top of page

4 Roetemerkers vir die huwelik

Ek is nou ampertjies vier jaar getroud. Vir paartjies wat al dekades getroud is, voel vier jaar seker sommer soos niks. Ons sê gereeld vir mekaar: “Die tyd vlieg”! Ons sien dit veral met ons huwelike en met ons kinders. Die een dag is jy nog vier jaar getroud en as jy weer jou oë uitvee, word jou eerste kind agttien jaar oud!

Juis omdat die tyd so vinnig verbygaan, moet ons seker maak dat ons die tyd saam met mekaar uitkoop. Ons kan so maklik in die strik trap dat ‘n kwartaal verbygaan, maar as vrou en man, of ouer en kind, het ons nie mekaar genoeg in die oë gekyk nie, of het ons nagelaat om so nou en dan iets lekkers saam te doen.

So vinnig soos wat die tyd vlieg, net so vinnig kan die krakies in ons huweliksmuur al hoe groter word. Daarom het ons die voorreg en verantwoordelikheid om met intensie saam met mekaar aan ons huwelikstorie te skryf.

Hier is vier roetemerkers waarby ons gerus gereeld kan verbyloop as huweliksmaats:

1. ‘Connection is crucial’

Een van die grootste uitdagings in huwelike, is dat ons nie ons beste tyd vir mekaar (kan) gee nie. Ons beste tyd word dikwels by die werk spandeer. Wanneer ek vir nege uur lank gefokus moes werk, is my eerste reaksie om by die huis af te skakel. Dit is ook goed so. Maar om in so ‘n mate af te skakel dat ek nie met my man/vrou (en kinders) kan connect nie, het in die langtermyn verrykende gevolge.

Praktiese wenk: kies om vir ten minste 20 minute per dag gefokus met mekaar te gesels: wat het vandag gebeur, hoe het dit my laat voel, is daar behoeftes wat ek aan my maat moet verwoord? Wanneer jy klaar gepraat het, luister dan met dieselfde intensiteit.

2. Jammer is nie ‘n vloekwoord nie.

Een van die wonders van die huwelik is wanneer twee gebroke mense dit aan mekaar gun om nie perfek te wees nie. Jammer-sê raak dan al hoe makliker.

Praktiese wenk: Oefen om onvoorwaardelik jammer te sê; sonder enige verduidelikings of die woord ‘maar’ in jou verskoning.

3. Wees eerlik…altyd!

Ons natuurlike neiging is om soms dinge van mekaar te weerhou; nie noodwendig omdat ons wil oneerlik wees nie, maar omdat ons mekaar wil beskerm of omdat ons nie ons gebrokenheid wil wys nie. Net soos wat man en vrou mekaar naak ontmoet wanneer ons liefde maak, so moet ons nie emosies, behoeftes of foute vir mekaar wegsteek nie.

Praktiese wenk: wanneer die versoeking groot is om nie 100% eerlik te wees nie, vra jouself af: “Hoe gaan my oneerlikheid ons help om te groei?”

4. Geniet die lewe saam!

Die lewe het genoeg uitdagings dat die huwelik nie soos ‘n uitdaging hoef te voel nie! Doen nou en dan lawwe dinge saam, lag vir en saam met mekaar, maak tyd om te rus, geniet mekaar!

Praktiese wenk: maak weekliks (of soos wat jou konteks toelaat) ‘n afspraak met mekaar om op ‘n date te gaan en wees kreatief!

Die huwelik is deur God ingestel as ‘n geskenk, nie ‘n vloek nie. Doen moeite met jou huwelik, en pluk die vrugte!

Recent Posts
bottom of page