top of page

Kwanti-tyd vs Kwali-tyd

As jy meer van enigiets sou kon hê, wat sou dit wees? Dalk meer geld om die nuwejaar mee te begin, miskien meer geduld met jou kinders of kollegas. Een ding wat min mense meer van soek, is gewig!

Die meeste van ons wens dat ons meer tyd gehad het. Dit sou darem die lewe baie vergemaklik het as daar altyd genoeg tyd was vir alles: genoeg tyd om my werk sinvol te doen, genoeg tyd vir my huweliksmaat, vir my

vriende, my kinders en natuurlik om so nou en dan te rus.

Die probleem met ons tyd-tekort is dat dit ons dikwels laat met skuldgevoelens. Ons voel soms soos ‘n mislukking as werker, eggenoot, of ma of pa. Skuldgevoelens gaan nie ons omstandighede verander nie. Inteendeel, ons mors selfs nog meer van ons kosbare tyd en energie deur te verval in negatiewe denkpatrone.

Wanneer ons oor tyd gesels, is daar twee basiese uitgangspunte wat ons kan volg:

  • Maak ‘n drastiese verandering

Dit gebeur soms dat daar ‘n tyd kom waar ‘n groot skuif nodig is. Dalk weet jy byvoorbeeld dat jou werksomstandighede nie sommer gaan verander nie, maar jou huwelikstatus mag dalk as daar nie wesenlike verandering in jou dagboek en roetine plaasvind nie. ‘n Drastiese skuif word nie sommer op die ingewing van die oomblik geneem nie. Daarom is dit in so ‘n geval wys om te bid vir wysheid en ‘n ervare vertroueling te benut as klankbord.

  • Maak klein veranderings

Die meerderheid van ons kan met relatiewe min inspanning en kreatiwiteit die kopskuif maak vanaf kwantiteit na kwaliteit. Jy mag dalk nie na jou sin genoeg tyd hê vir alles wat vir jou belangrik is nie, maar met min moeite en klein veranderings kan ons die kwaliteit van ons belangrike verhoudings aansienlik verbeter.

Byvoorbeeld: om te kies om gereeld vir jou huweliksmaat te sê dat jy haar/hom waardeer, of om elke dag vir vyf minute jou onverdeelde aandag aan jou kind(ers) te spandeer, kos niks en vat nie baie tyd nie.

Probeer dit hierdie week: kyk na jou dagboek, skryf ‘n idee of twee neer wat die kwaliteit van ‘n verhouding/s gaan verbreed. Jy sal nie spyt wees nie!

Comments


Recent Posts
bottom of page