top of page

GESONDE LEWENSTYL BEGIN IN JOU KOP!

Jesus het in die Bybel gesê Hy is die Brood van die lewe. Brood??? Vandag worstel die moderne samelewing met brood – bron van alle dieet euwels; sal dit glutenvry wees of ‘n styselvrye “banting” nommertjie?

Jesus wat die verlede, hede en toekoms ken, sou tog nie brood die metafoor van ewige lewe gegee het as dit so ‘n onding sou wees nie? Ons is dit eens dat baie hedendaagse siektes te wyte is aan ons lewenstyl, maar wetenskaplikes soek ‘n sondebok te blameer; tannie Sus sê dis haar skildklier en oom Piet meen dis sy gene. Dit is nie moeilik om te verstaan dat ‘n oormaat koeldrank, skyfies of te groot porsies kos skade aanrig nie, maar die wortel van die kwaad lê dikwels in ons kop.

Waarop ek sinspeel is om op ’n ander manier te kyk na ons eetpatroon en nie die probleem elders te gaan soek nie, maar binne in my eie denkpatroon.

Geen dieet; wonder dieet, kitsdieet, frats dieet, glutenvry of “banting” spreek die psigiese rol van kos in mense se lewens aan en hoe om jou gedrag te verander nie.

Wat bepaal my keuses rondom voedsel; hoekom eet ek te veel?

Feit: Die Here het kos geskape met die primêre doel om ons liggame te voed vir goeie gesondheid, groei en herstel van weefsel .

Dink bietjie hieroor: Wat is kos se rol in my lewe – is kos my baas? Wat motiveer my keuses - emosionele redes, sosiale redes of die fisiese beskikbaarheid van versoekings? Wat is die voedingsrede om vir jou kind skyfies in te pak skool toe? Al gedink oor die voedingswaarde van wegneemetes ? Maak ek 95% van my voedselkeuses uit ‘n gesonde oogpunt?

Die goeie nuus is dat ek my gedrag rondom eet en voedsel keuses kan verander as ek weet wat my optrede bepaal en permanent beter keuses kan maak . Natuurlik dra dit by dat my gesondheid verbeter en ek ‘n gesonder massa ook kan handhaaf.

Deur die verloop van die jaar gaan ons bou aan gesonder gesinne en sal ons verskillende aspekte rondom voedselkeuses aanspreek bv. beplanning en tydsbestuur, emosionele eetpatrone, motivering en gesonder voedselkeuses. Kry jou kop solank aan die dink, want enige gesonde dieet se sukses word deur gesonde denke bepaal.

Gesondheid!

Comments


Recent Posts
bottom of page