top of page

HELP MY EN MY GESIN – ONS STRES!

Riglyne in die hantering van stres

In die rivier van stres, genaamd Samelewing, kan jy en jou gesin maklik meegesleur word. Hierdie rivier het ‘n paar sytakke soos Gejaagdheid, Prestasiegedrewe, Kompetisie of Te-min-tyd. In hierdie rivier kan dit by tye voel of jou kop onder die water verdwyn en dat jy vir ‘n oomblik nie asem kan kry nie. Selfs gelowiges voel soms soos drenkelinge in hierdie stroom of rivier.

In hierdie paar riglyne ten opsigte van die hantering van stres word reddingsboeie, ‘n vlot, ‘n helpende hand uitgereik om te help met oorlewing – nee nie met oorlewing nie maar om die stres met meer kwaliteit te hanteer. Om eintlik beheer van die stres te kan neem binne die groter beheer van God self sodat jy kan leef en nie geleef word nie.

As Christen loop jy ook die gevaar om tot so ‘n mate deur die rivier van stres meegesleur te word dat dit jou identiteit in Christus en jou getuieniskarakter skade kan doen. Jy het dalk nodig om die reddingsboei te gryp; op die vlot te klim of die helpende hand te neem. Dalk het jy net nodig om op te hou met water trap en in meer vertroue stil op jou rug te draai sodat die Stroom jou na ‘n beter plek kan laat dryf…

Met stres kan ‘n klein aanpassing in jou lewenstyl, benadering, strategie of hantering ‘n groot verskil maak…wat die verskil tussen blote oorlewing en meer oorvloedig leef kan wees.

  • Moenie onverhoeds betrap word nie - wees sover moontlik eerder voorbereid / gereed vir wat kan gebeur.

  • Behou sover moontlik die beheer deur middel van struktuur, roetine en beplanning - die gedagte is dat jy in beheer moet wees en nie jou stes in beheer van jou nie.

  • Sien die klein dingetjies in die lewe weer raak - die sonsondergang, die verandering van die seisoen, die rots of die bos. Dit is dikwels God se manier om jou deur die skepping te versorg en te versterk.

  • Gesonde etes drie maal per dag. Ons dieetkundige op die span gaan vir ons meer inligting daaromtrent verskaf.

  • ‘n Vorm van oefening ten minste drie keer ‘n week, dus min of meer elke tweede dag. 30 minute gaan stap, fietstrap, in die buitelug aktief iets doen, krieket speel met die kinders. In die VSA het navorsing getoon dat drie keer per week se oefening vir 30 minute lank voldoende vir gesonde streshantering blyk te wees.

  • Kry genoeg slaap in - ongeveer agt ure per nag.

  • Hou denke positief en gefokus. In ‘n latere bydrae sal ek meer lig werp op spesifieke strategieë wat in hierdie verband kan help.

  • Wees selfgeldend teenoor ander wanneer nodig - jy het dus die reg om te sê: “ek kan nie; ek wil nie; nie vandag nie”. Dit is wanneer jy vir alles en almal “ja” sê wanneer die rivier jou begin meesleur op ‘n manier wat jou soos die slagoffer sal laat voel.

  • Neem van tyd tot tyd kort breke, byvoorbeeld ‘n halfuur in jou dag, ‘n naweek, ‘n langnaweek of kort vakansie. Neem ten minste een keer per jaar ‘n langer vakansie van ten minste twee weke ten einde heeltemal te ontspan of af te skakel van jou werk.

  • Handhaaf te midde van ‘n besige / gejaagde roetine effektiewe kommunikasie met mekaar as egpaar deur middel van die nakoming van ‘n daaglikse afspraak(tyd) met mekaar; om te praat oor dagbeplanning; los vir mekaar notas of stuur sms’e vir mekaar wat meer as net blotereëlings behels.

  • Tydens badtyd kan jy ‘n kers laat brand of jy kan haar / sy voete met room insmeer...

  • Speel rustige musiek wanneer julle saam kos maak.

  • Selfontspanning - dink in jou gedagtes terwyl jy op ‘n toepaslike tyd of plek ‘n ontspanne posisie inneem, aan ‘n plek van veiligheid en ontspanning waar jy jouself kan toelaat om net te wees; te ontspan en veilig kan voel.

  • Kom vir ‘n oomblik tot stilstand. Haal vir ‘n jaar lank bewustelik elke dag drie keer diep asem – nie op ‘n inspannende manier nie. Ervaar elke asemhalingsteug as ‘n wonderlike geskenk van jou liggaam aan jou…

  • Daar gaan nie altyd tyd wees vir stiltetyd nie, maar maak doelbewustelik tyd vir stiltetyd. Alleen en of saam as egpaar en gesin bid, Bybellees, besin en sommer net stil word. Maak God weer die sentrum / kern in jou lewe waarom alles draai en in wie se krag jy jou stres oorwin.

  • Hieronder volg ‘n artikel wat handel oor die drie sirkels waarbinne jy kan stil word; asook die Lectio Divina as wyse om stil te word met die Woord van God.

Recent Posts
bottom of page