top of page

vervolg.... HELP MY EN MY GESIN – ONS STRES!

Lectio Divina Beginsel

Die Lectio Divina is ‘n beginsel van stiltetyd / Bybelstudie wat kom uit die vroeë Christenkerk wat deesdae al hoe meer veld wen. Die lectio Divina word beskryf as ‘n manier om van God se teenwoordigheid in die oomblik bewus te word deur die Skrif / die Woord te bid. Dit strek anderkant net verstaan. Dit is al beskryf as die gebed van die hart.

Stilte

Eers het jy nodig om stil te word in die teenwoordigheid van God. Daar is verskillende maniere wat jy kan kies om dit te doen. Die manier wat goed werk kan voorgestel word met drie sirkels:

1. Die groot buitenste sirkel is om net stil te word om jou omgewing te hoor en in te neem deur jou oë te sluit, op jou asemhaling te konsentreer, stil te word en bewus te word van die geluide in jou omgewing bv die voëlgeluide, ‘n hond wat blaf (hier sal dit dalk ‘n leeu wees wat brul!), die asemhaling van iemand naby jou.

2. Dan het jy nodig om in die tweede sirkel na binne jouself te fokus. Word nou meer bewus van jou asemhaling, word bewus van hoe jy kan ontspan in elke liggaamsdeel: jou voete, bene, onderlyf, bolyf, nek, gesigspiere, skouers, arms en hande; dalk word jy bewus van ‘n vorm van ongemak in die posisie wat jy sit – stel dit reg deur te skuif of anders te sit of die ontspanning daarheen te laat vloei; word nou bewus van jou emosie – hoe jy voel; as dit positief is soos ‘n gevoel van vrede, blydskap of harmonie ervaar dit en bly by dit; as dit negatief is soos iets wat jou bekommer of pla of irriteer – laat dit gaan en gee dit vir God om namens jou te dra.

3. Dan is jy gereed om na die binneste sirkel te gaan naamlik God self, die teenwoordigheid van God. Jy sou dit kon doen deur net jou Naam vir Hom, byvoorbeeld God, Here, Jesus, of Vader met elke in – en uitaseming in jou gedagtes of saggies oor jou lippe te sê. Vra God om jou deur hierdie gedeelte in die Woord te praat.

Lectio Divina beginsels

Dan gaan jy na jou teksgedeelte. Jy is dalk besig met ‘n dagstukkie boek, ‘n Bybelstudie, jy lees dalk ‘n spesifieke boek in die Bybel (ek het onlangs deur die hele Johannesevangelie gewerk) of jy het in ‘n preek of praatjie ‘n gedeelte uit die Skrif gehoor waarna jy weer wil kyk. Dit kan ‘n vers of ‘n hele perikoop of ‘n hele psalm wees – jy word eintlik gelei hoeveel om te lees. Jy moenie verplig voel om die hele gedeelte te lees nie. Kom ons neem hier as ‘n voorbeeld die bekende Ps 121.

  • Ek lees dit die eerste keer net om ‘n oorsig te kry.

  • Daarna gaan ons dit vir ‘n tweede keer lees sodat jy net een woord of frase daaruit kan kies wat met jou hart praat.

  • Ons gaan dit vir ‘n derde keer lees sodat jy kan seker maak.

  • Jy behoort nou die woord of frase wat jou die meeste aangeraak het, te hê.

  • Vra jouself nou af wat hierdie woord nou, op hierdie stadium van jou lewe, vir jou beteken.

  • Vra jouself af wat jy daarop antwoord.

  • Gaan nou in gebed daarmee na God toe.

Recent Posts
bottom of page