top of page

Ons storie

Ek het vir Pieter as "Vleisie" leer ken op Saasveld. Hy was 'n baie oulike en vriendelike boerseun wat die afkap van bome geswot het terwyl ek die bewaring daarvan ter harte gedra het...maar ongeag kon ons 'n hond uit 'n bos saam kuier as net vriende. Nadat ons klaar geswot het het ons paaie geskei en kontak was min wat later verdwyn het. Jare het verby gegaan waar ons onbewus naby aan mekaar gewoon en werk het - tot op 'n dag in Makro, Nelspruit, waar ons in die Tuin-afdeling mekaar vir die tweede keer "ontmoet" het. Met sy bosbou khakis het hy my knieë lam gemaak soos geen ander nog ooit kon nie. Ek was 'n ander mens na daardie dag. Na ons ontmoeting kon my hart nie ophou bokspring nie en ek weet syne ook nie. Vinnig het ons besef dat daar geen beter gevoel is as liefde nie, om dit uit te straal en dubbel en dwars te ontvang.

Op daardie stadium het ek in die Kruger wildtuin gewerk - 'n lewenslange droom vir hierdie natuurliefhebber, soos wat almal my van kleins af ken. Aan die begin van my loopbaan in die park en vier maande voordat ek en Pieter mekaar raak geloop het, het ek in ‘n droeë rivierbed naby Skukuza gaan sit en in my joernaal geskryf wat meestal gehandel het oor hoe dankbaar ek is vir geleenthede in die verlede wat gelei het tot die hede. Ek het afgesluit met ‘n geskrewe gebed wat dankie sê vir die toekoms, maar spesifiek vir die man vir wie ek eendag die wildtuin sal opgee.

Sjoe, hoe baie sien ek uit na ‘n wildtuin vakansie… Pieter, my hartsgebed het waar geword die dag toe ek jou ontmoet het. 

Die vrou wat Pieter se hart gesteel het:

Die lewe werk soms snaaks, veral as dit kom by liefde! Nou, ek’s mos maar n boerseun so gemaak en so gelaat staan. Ons boerseuns is maar plat op die aarde mense! Ons is still van geaardheid en is tevrede met dit wat die Here vir ons gee. Nou, Tanja, sy is die persoon wat als in my lewe ophelder; sy is die persoon wat vir my gestuur is! Ons paaie het nie van dag een gekruis nie, nee! Dit het ons n goeie sewe jaar gevat! Ek en Tanja het ontmoet deur vriende op Saasveld waar ons saam geswot het. Tanja was nie net altyd iets vir die oog nie, maar het n warm en liefdevolle persoonlikheid gehad. Sy was nog altyd n bok vir sports en het nie 'n bang haar op haar kop gehad nie. Na universiteit het ons kontak verloor en op 'n dag - 'n dorpsdag - loop ons mekaar in Nelspruit Makro se tuinafdeling weer raak waar sy aandagtig staan en kyk na kraan toebehore. Op daai oomblik toe ek vir Tanja sien, het ek geweet hier's moeilikheid! Iets in my het begin bokspring soos n klomp jong lammers bymekaar. Tanja was op daai stadium in die Kruger en ek buitekant Nelspruit op plantatsie, so die afstand was wyd! Die liefde in my het gestraal vir almal om te sien en die liefde wat ek vir Tanja ontwikkel het, het die wildtuin soos n klipgooi van my af laat voel. Ons het nie n naweek sommer laat verby gaan sonder om mekaar te sien nie. My vriende en familie het altyd vir my gesê: "vir elke pot is daar 'n deksel." In die Bybel staan daar in Genesis 2:18 – 22: "dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas." So het ek besef dat Tanja nie net my deksel of my hulp is nie, maar die een saam met wie ek 'n huwelik wil begin. Jy is die liefde van my lewe, die een saam wie ek oud en grys wil word. Vir jou is ek ongelooflik lief.

Tanja se ridder op die witperd:
bottom of page