hetsy jou ouers se huwelik, jou eie huwelik of jou kinders se huwelik(e) – huwelike is deel van ons lewens.
Ons gaan so deur die loop van ons lewe baie ooreenkomste aan en ons maak baie ondernemings. Sommige van hierdie ooreenkomste ly later skipbreuk en sommige van hierdie ondernemings word nie deurgevoer nie. Dit is nie goed nie, maar kom ons skryf dit maar toe aan menslike foute?
Ons vergeet egter dat ons huweliksooreenkoms en huweliksonderneming ‘n ooreenkoms met ons Skepper- en ‘n onderneming aan ons Skepper is. Ek het voor Hom gestaan en ooreengekom dat ek my huweliksmaat neem as my lewensmaat en ek het voor Hom onderneem om getrou te bly tot die dood ons skei.
‘n Huwelik is dus nie, soos wat ons so graag wil glo, bloot ‘n menslike wettiese instelling wat so stil-stil deur mense goedgekeur, uitgevoer en geëer moet word nie. Dit is ook nie die gemaklike en natuurlike gevolg van twee mense se liefde – wat ‘n stil dood kan sterf met die verskoning dat hulle “nie meer dieselfde voel” nie.
‘n Huwelik is ‘n ooreenkoms en onderneming wat met oop oë aangegaan word. ‘n Huwelik word gebasseer op twee mense se liefde vir mekaar en liefde gaan nie dood nie.
Liefde wat dood gaan is dood gemaak, miskien nie doelbewus nie – maar wel deur versuim. Ek kan nie ‘n plantjie plant en dan verwag dat dit deur wind en weer, storms en droogte moet bly lewe sonder dat ek daaraan aandag gee nie. Ek kan nie vir myself ‘n beter plant soek en dan as verskoning die feit aanbied dat my vorige plant doodgegaan het en dat hierdie een my lewe dus gaan beter maak nie. Hierdie nuwe plant gaan presies dieselfde dood sterf as ek dit dieselfde hanteer. Die geheim is om my oorspronklike plantjie op te pas, water te gee, te voed en te snoei wanneer dit nodig is, anders gaan ek maar net dooie plante versamel en nie tuinmaak nie.
Kom ons kyk dus bietjie weer na die liefde as basis vir die huwelik.
Wat is liefde nie?
Liefde is nie die opwinding wat jy beleef wanneer ‘n ander persoon by die deur instap nie.
Liefde is nie die vlinders op die maag wat jou laat borrel en bruis nie.
Liefde is nie die fisiese aantrekkingskrag tussen twee mense nie.
Liefde is nie dat ‘n ander persoon aan jou materiële sekuriteit bied nie.
Liefde is nie ‘n moeitelose, gemaklike saamwees nie en stel nie moeitelose gemak as voorvereiste vir oorlewing nie.
Liefde is definitief nie iets wat in jou lewe kom om jou lewe beter te maak nie.
Wat is liefde wel?
Liefde spruit wel voort nadat daardie opwinding jou na die persoon getrek het.
Liefde skiet aanvanklik wortel uit die energie wat die vlinders op die maag voortbring.
Liefde bind twee mense saam deur die fisiese aantrekkingskrag te gebruik.
Liefde kom nie in jou lewe nie. God het liefde in jou hart geplant en liefde groei in jou wanneer jy dit deel.
Liefde maak nie jou lewe beter nie, jou lewe is wat dit is, liefde maak dit hanteerbaar en liefde vul dit, liefde gee jou krag en liefde gee jou moed. Maar…
Liefde is ‘n besluit, ‘n onderneming, ‘n doelbewuste dinamiese proses!
Ek ontmoet hierdie mens, gaan deur die stappe van verliefdheid en dan besluit ek om vir hom of haar lief te wees en lief te bly. Hierdie aanvanklike besluit is dalk ‘n hartsbesluit en nie noodwendig ‘n kopbesluit nie, maar dit bly die mens se besluit.
Wat doen ek as hierdie persoon vir wie ek besluit het om lief te wees se dingetjies vir my moeilik raak om te hanteer?
Vervolg ..........