top of page

Stres hantering

Stres is ‘n onvermydelike – en nodige – deel van elkeen van ons se lewens. Wanneer ‘n mens uitgedaag word, ervaar jy stres – en ons almal weet dat uitdagings nodig is vir groei. Stres per sé is nie skadelik vir ‘n mens nie, maar wanneer stres oormatig word, of langdurig voortgaan, of wanneer die stres wat ervaar word negatief op ons lewens inwerk is dit skadelik.

Kom ons aanvaar dus dat stres deel is van ons lewens. Die geheim is dan om te sorg dat jy in beheer is van die stres wat jy ervaar, dat jy die stres bestuur en kanaliseer en sorg dat jy sonder letsels anderkant uitkom. Hoe sorg ons hiervoor?

Die volgende wenke kan deur elkeen van ons toegepas word om te probeer keer dat stres in ons lewe kommerwekkende afmetings aanneem.

Wees goed vir jouself:

  • Ken tyd aan jouself toe wat werk-en-verantwoordelikheid-vry is, dus ek-op-ek tyd. Doen aangename dinge soos koffie drink, in die winkels rondstap, fliek, boek lees...

  • Skakel soms af, jy hoef nie altyd produktief besig te wees nie

  • Raak betrokke by ontspanningsaktiwiteit saam met familie, vriende of selfs vreemde mense met gedeelde belangstellings

  • Beplan vakansies met bewustheid

Laat ander toe om vir jou goed te wees

  • Bespreek probleme met ander mense in jou lewe.

  • Deel jou situasie met ander en tree in gesprek dat julle by mekaar kan leer

  • Omring jou met ondersteunende mense.

Wees eerlik met jouself en ander

  • Leer ken jouself regtig

  • Erken jou tekortkominge en die probleme waarmee jy te doen het

  • Bespreek jou probleme met ander betekenisvolle mense in jou lewe

  • Wees openlik oor jou emosies en menings

Pas jouself en jou liggaam op:

  • Sien om na jou fisiese welstand en gaan gereeld dokter toe

  • Bly fisies aktief

  • Sorg dat jy genoeg slaap

Stel duidelike grense:

  • Stel duidelike grense vir jouself, vir ander en tussen jouself en ander

  • Erken jou eie beperkings en respekteer dit

  • Leer om nee te sê vir versoeke – sonder om skuldig te voel daaroor

Beskerm jouself met pro-aktiewe optrede:

  • Spreek situasies aan voordat dit ernstig raak

  • Spreek jou probleme aan en moet dit nie probeer ontken nie

  • Moenie uitstel nie, doen dinge wat gedoen moet word dadelik

  • Laat die werk se probleme by die werk en die huis se probleme tuis

Bemagtig jouself:

  • Kweek ‘n humorsin – of ontwikkel jou bestaande sin vir humor

  • Leer lewensvaardighede aan deur met ander te praat en by ander te leer

  • Oorweeg ‘n gereelde geestesgesondheidsdag waarop jy vir jouself iets reël wat jou as persoon sal ontwikkel

  • Organiseer jou lewe doelbewus, maak voorsiening vir werk, vir persoonlike verpligtings en vir ontspanning

  • Gradeer jou verpligtings volgens relevansie en belangrikheid.

Ontwikkel jouself:

  • Leer ‘n nuwe vaardigheid aan

  • Doen dinge op nuwe maniere

  • Wees doelbewus positief

  • Ontwikkel strategieë vir effektiewe tydbenutting en vir die bereiking van die verlangde resultate

Natuurlik kan ‘n mens nie sommer so sito-sito al hierdie dinge implementeer nie, maar begin met een of twee en brei jou lysie uit. Die resultate maak dit ongetwyfeld die moeite werd.

Recent Posts
bottom of page